‘Ficksburg-skieter’ gee sý weergawe

Evan Sorour is tydens die voorval doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy Evan Sorour van Ficksburg in die Vrystaat doodgeskiet het, bly tot minstens volgende week agter tralies.

Rudi Gericke se borgtogaansoek is Donderdag gedeeltelik in die landdroshof op Ficksburg aangehoor voordat die saak tot Dinsdag uitgestel is. Beurtkrag het die hofverrigtinge effens vertraag.

Gericke kon nietemin vanmiddag sy weergawe van gebeure aan die hof vertel. Volgens dié weergawe  het Sorour vir Gericke op 8 Januarie eerste geskiet voordat hy uit noodweer teruggeskiet het.

Sorour is glo vyf keer geskiet en het op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk. Sorour se pa, Reuter, is glo ook erg deur Gericke aangerand.

Gericke is tydens die voorval in die heup gewond.

Die skietery spruit uit ʼn beweerde geskil oor vee wat ʼn heining beskadig het, maar volgens familievriende van die slagoffers besit die verdagte nie eens vee of selfs die plaas waar die voorval plaasgevind het nie.

Toni Barrett het intussen gesê meer as 60 mense het vandag by die hof opgedaag ter ondersteuning van Sorour se familie.

Barrett se man, Morgan, is een van verskeie mense wat ʼn saak van aanranding teen Gericke aanhangig gemaak het. Barrett is ook ʼn familievriend van Sorour.

Sorour se geliefdes het in die aanloop tot Gericke se borgtogaansoek ʼn aanlyn en geskrewe versoekskrif van stapel gestuur in die hoop dat die aansoek van die hand gewys sal word.

Maroela Media het vroeër berig die geskrewe versoekskrif het ten tyde van die oorhandiging altesame 265 handtekeninge bevat, terwyl kort duskant 10 000 mense die aanlyn versoekskrif onderteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Die feit dat hy hom 5 keer geskiet het word algemeen in die howe gesien as overkill en nie meer die nodige geweld nie.Die ou gaan skuldig bevind word,maar is die sa tronke ‘n genoegsame straf ,definitief nee.

whatever ·

En die feit dat hy die jong man se motorfiets probeer uitbrand het om van bewyse ontslae te raak?? – Ek weet nie of mens moet glo hy het nie eerste geskiet nie. Probleemkind hierdie een

George ·

Mense moet kalmeer. Ek sien dit daagliks in verkeer ook, mense werk hulle vreeslik op, en sommiges weet nie wat om met dit te doen nie, dan draai hulle na geweld.

melaney ·

Stem saam. Absolute woede en onverdraagsaamheid wys op die gesigte van meeste bestuurders gesien word terwyl hulle agter die stuurwiel sit. Hulle lyk soos ‘n tydbom opsoek na ‘n plek om te gebeur.

Perdeby ·

Wat die skieter se weergawe is, maak regtig nie saak nie. Hy het die persoon 5x geskiet, so hoe gaan hy dit regverdig?? Dit blyk ook uit vorige berigte dat die man al voorheen ‘n paar keer by ggeweld betrokke was. Hierdie is overkill, en gaan nie wegkom daarmee nie.

Eclectus ·

Elke storie het vier kante. Myne, joune, die waarheid en die persepsie.

Pampoen ·

Dit was ‘n argument. Niemand moes ‘n wapen uitgehaal het nie. Niemand moes geskiet het nie en niemand moes teruggeskiet het nie. Altwee is skuldig. Nou is een dood. Die ander een moet maar in die tronk gaan sit.

JohanR ·

Geskil en dan kom die gewere uit. Kon hulle mekaar nie ‘n paar maal met die vuis geneuk het, dan sou een nog vandag gelewe het, en die ander sou nie in die hof wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.