Fidelity-wagte in Oos-Kaap doodgeskiet

(Argieffoto: Fidelity/Facebook)

Twee Fidelity-sekerheidsbeamptes is Dinsdag in Gqeberha in die Oos-Kaap doodgeskiet terwyl nog twee ernstig beseer is. Die beamptes was in hul motor toe hulle omstreeks 11:20 aangeval is.

Wahl Bartmann, hoof- uitvoerende beampte van die Fidelity-groep, sê die beamptes was besig om die Joe Slovo-woonbuurt te patrolleer toe ʼn onbekende aantal aanvallers op die voertuig toegesak het.

Volgens Bartmann het die aanvallers skote op die Fidelity-motor afgevuur. Die bestuurder van die motor het probeer wegjaag terwyl die beamptes in die voertuig teruggeskiet het.

Die beamptes is egter almal gewond en die bestuurder sowel as nog ’n beampte is op die toneel dood verklaar. Die ernstig beseerde beamptes is na die Mercantile‑ en Greenacres-hospitaal vervoer en is tans in ’n bedenklike toestand.

Bartmann sê Fidelity se bestuurspan in Gqeberha en die polisie is onmiddellik na die toneel ontplooi.

“Ons innige meegevoel gaan uit na die naasbestaandes van die oorledenes. Ons het oor die afgelope week verskeie aanvalle op ons beamptes en voertuie beleef. Dit is die derde aanval in ’n kwessie van dae.

“Die voorvalle vind toenemend plaas en daar is ’n absolute minagting vir ’n ander se lewe. Hierdie sinnelose verlies aan lewens is onaanvaarbaar,” het Bartmann gesê.

Hy het lede van die publiek versoek om enige inligting by Fidelity aan te meld. Dit kan by 011 766 6061 of 083 939 0300 gedoen word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hayntjie ·

Die laaste frontlinie wat ons beskerm word ook nou aangeval. Ons is onder beleg deur boewe. Hierdie kultuur moet vinnig in die kiem gesnoer word. Die sekerheid maatskappye was nog altyd ons gemoedsrus. As die hele gemeenskap betrek word om onskuldige mense aan te val en dood te maak is daar ʼn baie groot skroef los. Die ANC wat ons land regeer is korrup en vrot in hulle geledere. Gemeenskappe sal eerder by mekaar moet staan en hande vat teen boewery. Ons manne in uniform , staat of privaat, moet ondersteun en beskerm word.

Casper ·

Oompie met die hoed en jy sê misdaad is onder beheer onder jou leiding.Jy lieg mos verskriklik veral as jy jou eie mense wil dood maak om die geraamtes in jou kas te hou laat hulle nie uitval nie.

Anel ·

Sterkte aan hierdie mense se families. Hulle offer ook baie op vir ‘n baie ondankbare werk! Dankie, ANC!!!!

Vanessa ·

Die misdadigers regeer die land. Dis skokkend. Onskuldige mense sterf elke dag. Dit ruk handuit.

Miskruier ·

Dit terwyl hul n brood afleweringsvoertuig begelei. Siek. Kyk die paaie.

Maritza ·

Wonder of die omstanders hulle geroof het na die skietery? Dis mos deesdae die doen ding

Dries ·

Die owerhede weet nie hulle land is in n oorlog gewikkeld nie. Besig om koek te vreet en name te verander.

Swerwer ·

Die is ‘n klomp lae lakke wat mense aanval wat hul werk verrig. Wys maar net weer dat hierdie Kommunistiese Regering hierdie land onbeheerbaar maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.