Fort Hare-saak: Werknemers onder verdagtes

Die Universiteit van Fort Hare. (Argieffoto: SA Gov News/Twitter)

Senior werknemers van die Fort Hare‑universiteit in die Oos-Kaap is onder die vyf verdagtes wat Dinsdag op aanklagte van moord en korrupsie in die hof verskyn het.

Dit is nog nie bekend hoeveel van die verdagtes by die universiteit werksaam was en watter poste hulle beklee het nie. Die polisie sal na verwagting binnekort ʼn verklaring in dié verband uitreik.

Lirandzu Themba, polisieminister Bheki Cele se woordvoerder, sê die mans sal in aanhouding bly totdat hul saak weer op 6 Mei aangehoor word. Hulle sal na verwagting dan formeel om borgtog aansoek doen.

Die mans se inhegtenisneming en verskyning volg ná Januarie se sluipmoordaanval op prof. Sakhela Buhlungu waarin sy lyfwag, Mboneli Vesele, dood is. Peet Roets, die universiteit se vlootbestuurder, is in Mei verlede jaar vermoor.

Buhlungu het Dinsdag buite die hof gesê die universiteit het groot waardering vir die toewyding en professionaliteit van die taakspanne wat by die ondersoek betrokke is.

Die professor is ook oortuig dat nog mense, benewens die vyf verdagtes, by die misdade betrokke is.

“Dit kan nie wees dat hierdie vyf mense nie bystand en ondersteuning gehad het nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.