Foto’s: Brandspanne beveilig historiese geboue teen vlamme

(Foto: Drakenstein Farm Watch, Facebook)

Die vinnige optrede van brandbestryders het verhoed dat ʼn veldbrand wat op ʼn historiese wynplaas in die Paarl uitgebreek het, groot skade aanrig.

Die brand het Woensdag omstreeks 01:00 in die veld op die Libanon-wynplaas uitgebreek. Die oorsaak van die brand is nog onbekend, maar die plaaseienaar vermoed die brand is met opset gestig.

(Foto: Drakenstein Farm Watch, Facebook)

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, algemene bevelvoerder van die Drakenstein Farm Watch (DFW) se brand‑ en reddingspan, het die brand vinnig in die veld versprei en aandag getrek met meter hoë vlamme wat die laaghangende wolkbasis oranje gekleur het. Mense kon dié verskynsel vir kilometers ver sien.

“Die DFW se brand- en reddingspan en ʼn private brandbestrydingsentiteit in die Paarl is om 01:14 van die brand in kennis gestel deur ʼn DFW-bevelvoerder in die Libanon-plaasgebied. Volgens die bevelvoerder was die brand buite beheer en verdere bystand was nodig,” sê Van Leeuwen Boomkamp.

“Die doel was om die kosbare wynwingerde van die brand te red en om te keer dat die vlamme verder in die veld en na buurplase versprei.”

Die DFW het drie 4 x 4-brandweerwaens en drie SUV-kruiserspanne ontplooi en brandbestrydingspanne op die grond het strategiese posisies ingeneem om die vuur te omsingel.

“Die brand is teen 03:15 ten volle onder beheer gebring en die brandbestrydingspanne kon huis toe gaan om die laaste paar uur se slaap vir die nag in te kry.

“ʼn Lieflike (en nodige) reënbui het toe uitgesak net toe die spanne vertrek.”

Van Leeuwen Boomkamp sê die veld waar die brand uitgebreek het, is heeltemal afgebrand en ʼn paar rye wingerde is in die brand beskadig.

“Gelukkig was daar nie wingerde in die veld waar die brand ontstaan het nie.”

Die opstal word as van historiese waarde beskou met die hoofhuis wat dateer van 1884. Twee ouer huise staan ook op die plaas, maar dit is onseker wanneer dié huise gebou is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Dit werk SO. Nie altyd maar dikwels. As jou huis, gebou as n historiese gedenkwaardigheid verklaar is mag jy nie sonder toestemming veranderinge aanbring nie.
Onthou ons is nie noodwendig almal mal oor historiese geboue nie. Jy wil dalk iets anders op jou grond bou. So jy kry nie toestemming, maar iemand het n vuurhoutjie.

Harley Davidson ·

Dit is terorisme, hoe vinniger die weskaap kan afstig en sy eie republiek vorm hoe beter.

Ettienne ·

Stem saam met Harley. Die brande, die riool op die strande ook. Alles deel van lae intensiteit sabotasie om die Wes-Kaap te destabiliseer. Dit sal natuurlik vererger indien die Kaap onafhanklik word …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.