Foto’s: Eerste sneeu in 50 jaar hiér aangeteken

Inwoners van Kimberley was in ekstase oor die ligte sneeu wat Donderdag daar geval het (Foto: Verskaf)

Sneeu in Kimberley, gevriesde swembaddens in Bloemfontein en ys wat aan bome “groei” in Polokwane. Dit is prentjies wat talle Suid-Afrikaners hierdie week begroet het toe ʼn  kouefront landwyd temperature Donderdag en Vrydag tot ver onder vriespunt laat daal het.

Suid-Afrikaners het Vrydagoggend vir Maroela Media vertel hulle het lanklaas só koud gekry.

Twee kouefronte het vandeesweek die land getref en het steeds groot gedeeltes van die land in ’n ysige greep. Berge in die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap en dele van die Lesotho-berge was teen Donderdag toegesneeu. Sneeu het nog deur die loop van die nag tot Vrydagoggend in hierdie hoogliggende gebiede uitgesak.

Wat Suid-Afrikaners veral aan die praat gehad het, was die ligte sneeu wat Donderdagoggend in Kimberley geval het.

“Dit is die eerste keer wat ek sneeu in Kimberley beleef,” vertel Charlotte Kaplan, wat al 52 jaar in Kimberley woon.

“Die oomblik was so groot, ek het sommer begin huil van vreugde. Ek het soos ʼn klein kindjie op die gras rondgeloop. My seun sê hy het my nog nooit só in ekstase gesien nie. Die opwinding was groot en ek het op daardie oomblik nie so erg koud gekry nie. Later die dag was dit wel verskriklik koud.”

Volgens Bransby Bulo, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Kimberley Donderdag ’n maksimum temperatuur van 10 °C ervaar. ’n Minimum van -8 °C is Vrydagoggend in dié stad aangeteken.

In Petrusburg in die Vrystaat, sowat 80 km van Kimberley, is ’n minimum van -6 °C Vrydagoggend aangeteken. ’n Inwoner, wat nie haar naam wou noem nie, het aan Maroela Media vertel dat sy en nog drie inwoners se waterpype en krane deur die nag weens die koue gebars het.

Nog ’n inwoner van Petrusburg, Des Horn, vertel sy kon vanoggend die koue in elke deel van haar liggaam voel.

Die mense in Petrusburg, Vrystaat, het Donderdag en Vrydag gebibber van die koue (Foto: Verskaf)

“Dit voel beslis kouer as verlede jaar se winter. As ek twee baadjies oormekaar aanhet, dan moet dit regtig baie koud wees,” vertel Des.

Jaco Prinsloo, ’n inwoner van Bloemfontein, het ’n foto met Maroela Media gedeel van ’n stoel wat bo-op die yslaag op sy swembad staangemaak is.

“Die swembad het al in die verlede ʼn vrieslagie gehad, maar dit is die eerste keer dat dit so dik is. ’n Volwasse mens sal nie op die ys kan loop nie, maar ek skat ’n kind of ’n hond van tot en met so 20 kg sal maklik oor die ys kan loop sonder dat dit meegee,” het Prinsloo vertel.

’n Stoel staan bo-op die yslaag in die swembad (Foto: Verskaf)

Karin Kruger, ’n boer van Tweespruit in die Vrystaat, sê hulle het Vrydagoggend ’n minimum van -7°C op die plaas aangeteken.

“Alles was gevries, ons het tot 09:30 gesukkel om die trekkers aan die gang te kry. Die honde se waterbak onder die dak is kliphard gevries,” vertel Kruger.

Jacobus van Heerden, ’n boer van Polokwane, Limpopo, vertel die spilpunte, tuinslange en selfs die voëltjies se waterbakke was Vrydagoggend gevries. Hy sê boere in die omgewing se lemoene het ook gevries en ys het aan die bome gehang.

Boere in die Polokwane-omgewing in Limpopo se lemoene en suurlemoene was Vrydagoggend gevries (Foto: Verskaf)

Minimum temperature van onderskeidelik -7 °C en -5 °C is Donderdag- en Vrydagoggend op die plaas aangeteken.

Linda van der Merwe, ’n inwoner van De Doorns in die Wes-Kaap, sê haar grasperk het Vrydagoggend spierwit van die ryp gelê. Net só wit soos die sneeu op die Hexrivierberge in die verte. Sy sê dit het lanklaas só erg gesneeu.

In die Wes-Kaap het Beaufort-Wes Donderdag ’n maksimum temperatuur van 8 °C aangeteken, gevolg deur Oudtshoorn met 10 °C. In die Oos-Kaap het Cradock en Graaff-Reinet maksimum temperature van onderskeidelik 5 °C en 7 °C aangemeld.

Dit is die eerste keer in omtrent 50 jaar se tyd wat sneeu in Kimberley geval het (Foto: Verskaf

sneeu in noord-kaap (Foto: Edward Maretjies via SA Weather Service, Twitter)

Ys ‘groei’ aan bome in Polokwane (Foto: Verskaf)

Sneeu in die Swartberge, Wes-Kaap (Foto: Wesley Zeelie via Reënval SA, Twitter)

Sneeu in die Swartberge, Wes-Kaap (Foto: Wesley Zeelie via Reënval SA, Twitter)

Die Hexrivier-berge by De Doorns lê toegevou onder ‘n sneeukombers (Foto: Verskaf)

 

Ys op ‘n spilpunte in Polokwane (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sêmanet ·

Ja nê, as mens die foto’s kyk, dan dink jy nie aan die koue nie. Dis sulke mooi foto’s. As dit hier moet sneeu, boek ek definitief afsiek.

Nozi ·

Die fotos is regtig pragtig, maar dit was darem vanoggend bitter koud.

Elinette ·

Dis selfs voor mý tyd … en ek is al so oud soos Metusalag!

Eend Bessinger ·

Aggenee! Ek mis al die drama alweer… Ek het in Bloemfontein, Warmbad, Kimberley en ‘n paar ander plekke gebly wat nou onder die BAIE koue weer deurloop. Ek het sneeureën laas in die laat ’80s in Johannesburg ervaar en sneeu toe ons deur die Swartbergpas gery het so 15 jaar gelede – nie genoeg om dit ‘n ervaring te noem nie. Tog is daar ‘n klein ligpuntjie: ons bly nou in “Klein Switserland” (ook bekend as die Natalse Middellande) en daar is sneeu voorspel vir die eerste keer in jare… Hopelik kan ek vir ‘n slag sneeu regtig ervaar. Ek sukkel net ‘n bietjie met die koue hier met my ou siek lyf…

Realis Thailand ·

Die fotos is pragtig en ek mis die koue so nou en dan en net om weer te kan koud kry sal lekker wees
Die koudste wat dit hier was ,was een nag so drie jaar gelede toe dit die oggend op 16.5 C op my stoep was
Ek het n termometer daar om die temperature daagliks te kan sien
Gewoonlik is die winters hier so tussne 18 tot 34 .
SA is maar n lieflike land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.