Foto’s: FNB in rooi getooi vir EFF-viering

(Foto:
Economic Freedom Fighters/Twitter)

Die FNB-stadion in Johannesburg was Saterdagmiddag in rooi getooi met duisende mense op die paviljoene om die EFF se tiende verjaardagherdenking te vier.

Die party se ondersteuners het van wyd en syd en regoor die land gekom om tien jaar van die EFF se bestaan te vier.

Die atmosfeer was vrolik en die EFF se topleierskap het op die verhoog gedans terwyl die skare saam juig.

Duisende plakkate met EFF-leier Julius Malema se gesig daarop is hoog in die lug opgehou. ʼn Helikopter het ook bokant die stadion gevlieg met ʼn groot EFF-banier.

(Foto: #EFFTurns10/Twitter)

Die skare het gejuig toe Malema omstreeks 15:00 sy plek op die podium ingeneem het om die skare toe te spreek.

Hy het sy toespraak begin deur die EFF se Gautengse leierskap te bedank dat hulle die geleentheid gereël het.

Malema het genoem dat die FNB-stadion die laaste keer was só vol was met Chris Hani se begrafnis.

“Ons het vandag bewys dat die EFF die enigste party is wat die FNB-stadion se kapasiteit kan oorskry. Die baba wat in 2013 gebore is, is nou tien jaar oud,” het Malema gesê.

“Kamerade, ons kan nie sê dit was maklik nie. Ons het teenkanting gekry van mense wat gedink het hulle kan ons organisasie doodmaak, maar daardie einste mense het nie daarin geslaag nie. Die EFF staan steeds voort.”

Malema het ook beloftes aan die skare gemaak dat indien die EFF die regering sou oorneem, hy al die ondersteuners wat werkloos is, sal help. Ook diegene wat nie hul universiteitsresultate kan kry nie omdat hulle klasgeld skuld. “Ons gaan al julle skuld kanselleer en julle uitslae gratis gee. Ons wil hê ʼn kind uit ʼn plakkerskut moet na die beste universiteit gaan. Ons sal saam met Kuba werk om primêre gesondheidsorg van gehalte te vestig.”

Die EFF-leier het verder gesê dat wanneer die EFF oorneem, sal al die informele nedersettings geformaliseer word en toegang tot water en elektrisiteit kry. “Wanneer ons oorneem, sal ons die waardigheid van ons mense herstel.”

Malema het ook op ander kwessies in die land soos beurtkrag en misdaad gehamer.

Hy het ook ʼn beroep op Brics-leiers gedoen om nie die komende beraad in Suid-Afrika by te woon nie in solidariteit met die Russiese pres. Vladimir Poetin.

Malema het sy toespraak afgesluit deur die ondersteuners te “nooi om by hom aan te sluit terwyl hy vol hoop na die toekoms marsjeer”.

“Ek gaan ʼn sonbril nodig hê, want die toekoms is so blink. En wanneer ons oorneem, gaan ons vir hulle gratis onderwys gee, korrupsie beveg en korrupte ANC-leiers laat toesluit. Ons gaan ook ʼn einde maak aan beurtkrag. Net die EFF kan beurtkrag beëindig.

“Onder die leierskap van die EFF, sal Suid-Afrika ʼn beter plek wees.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anko ·

En daar gebeur dit weer uit volle bors. Dit is absoluut verregaande. Mense word toegesluit. Gaan daar opgetree word

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Diktator en “president for life” word geskep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.