Foto’s: Leeu kry bestraling in Pta-hospitaal

Chaos kry bestraling by die Mediclinic Muelmed in Pretoria. (Foto: Lory Park Leeu- en Uilskuiling)

Chaos, die geliefde 16-jarige leeumannetjie van die Lory Park Leeu- en Uilskuiling in Midrand, Gauteng, reageer goed op die bestraling wat hy tans vir kanker ondergaan.

Foto’s van die kolossale leeu wat bestraling by die Mediclinic Muelmed in Pretoria ontvang, is die afgelope week wyd op sosiale media gedeel – dit is immers nie iets wat jy aldag sien nie!

Lory Park sê in ʼn verklaring op hul Facebook-blad Chaos is verlede maand met velkanker op sy neus en een van sy agterbene gediagnoseer. Die velkanker op Chaos se been kan chirurgies verwyder word, maar die velkanker op sy neus moet met bestraling behandel word aangesien chirurgie sy gesig misvorm sal laat en tot ander gesondheidsprobleme kan lei.

“Chaos het op 13 April vanjaar 16 jaar oud geword. Leeus in aanhouding kan tot 22 jaar oud word en met dit in gedagte en die feit dat die veearts bevind het Chaos is andersins blakend gesond, het ons besluit om voort te gaan met die bestraling. Chaos verdien ʼn goeie kwaliteit lewe soos hy ouer word,” lui die verklaring.

Die koste daarvan om Chaos vir bestraling te stuur is enorm, maar die eienaars van Lory Park het geweet daar kan nie ʼn prys gekoppel word aan hul geliefde Chaos se gesondheid nie.

“Hy is die oudste leeu by die park en hy was die begin van ʼn nuwe era vir Lory Park. ʼn Sterk leeu met ʼn pragtige hart en die warmste oë wat jy nog ooit gesien het. Chaos is nie net ʼn leeu nie. Soos al ons diere, is hy deel van ons familie.”

Daar is egter geen sentrums in Suid-Afrika waar diere bestraling kan ontvang nie en daarom moes Chaos se eienaars private hospitale oorweeg. Mediclinic Muelmed werk ten nouste saam met Onderstepoort en het al voorheen bestraling aan diere gegee. Dit was dus vir Lory Park die voor die hand liggende keuse.

Chaos kry bestraling by die Mediclinic Muelmed in Pretoria. (Foto: Lory Park Leeu- en Uilskuiling)

Chaos is verlede week vir sy eerste van vier bestralingsessies geneem. Hy is omstreeks 10:30 by die park verdoof waarna sy logge 260 kg-lyf in ʼn krat gelaai en na Muelmed vervoer is. ʼn Volledige veeartsenykundige span het hom deurentyd vergesel en gemonitor.

By Muelmed het ʼn span hulle ingewag en vir Chaos by ʼn private ingang ontvang. Die leeu is afgelaai en na die bestralingsafdeling geneem waar die span gehelp het om hom in posisie te kry vir die behandeling. Geen lede van die publiek was naby terwyl Chaos behandel is nie.

“Die behandeling self het glad en vinnig verloop en ons veearts is toegelaat om tussendeur sy lewenstekens te monitor. Toe die behandeling klaar is, moes ons vinnig beweeg om hom terug in sy krat te kry voor hy wakker word, omdat ons veearts nie onnodig nog middels aan hom wou toedien nie.”

Teen 13:15 was Chaos terug by die park saam met sy maat, die leeuwyfie Tequila, en kon hy weer rustig rondloop en sy leeu-roetine hervat.

Die span by Lory Park is positief oor Chaos se bestraling en bly hoopvol dat hy ten volle sal herstel.

Besoek Lory Park se Facebook-blad vir meer besonderhede oor hoe om tot Chaos se mediese koste by te dra.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Erika ·

Baie dankie aan dokters en mense wat omgee vir diere en die natuur!
Hoop die leeu gaan 100% herstel….

Helene ·

Chaos ek hoop jy herstel gou! Daar is nog mense met harte. Dankie!!

KaterinaKat ·

Ag dis so mooi om te sien. Ek hoop hy herstel volkome.

Ronel ·

Wat ñ pragtige storie. Baie dankie aan almal wat sò onbaatsugtig vir CHAOS gehelp het en ook in die toekoms gaan help. BAIE STERKTE ou GROTE, byt vas,jy gaan nog gesond kom.

Jan ·

Ek hoop nie Ouman gaan sy hare verloor van die bestraling nie! Indien dit wel gebeur moet die ander leeus in die park se hare ook afgeskeer word om hom nie te alleen en selfbewus te laat voel nie.

Nico ·

Dis sekere chemoterapiemiddess wat jou die hare laat verloor. Bestraling word gewoonlik net op ‘n klein area toegedien.

Miekie ·

Chaos, hoop jy het ‘n spoedige herstel en het nie weer nodig om vir bestraking te gaan nie.
Hierdie artikel dink ek gee alle diere liefhebbers moed dat daar nog liefde en omgee vir ons land se diere is. Dankie vir almal wat gehelp het.

Dan ·

Ek wonder net wat die tipe behandelings langtermyn gaan beteken vs die natuur se gang.. Diere is immers nie gemaak vir kankerbehandelings, ens nie. Die natuur is Geskep en Geskape om sy gang te gaan, te midde van menslike vooruitgang/ tegnologie. Sal graag ‘n kenner se insae wou kry hierop..

Adam ·

Dit sal wonderlik wees as mense soveel vir mekaar omgee as wat hulle vir diere doen.

MS ·

Ek is liewer vir diere as mense, want diere het nog nooit my hart gebreek of teleurgestel nie.

Attie. ·

Ruil die kankerleeu vir een wat geblikjag gaan word, so spaar almal en die jong leeu leef langer want die kankerpasient sterf in sy plek. Hoes daai vir prakties dink.

Attie. ·

Ag Elsa, ek wou maar net hoor wat jy sê. Weet jy Elsa, ons moet regtig nou begin optree teen die geblikte hoenders. Daai pragtige geel bondeltjies word 6 weke later geslag. Ek dink dis gemeen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.