Foto’s: N4-betogings ruk handuit

(Foto: Witbank eMalahleni/Twitter)

Die N4-snelweg tussen die Balmoral-wisselaar en waar die hoofweg in die N4 en N12 verdeel by eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga, was teen Donderdagmiddag steeds weens gewelddadige betogings vir motoriste gesluit.

Die betogings het Dinsdagaand begin, met inwoners wat ontevrede is oor die eMalahleni-munisipaliteit se swak dienslewering.

Volgens ’n verklaring van die munisipaliteit sit inwoners van die KwaGuqa-nedersetting en omliggende gebiede al ’n week lank sonder krag. Hulle eis met die betogings dat kragtoevoer herstel word.

Solange Soares-Nicholson, woordvoerder van Trac wat die N4-tolpad bedryf, sê albei rigtings van die hoofweg is tans vir verkeer gesluit. Polisie- en verkeersbeamptes is op die toneel ontplooi.

Alle paaie na en van Vosman is ook vir verkeer gesluit, asook die Ou Ogies-pad en Clarinetstraat na eMalahleni.

“Die wetstoepassers probeer betogings in bedwang bring en motoriste na alternatiewe roetes begelei,” sê Soares-Nicholson.

Motoriste word aangemoedig om die geraakte paaie te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Betogers versper die pad met brandende motorbande en ander voorwerpe soos klippe, sê Soares-Nicholson.

Naamborde is uit die grond geruk en vernietig.

Daar is ook berigte van vragmotors wat geplunder en aan die brand gesteek word, terwyl verbygaande voertuie en voetgangers met klippe bestook word.

Die situasie het Donderdagoggend handuit geruk toe die uitvoerende burgemeester van die eMalahleni-munisipaliteit, Connie Nkalitshana, deur woedende betogers uitgejou en weggejaag is.

Sy het die skare naby die KG Mall probeer toespreek oor die kragprobleme wat aanleiding tot die betogings gegee het.

Trac beveel die volgende alternatiewe roetes vir motoriste in die omgewing aan:

Weswaarts (in die rigting van Pretoria):

  • Ná die Middelburg-tolhek, neem die N12-snelweg waar die N4 en N12 verdeel. Neem van daar die Delmas-afrit na Bronkhorstspruit (R42), van waar die N4 weer bereik kan word.

Ooswaarts (na Maputo)

  • Neem die Bronkhorstspruit-wisselaar (R42) in die rigting van Delmas, sluit dan by die N12 aan wat net voor die Middelburg-tolhek by die N4 aansluit.

(Foto: Seakane Moela via Witbank eMalahleni/Twitter)

“Trac respekteer die reg op vreedsame betogings, soos dit in die Grondwet uiteengesit word. Ons veroordeel egter betogings wat ʼn veiligheid- en sekuriteitsbedreiging vir padgebruikers inhou en skade aan eiendom veroorsaak,” sê Soares-Nicholson.

Padgebruikers wat inligting benodig, word versoek om @TRACN4Route op Twitter te volg of Trac se 24-uur‑noodnommer by 0800 87 22 64 of 082 881 4444 te skakel.

Maroela Media het ook navraag aan die woordvoerder van die eMalahleni-munisipaliteit gerig en wag op terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Goldy ·

Hulle betoog om goeie rede maar by verkeerde plek. Plaas ons almal saamstaan en saam as gemeenskap by die regte plekke betoog, die anc kantore, burgermeester en regerende party se huis en wegkruipplekke.

Eiervrug ·

Nou te laat om tantrums te gooi. Hulle moes daaraan gedink het voordat hulle hulle kruisies getrek het…

Pieter ·

En niks gaan met hulle gebeur nie. Breek man en brand, is al wat hulle goed kan doen. Van werk weet hulle niks nie.

Delia ·

Hoe sluit jy die paaie en ontwrig wetsgehoorsame burgers. Ek wens die mense wil soos een man stem teen die ANC. Slaan waar dit saakmaak in 2024. Ai tog…ek droom weer

Heinrich ·

As hulle kan snap dat dit hulle was wat juis gestem vir dit waarteen hulle nou betoog ipv terroris terroris speel en onskuldige mense se eiendom vernietig, maar nou ja, daardie wysheid doen nie die rondte nie. Hulle onwettige beskadiging van eiendom kry mos voorkeur bo die beskaafde burger se reg om veilig op die land se paaie te wees. Viva ANC

Vonkprop ·

Hulle sal altyd vir die ANC stem, want dan het hulle iets om oor te kla. As dinge werk en niks is stukkend nie, dan het hulle niks om te doen nie so hierdie swak dienslewering pas hulle perfek.

JohanEtz ·

SA is op ñ kruitvat.
Beurtkrag van meer as 12ure per dag word nou die norm!?
Een vonkie nodig – DAN BARS DIE BOM ????????????

Koen ·

Ons wag al lank vir die vonkie. Party mense sien uit daarna. Hoop nie hulle kry seer nie.

De Villiers ·

Volgende jaar stem hulle weer vir die ANC en betoog dan weer oor dienslewering ook.

Kokerboom ·

En hul President se Regering het nie misluk met beurtkrag. Kan mens so blatant lieg?!

Koen ·

Moenie jou asem ophou nie. Sal nooit gebeur nie. Dink jy die anc sal nie sorg dat hulle die verkiesing wen al kry hulle nie 50% van die werklike stem nie. Maak oop jou oë.

Nico ·

Die weermag word na die DRK gestuur terwyl dit so gaan in SA, wanneer die mense ontevrede is dan word alles verwoes selfs die motoriste word aangeval.

Papsak ·

Stem hulle uit dis al blatante keun Ramahosa regering het misluk in kragpribleem maar in jou oe is alles honky dory kyk weer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.