Foto’s: Oorstromings in Pta weens swaar reën

(Foto: Verskaf)

Swaar reën wat sedert gister oor groot dele van Gauteng uitgesak het, het reeds chaos op talle plekke veroorsaak.

Dit lyk egter nie of die reën gou gaan skietgee nie, met die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) wat ’n oranje vlak 5-waarskuwing teen swaar reën tot Saterdagoggend uitgereik het.

Die Stad Tshwane se nooddienste is Donderdag omstreeks 13:30 na die omgewing van die Pretoriase dieretuin in die middestad ontbied waar ’n man deur die sterk strome van die Apiesrivier meegesleur is. Dit volg etlike dae nadat ʼn man se liggaam Saterdag ook naby die dieretuin uit dié rivier gehaal is nadat hy die vorige dag in die moeilikheid beland het. Dié rivier was toe reeds in vloed weens reën en storms.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die nooddienste, is die soektog na die man Donderdagaand afgelas weens swak sigbaarheid en die sterk strome van die rivier. Die soektog is Vrydagoggend voortgesit, onder leiding van die polisie se honde- en duikeenheid.

Die man se liggaam is egter nog nie gekry nie.

Die Centurion-gebied, veral in die omgewing van die Hennopsrivier, is Vrydagoggend besonder swaar deur die reën getref.

Die Hennopsrivier het weens die swaar reën begin oorloop, wat gelei het tot oorstromings en die sluiting van verskeie paaie. Twee motors was op Blackwood- en Lytteltonweg vasgekeer, met die insittendes van albei voertuie wat betyds na veiligheid gebring is.

Rabiestraat, Endlaan en Blackwoodweg was teen Vrydag vroegmiddag nog vir verkeer gesluit.

“Ons doen weer eens ’n beroep op motoriste om nie oorstroomde laagwaterbrûe oor te steek nie. Ons vra diegene wat onder brûe skuiling vind om eerder na ʼn veiliger plek te gaan,” het Mabaso gesê.

Op ’n ligter noot gons dit op sosiale media oor ’n bussie vol leerders van Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria wat Vrydagoggend in Nellmapiusweg in Centurion stilgehou het om ander motoriste te help om ’n padversperring uit die pad te skuif.

Dit volg nadat die oorstroomde Hennopsrivier deur die nag dié versperring verskuif en die pad versper het.

Die skool het die leerders op Facebook geprys. “Doen so voort manne,” het die skool geskryf.

Die weerdiens waarsku dat die aanhoudende reën verdere oorstromings van paaie en informele nedersettings kan veroorsaak.

“Dit kan tot ontwrigting van verkeersvloei lei of selfs padsluitings. Gemeenskappe kan tydelik afgesny word weens oorstroomde paaie en geïsoleerde sinkgate kan voorkom,” het die weerdiens gesê.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugene ·

Ek glo nie daars een storm waterpyp wat oop is nie. Dis hoekom daar oorstromings is.

skurweberg ·

Die sigbaarheid van besoedeling na die reen, vol besoedelde riviere en damme, hoe kan n mens steeds dankbaar wees vir reen as die mens oorsaak is vir hierdie enorme probleem. Daar word van ons verwag om dit maar net te aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.