Foto’s: Potch se strate ‘lyk soos riviere’

Kinders het in kano’s in die strate geroei (Foto: Verskaf)

“Die strate lyk soos riviere.”

Só beskryf inwoners die oorstroomde strate van Potchefstroom, Noordwes, nadat die water oornag in die Mooirivier opgestoot het. Dit is omdat baie reën die afgelope naweek veroorsaak het dat die Klerkskraal- en Boskopdam oorloop.

Inwoners durf die strate met kano’s aan en ER24 het ook met hul bootjies tot vele inwoners se redding gekom, onder wie ʼn hoërskoolleerder wat moes eksamen skryf.

Tatum O’Brien, ʼn gr. 11-leerder aan Potch Girls High School, is Dinsdagoggend deur ER24-reddingswerkers met ʼn kano by die huis opgelaai sodat sy skool toe kan gaan om eksamen te skryf.

“ER24 was absoluut fantasties en het werklik die ekstra myl vir inwoners ‘geroei’,” sê Tatum se ma, Debbie.

Strate in die Heilige Akker-, Oewersig- en Damoord-buurt was teen Dinsdagoggend heuphoogte onder water. Die water het by enkele huise tot by die voordeur opgestoot en talle inwoners is in hul huise gestrand.

ʼn Groot deel van die Mooirivier-winkelsentrum was onder water en die Fanie du Toit-sportterrein van die Universiteit van Noordwes (NWU) lyk volgens inwoners soos ʼn meer.

Volgens Debbie het die water reeds Maandagmiddag begin om in Johannes Dreyer-straat op te dam. Teen Dinsdagoggend was haar hele erf en swembad onder water.

“Ek het omstreeks 05:00 aan ons hek verstel sodat ek dit met die hand kan oopmaak. Die hek se motor was onder water. Ek het gespook by die hek toe mans met ER24-uniforms na my toe kom en hul hulp aanbied,” vertel Debbie.

“Ek het vir hulle gevra of ek met my motor uit die erf sal kom, want ek het begin bekommerd raak dat ek nie vir Tatum by die skool sal kan kry nie. Die mans het my in kennis gestel dat die water te diep is en dat ek nie sal kan ry nie.”

Die ER24-reddingswerkers het toe aangebied om Tatum te help om by die skool uit te kom.

“Hulle het vir Tatum so 06:45 by die voordeur in die kano gelaai en geneem tot waar die straat nie meer onder water is nie. Daar het Tatum se suster haar opgelaai en skool toe geneem.”

“Ek het my eie Uber vanoggend gehad,” skerts Tatum.

Elna Moodie woon al haar lewe lank in Potchefstroom en sê dit is die eerste keer dat die strate só erg oorstroom. Sy en haar gesin woon ook in Johannes Dreyer-straat, so twee huise weg van die rivier.

“Die water is reg rondom ons huis. Dit voel asof ons in die middel van ʼn swembad bly,” vertel Moodie.

Volgens Moodie het die water gistermiddag reeds erg in hul straat begin opstoot.

“Ek het teen die aand bekommerd geraak dat die water in ons huis gaan instroom, aangesien ons huis se vensters laag is.”

Die water het egter nie in die gesin se huis ingestroom nie, maar wel in hul motorhuis.

Die gesin woon reg langs die Fanie du Toit-sportterrein en volgens Moodie dreineer die sportterrein se water in hul erf in.

“Dit is hoekom daar so baie water in ons erf is.”

Moodie sê hulle sal eers werklik die skade kan bepaal wanneer die water weggesak het.

“Intussen geniet die kinders die water en vaar met kano’s deur die strate.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henry ·

Hulle moet nie water so mors nie. Stuur na ons hier in PE het ons so min water damme net 18 persent vol

Ny ·

Ek woon in Potch en dis iets om te beleef! Hoe die natuur net oorneem en die prag uitkom!!

Moedeloos ·

Dankie vir al die Helpende hande in Potch. Dit moet skrikwekkend wees.

Vonny ·

Dankie aan ER 24 en mooi rivier beskerming.
SAP en metro polisie skitter in hul afwesigheid.
What’s new???!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.