Foto’s: Skape, weiding deur slik verslind

Dit is nog nie duidelik watter impak die slik op die skape kan hê nie (Foto: Verskaf)

Dennis Louw, ʼn boer van Jagersfontein in die Vrystaat, probeer nou die stukke optel ná die wal van die plaaslike myn se slikdam gebreek en hom groot skade op sy plaas berokken het. Die plaas is sowat 10 km buite die dorp geleë.

Kenners is boonop bekommerd oor die langtermyn-uitwerking wat die slik op mens en dier kan hê, aangesien dit moontlik die drinkwater kan besoedel.

Watertoetse het daarop gedui dat die ondergrondse water in die mynskag – waarvandaan die slik kom – hoë vlakke van arseen bevat. Die water gemeng met die arseen is nie geskik vir menslike gebruik nie en is ook moontlik giftig vir diere en plante.

Louw het honderde skape verloor en van sy infrastruktuur is erg beskadig. Hy het ook groot skade aan sy weiding opgedoen en hy weet nie of die veld ooit weer ten volle sal herstel nie.

“Ná die adrenalien het die skok ons nou eers getref.”

Dennis boer met merino-wolskape en die skape se wol is sy grootste bron van inkomste.

Sy seun, CJ, wat saam met hom boer, sê die wol op die meeste van die oorlewende skape is dood en sal afgeskeer moet word. Die skape het ook nie nou weiplek nie omdat die veld onder slik lê.

ʼn Rampspoedige oggend

Louw het die oggend omstreeks 06:00 uitgegaan om die skape te voer, toe hy opmerk dat die myn besonder baie raas.

Hulle het een van die mynbestuurders in die hande probeer kry om vas te stel wat die oorsaak is, maar dié was nie by die myn self nie.

Die gesin se huishulp het kort daarna na Dennis en sy werkers aangehardloop gekom en gesê dat die damwal gebreek het.

“My pa het dadelik met sy bakkie gejaag na die skaapkamp, waar ons die meeste skape aanhou, en kon ʼn paar skape red,” vertel CJ.

“Nadat hy teruggekom het huis toe, was dit net ʼn paar minute of daar was net slik reg rondom ons huis.”

Dennis, sy vrou, Esmé, CJ en sy suster, Mirah, het op die stoep gaan staan en na die slik wat hul huis genader het, gekyk. Die huis is effens hoër as die veld gebou en die slik het nie tot bo by die huis gestyg nie.

“Ons kon niks doen nie. Ons het gestaan en kyk hoe die water afloop. Toe die water minder stroom, het ons stewels aangetrek en die slik aangepak om te kyk hoeveel skape ons kan red.”

CJ en Dennis het hordes dooie skape onder die slik aangetref. Van die skape is nog nie gekry nie en is vermoedelik deur die slik na die rivier gespoel.

“Ons weet nog nie hoeveel ons verloor het nie, maar ons vermoed honderde. Ons kon so 50 tot 60 red.”

CJ sê van die lammers wat in die slik vasgevang was, het met alle mag hulself uit die slik probeer bevry. Tot hul neuse en oë was vol slik.

Teen Dinsdagoggend was Dennis steeds besig om skape te soek. Die Gift of the Givers-organisasie het ook handjie kom bysit.

“Die organisasie het gehelp om lammers te voer en het ook antibiotika geskenk vir die skape wat deur die slik geraak is. OVK het ook gehelp met skenkings, soos pille en kos vir die skape.”

Volgens CJ is van die lammers wat deur die slik besmet is, swak en gedisoriënteerd.

Die skape en lammertjies word nou aangehou in ʼn kamp naby die huis, gegewe dat ʼn groot stuk veld wat vir weiding gebruik word tans onder slik bedek is.

Dennis se neef, Pieto, wat langsaan die Louw-gesin boer, het ook groot veld- en veeverliese gehad.

Langtermyn-uitwerking

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is dit tans onduidelik wat die langtermyn-uitwerking sal wees op landbougrond wat deur die slik bedek is.

“Boere wat die Wolwas- en Kromellenboogspruit as natuurlike veesuiping gebruik het, is nou genoodsaak om alternatiewe drinkplek vir hul vee te kry,” sê Wilken.

Volgens Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het geraakte boere aangedui dat daar ʼn onmiddellike behoefte vir waterpype, krippe en watertenks is.

Gernie Botha, hoof- uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, sê hulle is bekommerd oor die langtermyn-uitwerking wat die slik op mens en dier kan hê, aangesien dit nog nie duidelik is watter uitwerking dit moontlik op drinkwater het nie.

“In hierdie stadium is dit dalk bietjie vroeg om hieroor te bespiegel, maar dit kan in die toekoms moontlik negatiewe gevolge inhou indien giftige stowwe in die slik aanwesig is,” sê Botha.

Kyk hier hoe lyk van die weiding nou:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Diets ·

Ek wens ek was nader, dan sou ek graag met die diere wou help…

CS ·

Begin om dankbaar te wees vir een dingetjie elke dag. Ja Daar is baie fout in die land, maar begin dankbaar wees vir dit wat jy het en streef na dit wat jy wil hê.

Pieter ·

Die teenwoordigheid van arseen is baie vreemd en moet op ingegaan word. Arseen kom nie voor in kimberlietpype nie en kan slegs met dolerietintrusies in verband gebring word, alhoewel seldsaam. Volgens Mindat kom arseenminerale nie by Jagersfontein voor nie.

Die samestelling van die slik behoort nie negatief op die grond te wees nie, alhoewel dit verwyder moet word omdat dit nou te gekonsentreer is. Weet nie indien die myn chemikalië bygevoeg het nie wat dit skadelik kan maak. Diere se blootstelling aan die slik is skadelik wanneer ingeneem en veral as dit droog word en stof word.

Rocco ·

Arseen is destyds gebruik om goudstof uit die gemynde erts te skei. Baie van die slikdamme word nou weer herwin om goudstof te onttrek – die vroeër metode was nie so effektief nie

Rocco ·

Die ‘Gift of the Givers’ is ongelooflik. Altyd betrokke waar daar ‘n ramp is. Baie dankie Dr Imtiaz Sooliman en personeel

Papsak ·

Dit gebeur as n Myn in verkeerde hande belannd en nie weet hoe om op te tree nie en te kyk na alles of dit nog in werkende posisie is nie kyk hoeveel verliese van arme diere kry boere jammer sterkte

Miskruier ·

Aan alle boere wat soos ekself om dorpe en industrie moet boer. Sterkte. Suid Afrika is besig om ons te vergiftig met rook, riool, stortingsterreine en meer.

Vonny ·

GOD sèen Dennis en sy families. Dankieeee veral wat jul vir die diere gedoen het. Blessings

Chantel ·

Dit is bitter hartseer. Ons doen ons deel vanuit Kroonstad om te help al is dit met klere en of voedsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.