Fratsongeluk voor skool eis gr. 1-leerder

Curro Thatchfield in Centurion. (Foto: Facebook)

ʼn Jong kind is Woensdag tydens ʼn fratsongeluk voor ʼn gesogte laerskool in Centurion, Gauteng, dood.

Die bestuur van Curro Thatchfield, ʼn private skool, het in ʼn verklaring gesê hy is bewus van ʼn voorval wat daartoe gelei het dat ʼn gr. 1-leerder aan die skool dood is. Die kind het glo voor ʼn motor in die parkeerterrein beland.

Die noodlottige voorval het kort ná 07:00 in die skool se parkeerterrein plaasgevind.

Craig van Aswegen, eienaar van die nooddiens EMS, sê sy paramedici, tesame met TEMS911 en Netcare911, was die oggend op die toneel.

“ʼn Motoris het na bewering uit die parkeerterrein probeer ry nadat sy haar kinders by die skool afgelaai het toe die slagoffer voor die motor beland het,” sê hy.

“Die kind het erge kopbeserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.”

Die polisie was teen Woensdagmiddag steeds op die toneel en ondersoek die saak verder.

Volgens Van Aswegen is talle kinders, ouers en personeel deur die voorval getraumatiseer.

Curro het reeds beraders gekry om die leerders en personeel in hierdie tyd by te staan.

“Ons doen alles moontlik om die familie van die oorlede leerder ook by te staan.”

Ouers is kort ná die voorval in kennis gestel dat hulle hul kinders by die skool kan gaan afhaal, sou hulle dit so verkies.

“Dit is Curro Holdings se top-prioriteit om die veiligheid van ons leerders, personeel en die perseel te verseker. As sodanig volg ons elke moontlike maatreël om te verseker dat streng veiligheidsmaatreëls te alle tye op die perseel toegepas en gevolg word.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

RS ·

Tragies!
Ek dink aan die kind se gesin, sowel as die persoon wie die motor gery het.

SwartBees ·

Ek sukkel om my Pa se afsterwe te verwerk. HOE verwerk mens jou kind se afsterwe na so frats ongeluk? RIV seuna en baie sterkte aan beide families.

Mariana ·

Dis hartseer. Ongelukke gebeur in oogwink. Simpatie aan die ouers, maar ook sterkte aan bestuurder. In gevalle soos die is daar trauma aan albei kante.

Cindy ·

ai genade tog :( SO vreeslik jammer vir die kind se familie, asook die persoon wat die voertuig gery het.. RIV :(

Herman L ·

Dit is baie tragies, maar behoort ‘n graad een kind nie van ‘n volwassene vergesel te word tussen voertuie wat beweeg nie? Dit kan nie van sulke jong kinders verwag word om veilig tussen bewegende voertuie te beweeg nie.

Di ·

Dit gebeur so vinnig! Laas jaar selfde met my dogter gebeur toe sy haar kind afgelaai het by die skool. Ander kind ook voor die motor in gehardloop toe sy ry. Gevolg was kind se been is beseer en my dogter moes al die mediese kostes betaal. OUERS moet saam met hulle kinders loop tot in die skool terrein. Kinders dink nie soos grootmense nie. Innige meegevoel aan hierdie ouers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.