Soorte resepte:

FYN-proewer-restaurant in Kaap een van wêreld se beste

FYN Restaurant (Foto: The World’s 50 Best Restaurants)

Daar is ’n rede waarom fynproewers na die FYN Restaurant in Kaapstad stroom. Dié restaurant is pas as een van die 50 beste restaurante ter wêreld aangewys.

The World’s 50 Best Restaurants se ranglys is Maandag bekendgemaak en FYN is 37ste op dié lys.

FYN, wat in 2018 sy deure oopgemaak het, het verlede jaar die 92ste plek op dieselfde lys van 100 beste restaurante ter wêreld gehaal.

Die restaurant het boonop in 2019 die vyfde plek op Eat Out se top-10-lys van beste restaurante behaal en is ook as die wenner van die Eat Out VISI Style Award in dieselfde jaar aangewys.

The World’s 50 Best Restaurants, geborg deur S. Pellegrino & Acqua Panna, is ’n wêreldwye erkende ranglys van uitsonderlike restaurante uit alle uithoeke van die wêreld. Die kompetisie word deur meer as 1 000 kulinêre kenners beoordeel.

Die FYN-span word gelei deur sjef Peter Tempelhoff en sy vennote, Ashley Moss en Jennifer Hugé.

 

Volgens ’n berig in EatOut word die klante op ’n reis van geure, teksture, tegnieke en visuele wonders geneem wanneer hulle by dié restaurant, met sy kontemporêre kookkuns, aanklop. Die kaiseki-styl-spyskaart is ’n samesmelting van Suid-Afrikaanse bestanddele en Japannese kooktegnieke.

La Colombe in Kaapstad en Wolfgat in Paternoster is ook vroeër vandeesmaand as onderskeidelik die 56ste en 90ste beste restaurant ter wêreld beskou. Wolfgat het verlede jaar die 50ste plek op The World’s 50 Best Restaurants verwerf.

The Test Kitchen in Kaapstad het in 2018 ook met die 50ste plek op hierdie prestige-ranglys gespog.

Geranium in Kopenhagen het die eerste plek op The World’s 50 Best Restaurants se ranglys verower, gevolg deur Central in Lima en Disfrutar in Barcelona. Vir die volledige lys klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Dit moet ‘n belewenis wees om by so ‘n top restaurant te eet, solank iemand anders betaal haha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.