Gebou ontruim ná brand by Addington-hospitaal

(Foto: Facebook via Bradley Singh)

Altesaam 84 pasiënte, wat 25 pasgebore babas insluit, moes die Addington-hospitaal in Durban Dinsdag inderhaas verlaat nadat ʼn brand vroeër die oggend daar uitgebreek het.

Die KwaZulu-Natalse gesondheidsdepartement het in ʼn verklaring gesê die brand het kort na 08:00 op die sewende vloer uitgebreek. Verpleegsters het veiligheidspersoneel ontbied wat die vlamme met brandblussers probeer blus het totdat brandweerlede opgedaag het.

Dik rookwolke het intussen na die sale op die negende en 13de verdiepings versprei, het die departement gesê.

Die hospitaalbestuur het beveel dat die gebou ontruim word en talle pasiënte, ook kinders en pasgebore babas en hulle ma’s, die gebou moes verlaat.

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Die eThekwini-nooddienste sal die oorsaak van die brand, wat by ʼn nooduitgang uitgebreek het, ondersoek.

“Ons sal die vordering met die ondersoek dophou en as daar enige bewyse van vuilspel is, moet die reg sy gang gaan,” het Nomagugu Simelane-Zulu, die KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, gesê.

(Foto: Facebook via Bradley Singh)

“Ons wil veiligheidswerkers, verpleegpersoneel en die hospitaalbestuur, asook die eThekwini-nooddienste bedank vir die manier waarop hulle gereageer het. Danksy hul gesamentlike optrede is lewens gespaar en die skade aan die eiendom is minimaal.”

Simelane-Zulu het gesê probleme met stukkende hysbakke by die hospitaal kry ook aandag.

Vanoggend se brand het uitgebreek naby ʼn hysbak wat vir vullisverwydering gebruik word. Die hysbak was vóór die brand reeds buite werking, maar het nou selfs meer skade.

Planne om die hysbak te herstel word voorlopige opsy gesit totdat die omvang van die waterskade aan die hospitaal ná die brand bepaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Huisbak vir vullisverwydering het nie gewerk nie. Opgehoopte vullis kan brand veroorsaak. Hoop die Dept of persone verantwoordelik gaan ook ver volg word, Maar heelaas dit is SA.

Julie Jansen van Rensburg ·

Jammer om dit so kras te stel, maar toe ons nog in Durban gebly het, was Addington die “VLAGSKIP” van vele hospitale in KZN – selfs die OU weermag het van Addington se dienste gebruik gemaak, maar na 1994 het dié ook hulle lede elders laat versorg… dit vertel mens iets van hoe standaarde in hierdie eens veilige en goed-bestuurde land geval het…

Maljan ·

Sulke tragedies sal aanhou gebeur in n land waar naamsveranderings n groter prioriteit is as instandhouding van bestaande infrastruktuur. Dis n verdomde skande dat pasiënte in n hospitaal nie veilig gehou word nie. Groter prioriteit is mos web teen alle koste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.