‘Gebrek aan verpleërs maak NGV onmoontlik’

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vroeër die week gesê die kritieke en toenemende tekort aan verpleegpersoneel in Suid-Afrika is ʼn fatale swakplek in die strewe om die beoogde nasionale gesondheidversekering (NGV) in werking te stel.

Solidariteit se beroepsgilde vir verpleegkundiges en gesondheidpraktisyns het vroeër vanjaar gesê die tekort aan verpleërs in die private en die openbare sektors is ʼn ramp wat dreig om die plaaslike gesondheidsektor in ʼn krisis te dompel.

Van die probleme wat die beroep bedreig, is die aftrede van ouer verpleërs. Die departement van gesondheid ervaar ook ernstige finansiële probleme wat daartoe lei dat sleg 50% van poste by openbare hospitale en klinieke gevul word.

Volgens Hennie Bierman, hoof van die beroepsgilde by Solidariteit, het sowat 8 535 minder verpleegkundiges sedert 2013 die arbeidsmag betree. “Gekwalifiseerde verpleegpersoneel in alle verpleegkategorieë het sedert 2013 met bykans 40% afgeneem.

“ʼn Swaar werkslading, lang ure, moeilike omstandighede by die werk, ʼn gebrek aan ondersteuning en ʼn tekort aan geld en toerusting is van die redes hoekom verpleërs net nie meer kans sien vir die beroep in Suid-Afrika nie,” het Bierman bygevoeg.

Boonop is daar ook ʼn enorme krisis met die akkreditering van opleidingsentrums nadat geen nuwe private instansies die afgelope drie jaar vir hierdie soort opleiding geakkrediteer is nie.

Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê hoewel die kwessie van verpleërs ’n nypende probleem is wat nog gaan vererger, is daar ook ander gebreke in die gesondheidstelsel wat die NGV in die kiem smoor.

“Die NGV-plan is skadelik en gaan bloot net nie werk nie – die tekort aan verpleërs is net een simptoom daarvan. Baie verpleegpersoneel en dokters emigreer of verlaat die beroep oor die algehele haglike toestande in die openbare gesondheidsektor en die swaard van NGV wat oor die private sektor hang.”

Marisa Jacobs, ʼn immigrasiespesialis en direkteur by Xpatweb, het Donderdag in ʼn verslag gesê die aanvraag na beroepslui in die gesondheidsektor het tussen 2017 en 2018 met ʼn enorme 200% gestyg.

Jacobs sê om sake te vererger is daar internasionaal ook ʼn groot aanvraag na verpleërs. Dit beteken verpleërs kan maklik emigreer, wat weer beteken die vaardighede verlaat die land.

Die departement van arbeid het verpleegkunde as ʼn kritieke vaardigheid gelys.

Volgens Brink is die tekort aan politieke wil, asook die verkeerde idees te blameer vir hierdie gemors in die plaaslike gesondheidsorgsektor.

“Met opleiding van medici en lewering van gesondheidsdienste moet die staat na die private sektor uitreik en sy eie verantwoordbaarheid verhoog ten opsigte van veral die bestuur van hospitale en die onderskeie gesondheidsdepartemente en hul begrotings.

“Die ANC-regering droom as hulle dink hulle kan die NGV-plan instel in ’n omgewing waarin jou hulpbronne al hoe skaarser word. Hulle sal die administratiewe struikelblokke en rompslomp uit die weg moet ruim om opleiding deur die private sektor stukrag te gee en dan aandag moet skenk aan die ander aspekte in die stelsel wat personeel wegdryf. Gesondheidsdienste is bloot te belangrik om dit aan ’n onbevoegde staat oor te laat.”

AfriForum is besig met ’n veldtog om die publiek se stories oor hul slegte ervarings by hospitale vir ’n omvattende verslag in te samel en hulle kan dit by AfriForum.co.za deel.

Brink het gesê die verslag is nog in die beginstadium maar hulle beoog om dit met die president, die minister en LUR’e van gesondheid te deel. Dit sal ook aan die Wêreldgesondheidsorganisasie gestuur word. Hy glo die veldtog sal binne die volgende drie maande afgehandel word waarna die verslag beskikbaar gestel sal word.

“’n Groot aantal mense het reeds hul rillerverhale oor veral openbare hospitale vertel en dit is tekenend van die wanfunksionaliteit van die stelsel,” sluit Brink af.

Gesondheidskomitee hoor NGV is ʼn ‘moet’

Die portefeuljekomitee vir gesondheid is so onlangs as Vrydag nog in die parlement verseker dat die wet op die nasionale gesondheidversekering beslis nog op pad is om ʼn werklikheid te word.

Dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het dié komitee ingelig oor sy departement se jaarlikse prestasieplan en begroting vir die 2019/’20‑boekjaar.

Die komitee het gesê Suid-Afrika staan steeds bekend as een van die mees ongelyke lande in die wêreld en die plaaslike gesondheidsektor dra by tot hierdie persepsie. Die komitee het bygevoeg dat die minister die situasie kan verander deur te verseker dat rykes en armes gelyke toegang tot gesondheidsorg het.

Mkhize het in antwoord op die komitee se vrae die versekering gegee dat die NGV wel nog ingestel sal word.

Voorts het die komitee ook vrae gehad oor pasiënte wat weggewys word by gesondheidsorgfasiliteite sonder dat hulle die nodige medisyne ontvang het, asook die onkologie-agterstand by openbare hospitale.

Hy het verder gesê daar is wel vroeë waarskuwingstelsels in plek wat alarm maak as mediese voorraad laag raak.

Die komitee het in hulle kommentaar die digitalisering van die gesondheidsektor voorgestel om verskeie uitdagings in die gesondheidsdepartement te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Hierdie hele sirkus laat my dink aan die mentaliteit van….” as ek nie privaat gesondheidsorg kan kry omdat ek dit nie kan bekostig nie, dan is niemand geregtig op privaat gesondheidsorg nie…..net soos, as ek nie grond kan bekostig nie dan mag niemand grond besit nie…ek dink dit is die denkwyse en die grootste probleem.

Hanna Hoekom ·

Ek werk tans as professionele verpleegkundige in die Midde Ooste. Die helfte van die personeel in my hospitaal se kraamsaal is Suid-Afrikaners. Ons verdien drie keer ons salaris tuis. Die dokters en pasiente is baie erg oor ons, want ons het n reputasie vir hard werk. Verpleegsters wat voor 1994 gekwalifiseer het, het ekstra krediet gekry. Ja, dit was een van die vrae met die onderhoud: wanneer het jy gekwalifiseer? Voor of na 1994.

marous ·

Waarom sal enige iemand in ‘n hool wil werk wat jou tot raserny dryf ? Die strukture en bestuur van die hele land is ‘n riool put en dit gaan nie verbeter nie .

joanne ·

Ek was net so swak behandel in n Staathospitaal toe ek geboorte geskenk het daar. Ons wittes word sleg behandel. Daar was op my geskree en bloed het by my bene afgeloop. Ek het nie eers water gekry om te drink na ek gevra het nie. Dit is uiters swak dienste.

John ·

… hoe meer julle waarsku, hoe meer vasberade word die regering om dit wat darem nog werk ook te gryp. Kuba staan gereed om sy massas medici, wat juis met die oog op groot geld opgelei word, hierheen te pos… Met Ace, ja…

Alta ·

Die ander (groter?) probleem is regstellende aksie/spesifieke-ras-gebaseerde aanstellings. Ek ken ‘n hoogs gekwalifiseerde verpleegkundige wat uit die VK teruggekeer het SA toe (haar familie woon hier), maar sy kon na talle aansoeke in meer as ‘n jaar nie ‘n pos kry nie. Die laaste strooi vir haar was toe sy aansoek gedoen het vir ‘n pos in ‘n privaathospitaal, spesifiek vir haar vaardigheid (wat nóg skaarser is as algemene verpleegkunde) en sy nie die aanstelling gekry het nie. Sy gaan nou noodgedwonge terug Engeland toe – sy het een aansoek daar ingedien, een onderhoud gehad en is die pos aangebied. Dit gaan die verstand te bowe dat, selfs in die privaatsektor, diegene met werklik skaars vaardighede weggewys word ter wille van polities-korrektheid. Hulle moenie wonder oor hoekom verpleegkundiges onder dié is wat ander weivelde gaan soek nie. Uiteindelik is dit die pasiënte, wat nie omgee oor die velkleur van ‘n bekwame verpleegkundige nie, wat daaronder ly, en nie die hospitaaladministrateurs en politici nie.

Preppie ·

Dis n anc droom. Dit sal gebeur. Die voorheen agtergeblewenes verdien privaat hospitale. Ek is n huidiglik benadeelde en hoop om ook voordeel te trek uit die skema!

Anoniem ·

Ek wil vreeslik graag verpleging swot en in dit kwalifiseer, maar ek is 41 met 3 kinders :). As ek dit nie hier kan gebruik nie kan mens altyd immigreer. Weet enige iemand dalk van opsies as mens op hierdie ouderdom verpleging wil swot?

honourable member ·

Stem nogals saam jou preppie. Dit gaan oor hulle eie mense. Met hierdie vuil en onbekwame staatshospitale weet ek nie so lekker nie want wat is hulle plan om hierdie hospitale te “upgrade”. Seker weer n geval van die wittes gaan soontoe verwys word en die “have nots” gaan privaathospitale mag besoek want dis hulle reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.