Geen ambulans, skandeerder vir sterwende jongman

Werner en sy ma Moira. (Foto: Verskaf)

ʼn Jongman is in die Middelburg-distrikshospitaal oorlede nadat hy op ʼn ambulans moes wag om hom te vervoer na ʼn hospitaal met ʼn CT-skandeerder.

Dit is omdat Middelburg se hospitaal nie oor die nodige toerusting beskik om sy inwendige beserings te kon identifiseer nie. Werner Beukes kon dus nie die lewensreddende behandeling ontvang wat hy nodig gehad het nie. Hy moes boonop ure lank wag op ʼn gespesialiseerde ambulans om hom na ʼn ander hospitaal te neem, aangesien daar net een van dié soort ambulanse in die omgewing is.

Ná sy dood kon sy ma ook nie die hospitaal se forensiese lykshuis binnegaan om haar kind se liggaam uit te ken nie, weens die walglike reuk wat in die lug gehang het. Die skuld is glo gepak op die kwessie dat die fasiliteit beurtkrag ervaar en nie ʼn kragopwekker het om die lykshuis se koelkamers aan die gang te hou nie.

Beukes (20) is Saterdag 9 Julie kort ná 16:00 deur ʼn bejaarde egpaar in die pad omgery en toe bewusteloos en in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas. Hier is hy op ʼn ventilator geplaas.

Sy ma, Moira, sê sy is eers 19:00 toegelaat om Werner, wat toe steeds bewusteloos was, vlugtig te sien voordat personeel haar weer uitgeboender het.

“Ek en my ouers het lank gewag vir die dokter om met ons te kom praat. Die dokter het eindelik gekom en verduidelik dat hulle Werner na Witbank moes oorplaas om ʼn CT-skandering te laat doen omdat die hospitaal nie die toerusting daarvoor het nie,” sê Moira.

Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, het op versoek van Maroela Media gesê die betrokke hospitaal en ander distrikshospitale word in die algemeen nie met CT-skandeerders toegerus nie, daarom word pasiënte na die Witbank- tersiêre hospitaal verwys.

“Alle vlak-een-hospitale lewer geen CT-skanderingsdienste nie,” sê hy.

Werner moes toe wag op ʼn gespesialiseerde ambulans wat toegerus is met ventilasie-apparate om hom Witbank toe te vervoer. Meer as vier uur nadat hy by die hospitaal aangekom het, het die ambulans steeds nie opgedaag nie en Werner is in die hospitaal dood verklaar. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie.

“Enige ambulans kan ʼn gespesialiseerde ambulans wees indien dit met ʼn gevorderde lewensondersteuningspan, ʼn ventilator en met ander benodighede toegerus word,” sê Malamule.

“In hierdie geval het die pasiënt ongelukkig omgekom voordat ʼn ambulans beskikbaar was. As departement streef ons egter steeds daarna om beter diens te verskaf.”

Volgens Moira het Werner hoofbeserings opgedoen, sy regterarm en albei sy enkels was gebreek en hy het drie gebreekte ribbes gehad. “As hy nie gesterf het nie, sou hulle moontlik een van sy hande moes amputeer.”

Sy vermoed dat hy erge inwendige bloeding gehad het wat nie behoorlik opgespoor en behandel kon word nie. ʼn Nadoodse ondersoek is van stapel gestuur, maar die verslag hieroor sal glo eers oor etlike maande beskikbaar wees.

“Ons sal dan presies kan sien waaraan hy oorlede is en of daar enige nalatigheid betrokke was.”

Malamule het bygevoeg dat die dokters ook bevind het dat Werner ʼn traumatiese breinbesering opgedoen het, asook bloeding op die brein gehad het.

Luidens die hospitaal se verslag oor die verloop van gebeure op die dag van Werner se dood, het die dokters 30 minute lank probeer om hom by te bring (resussiteer) nadat sy hart stilgestaan het.

“Die pogings was egter onsuksesvol en die pasiënt is dood verklaar. Sy liggaam is toe na die forensiese lykshuis oorgeplaas,” sê Malamule.

Moira moes kort daarna haar seun se liggaam uitken.

“Dit het so gestink, ek het daar uitgehardloop, want ek kon nie my naarheid inhou nie.”

Moira is meegedeel dat die hospitaal beurtkrag ervaar en nie kragopwekkers het om die koelkamers aan die gang te hou nie.

“Ek het ʼn begrafnisondernemer gebel en gevra om my seun te gaan haal. Ek dank die Here dat ek nie weer daar moes ingaan nie.”

Volgens Malamule is daar wel ʼn verduideliking vir die aardige reuk in die betrokke lykshuis.

“Forensiese fasiliteite, anders as algemene lykshuise, ondersoek verskeie soorte menslike oorskot waarvan sommige reeds ontbind het wanneer dit na die fasiliteit geneem is.”

Volgens die departement se rekords het die betrokke fasiliteit ʼn kragopwekker. Dit is egter nie duidelik of die kragopwekker tans in werking is nie.

‘Ek het vergewe, hulle moet ook’

(Foto: Verskaf)

Benewens die traumatiese ervaring wat Moira sê sy deurgemaak het, is daar ʼn rustigheid in haar hart oor wat gebeur het.

“Werner was in ʼn vaardigheidskool en het met sy hande gewerk. My hart is rustig in die wete dat hy beter af is waar hy nou is. Dit is seer, maar ʼn mens weet nie hoe hy sou wees as hy wel oorleef het nie,” sê sy.

Die bejaarde egpaar wat Werner glo raakgery het, het Moira ná sy dood besoek om hul medelye te betoon.

“Volgens dít wat ooggetuies op die toneel vir my gesê het, was hierdie voorval bloot ʼn ongeluk. Die bestuurder was in die middelste baan, hy het nie gejaag nie en was nie onder die invloed nie. Dit lyk asof Werner net verbouereerd geraak het toe hy die pad moes oorsteek. Dit was ʼn ongeluk.

“Ek verwyt hulle [die paartjie] nie. Ek is nie kwaad vir hulle nie, ek het vir hulle gesê hulle moet hulself vergewe.”

Die polisie ondersoek glo die saak.

Werner is op 15 Julie ter ruste gelê en dié paartjie was ook die dag teenwoordig.

“Dit was so mooi en spesiaal. Hy het so baie vriende gehad. Hy was hardwerkend en het altyd sy beste gegee. Hy was sowaar ʼn omgeekind,” sê Moira.

Werner word oorleef deur sy ma, Moira; broer, Christo; pa, Wouter; stiefma, Debbie; stiefsussie, Liani en stiefbroer, Dihann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Innige simpatie aan die familie. RIV jongman. Jy is verlos van hierdie wereld en op ‘n baie beter plek. Fly high with the angels.

Ontnugterde senior ·

So tragies en dan wil die regering nog steeds die gesondheidsdienste en hospitale sentraliseer.

TRP ·

Genade, hoe hartseer is hierdie hele storie. Jammer vir julle verlies, ek kan julle seer nie eens indink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.