‘Geen parool’ vir Matthews-moordenaar, pleit familie

Die 21-jarige Leigh Matthews is in 2004 deur Donovan Moodley ontvoer en wreed vermoor. (Argieffoto)

“As ’n strafregstelsel meer oor die oortreder as die slagoffer besorg is, watter kans het families om die persoon wat hulle lewens verwoes het, in die tronk te hou?”

Só het Rob Matthews, pa van die vermoorde Leigh Matthews (21), Dinsdag gesê oor die moontlikheid dat sy dogter se moordenaar, Donovan Moodley, binnekort op parool vrygelaat kan word. Die familie het die media tydens ʼn gesamentlike konferensie met die organisasie Women and Men against Child Abuse (WMACA) in Johannesburg toegespreek.

Moodley is in 2005 skuldig bevind aan die ontvoering en moord op dié universiteitstudent en dat hy haar pa vir geld afgepers het. Hy is lewenslank tronkstraf vir die moord opgelê, 15 jaar vir ontvoering en 10 jaar vir afpersing.

Moodley het Matthews op 9 Julie 2004 – die dag ná haar 21ste verjaardag –  uit die parkeerterrein van die Bond-universiteit in Sandton, Johannesburg, ontvoer, waarna hy ’n losprys vir haar vrylating geëis het. Hoewel Matthews die ooreengekome R50 000 betaal het, is Leigh se naakte liggaam op 21 Julie 2004 in ’n veld in Walkerville, Johannesburg, gevind. Sy is vier keer geskiet.

Moodley, wat skuld op al die aanklagtes beken het, het intussen verskeie kere gepoog om herverhoor te word en teen sy vonnis te appelleer. Hy het ook later verskillende weergawes van die werklike gebeure voorgehou.

Hoewel die departement van korrektiewe dienste aanvanklik aan Matthews gesê het dat Moodley eers in 2030 vir parool in aanmerking sal kom, het hy in Maart vanjaar met ’n skok by iemand wat nie aan die departement verbonde is nie, uitgevind dat Moodley se appèlverhoor vanjaar reeds sal plaasvind. Die presiese datum is nog nie bekendgemaak nie.

Die Matthews-familie is in die lig hiervan deur die departement versoek om aan ’n mediasieproses te deel te neem.

Rob Matthews tydens die konferensie. (Foto: Mariska Nanni)

“Ons het niks om met Moodley te bespreek nie. Die paroolstelsel faal die werklike slagoffers en skep ’n uitweg vir misdadigers. Die regering moet eerder na eerlike landsburgers omsien en nie misdadigers eerste stel nie.

“’n Misdadiger soos Moodley moet met ’n lewenslange vonnis vir altyd uit die samelewing verwyder word. ʼn ‘Lewenslange vonnis’ is egter net ’n term om burgers te paai aangesien dit inderwaarheid nie lewenslank is nie.”

Boonop, sê Matthews, het Moodley nog nooit berou betoon of die volle waarheid gepraat nie. Daar is ook weinig met die familie deur die departement gekommunikeer en geen bewyse is gelewer dat Moodley gerehabiliteer is of geskik is om vrygelaat te word nie.

Matthews het na pres. Cyril Ramaphosa se 2020-toespraak oor geweld teen vroue en kinders verwys waartydens hy geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika as ’n tweede pandemie bestempel het en dat wetgewing verander moet word om dié pandemie te pak.

“Ons hoop dat die president woord by daad sal voeg wanneer Moodley vir parool in aanmerking kom.

“Dit geld ook nie net vir Leigh se saak nie, maar vir al die ander slagoffers soos sy daarbuite. So baie mense deel ons hartseer.”

Volgens Matthews ontvang sy ander dogter, Karen, 17 jaar ná haar suster se moord steeds berading.

Luke Lamprecht, bestuurder van WMACA, sê Suid-Afrika se paroolstelsel is bloot ’n draaideur vir misdadigers.

“Boonop word die verantwoordelikheid na die familie van die slagoffer verskuif om redes te verskaf oor waarom die misdadiger nie op parool vrygelaat moet word nie, terwyl dit eintlik die verantwoordelikheid van die departement moet wees om redes en daadwerklike bewyse te verskaf oor waarom die misdadiger vrygelaat moet word.

“Ons as landsburgers het nie onderneem om deel van ’n voorafbepaalde proses te vorm om misdadigers wat nie gerehabiliteer is of berou toon in die samelewing vry te laat nie.

“Geregtigheid vir slagoffers stop nie wanneer ’n vonnis opgelê word nie.”

Luke Lamprecht van WMACA tydens die konferensie. (Foto Mariska Nanni)

Lamprecht is voorts van mening dat die departement parool aan misdadigers toestaan omdat hulle bang is hulle bevoegdheid om dié misdadigers te rehabiliteer bevraagteken sal word.

Miranda Jordaan, stigtersdirekteur van WMACA, sê die paroolstelsel is nie slagoffervriendelik nie en oënskynlik tot voordeel van veroordeelde moordenaars en verkragters.

“Leigh Matthews was ’n jeugdige vrou wat van die geleentheid op ’n volwasse lewe beroof is.”

Miranda Jordaan, stigtersdirekteur van WMACA, tydens die konferensie. (Foto: Mariska Nanni)

Peter van Niekerk, die Matthews-gesin se regsverteenwoordiger, sê Moodley is beslis ’n gevaar vir die samelewing en het hom as ’n “monster” bestempel.

“Die erns en wreedheid van hierdie man se dade moet nie vergeet word nie. Hy het nie berou nie en het die ontvoering en moord haarfyn vooraf beplan.

“Leigh moes geweldige angs en trauma in die dae voor haar moord beleef het. Moodley is nie iemand wat maklik uit die tronk gelaat moet word nie.”

Die hof het voorheen bevind dat Moodley medepligtiges gehad het, hoewel hulle nog nooit bekendgemaak of in hegtenis geneem is nie.

Die familie en WMACA is sterk teen die vrylating van Moodley op parool gekant en sal alles in hulle vermoë doen om dit teen te staan.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Jaco ·

Sy was, volgens ons regstelsel, “mos maar net wit”, so haar moordenaar sal seker parool kry.

Cherokee ·

Gaan dieselfde storie oor en oor herhaal word? Terwyl dit wel ‘n faktor mag wees, moet ons oppas vir cliché’s.

lodewyk ·

Die gemors het lewenslank gekry en sou eers 2030 in aanmerking vir parool gekom het,nou hoe kan hulle bepaal waneer wie vry gelaat word op parool??,Kyk na Chris Hani se moordenaar hy is sieklik maar het nou al 30 jaar plus uigedien maar die regering bly sy parool teenstaan,dus hierdie is net weer n bewys hoe siek ons regstelsel is,hoop haar ouers het al die ondersteuning om die gemors vir die res van sy lewe agter tralies te sit….

Jean ·

Jy wil hê die ouers moet dat die man die res van sy lewe agter tralies sit, dit is presies wat chris hani se familie met Janusz doen

Charmain ·

Dis n skreiende skande dat hierdie tipe krimineel vir parool in aanmerking kan kom. Lewenslank moet lewenslank wees! Sekere tipe misdadigers behoort NOOIT vir parool in aanmerking te kan kom nie.

Sarel ·

Daar bestaan nie Strafstelsel in SA nie. Mense hoor
Swaar vonnis maar die term ” gelyklopend” maak
Alles tot niet . Die Regering spreek net lippetaal

Johann ·

Net nog n siek realiteit van die ANC se desperaatheid om als en almal se regte voorop te stel. In hulle ontplooide magsbasis se koppe is “elke stem tel”, so akkomodeer die siekste van siekste geweld en anargie ter wille van n “demokrasie” wat die geweldenaar en sy dade aanhits.

Om n familie nog verder deur gewetenlose hel.te sit…is SIEK! Maar hey…Ramaposa se dag en nag praaitjies is niks anders as fabels en verhale uit sy eie “freedom reference” vir sy people nie.

capie ·

Die hof het gese daar was medepligtiges en niemand het nog ‘n vinger gelig om werk daarvan te maak nie.

Jean ·

Dis is hoekom janusz walus nog sit, want familie het te veel sê. As die skelm sy tyd sit wat die regter gevonnis het dan is dit die regter se skuld as di persoon te vroeg uitkom volgens wet.

Winnie ·

En Janus Walush moet bly sit. Seker oor die slagoffer se kleur

Deon ·

Dis maklik om te “moan” Wat kan ons doen, die wat voel hy moet nie uitkom nie? Mag ons as burgers n petisie optrek om sy parool te keer? Mag ons aanvoer, ons voel die land sal meer onveilig wees met hom daarin? Mag ons dit doen met die president se “free pass“ tyd wanneer hulle op parool gesit word? Sal dit help?

Hydi ·

Ek as belastingbetaler betaal met ‘n glimlag om hom in die tronk te hou – useless suurstofdief.

Anel ·

Dit gaan hier oor kleur. Dit is so duidelik soos daglik. Is dit andersom was sou die persoon nou nog nie eers in aanmerking gekom het vir parool nie. In teendeel, hy sou sy volle tydperk gedit het. Maak lewenslank, lewenslank, dat die misdadiger nooit weer die buitekant van tronk sien nie. Punt, klaar, oor en uit. Maak nie saak wie jy is nie. Sterkte aan hierdie familie.

Elinette ·

Ja en bring sommer maar die doodstraf ook terug … sit die mag oor lewe en dood in ‘n “regstelsel” wat ondeurdag rassisties is, se hande. Maar moet dan nie rens, spoeg, sis en blaas as die doodstraf opgelê word in sake soos die Doodskis2 of Coligny nie.

Mariana ·

Lodewyk ek stem, Chris Hani se moordenaar moes ook al uit gewees het maar sy familie weier al vir jare. Wat maak hierdie wit kind se moord dan so onbelangrik dat haar moordenaar mag vry rondloop. Nee hy moet bly waar hy is…..hy verdien om daar te wees.

Ovelia ·

Sterkte vir julle. Ek hoop saam.mt jul dat jul kan rus en vrede kry. Weet net ons het na 28 jazr eers uitgevind wie my broer vermoor ht. As n mens net agsluiting kan kry

SANET ·

Die hoogste hof in die land is Korrektiewe dienste! Regters en Streekslandroste behoort dit deel van die vonnis te maak dat die gevonniste nie vir parool in aanmerking mag kom nie en die volle tronkstraf moet uitdien.

Francois ·

Dan kan Chris Hani ook parool kry maar die slagoffers keer dit kamptig. Die familie moet voet by stuk hou dat hy nooit op parool vrygelaat moet word nie. As hulle instem tot mediasie en ingee dat Moody kan uitkom op parool is hulle net so skuldig vir haar moord.

modiglianigirl ·

As die doodstraf in plek was soos dit hoort, het ons nie nou dié gesprek gehad nie.

Anel ·

Doodstraf nie die oplossing in ons bedeling nie. Het jy al gedink hoeveel onskuldige mense vermoor gaan word? Hulle gaan nie kan bybly om ons blankes te beskuldig van enigiets nie om ons dan “wettig” te vermoor!

Elinette ·

Wel, as hy gerehabiliteer is … dan moet hy op parool vrygelaat word. As hý vrygelaat word op parool, moet Januz Walus ook vrygelaat word.

Vernon ·

Stuk gemors….en soos die ander lesers noem…Janusz Walus sit!!

Herman ·

Ek sal bydra tot ‘n fonds om Mike Bolhuis op die saak te sit om die medepligtiges ook uit te snuffel. Al hierdie gemors hoort in die tronk totdat hulle tereggestel word en op geen ander plek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.