Geen plan om Reserwebank se mandaat te wysig – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Daar is geen planne om Suid-Afrika se sentrale bank se mandaat te hersien nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank in die parlement benadruk nadat dit tydens die president se laaste parlementêre vraag-en-antwoordsessie van die jaar in twyfel getrek is.

Ramaphosa, wat virtueel vanuit Pretoria by die parlement ingeskakel het, het gesê die Reserwebank se primêre doel is om die waarde van die geldeenheid te beskerm om gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei te bewerkstellig.

“Soos inflasie styg, styg die lewenskoste. Die meeste items kos meer en mense kan baie van die items wat hulle gewoonlik koop, nie bekostig nie. Hoewel die Reserwebank, sonder om prysstabiliteit in te boet, breër doelwitte soos werkskepping en ekonomiese groei in ag neem, is daar tans geen voorneme om die mandaat van die Reserwebank te hersien nie.”

Ramaphosa en die Reserwebank moes onlangs kritiek verduur nadat die bank ná ʼn jaar lange ondersoek eindelik in Augustus bevind het dat nóg Ramaphosa nóg enigiemand anders op sy plaas Phala Phala in Limpopo enige valutabeheerregulasies oortree het nadat duisende dollar in 2020 op die plaas voete gekry het.

Die Reserwebank kon geen bewyse van ʼn transaksie vind nie, en dus tot die gevolgtrekking gekom dat nie enige valutabeheerregulasies deur Ntaba Nyoni Estates óf die president oortree is nie.

Die sentrale bank is toe daarvan beskuldig dat hy sy mandaat in die ondersoek hopeloos te eng geïnterpreteer het en heelwat meer vrae as antwoorde geskep het.

John Steenhuisen, DA-leier en LP, het Ramaphosa Donderdag gevra of die Reserwebank se kwytskelding van hom “ʼn lus oopgemaak het vir geldwassers wat nou miljoene dollar en ponde in rusbanke kan stop solank hulle nooit hul transaksies voltooi nie”.

Steenhuisen het dit ook aan Ramaphosa gestel dat dit hom behoort te bekommer dat sy kwytskelding die Reserwebank se onafhanklikheid bevraagteken.

“Die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet, in die nastrewing van sy primêre doel, sy funksies onafhanklik en sonder vrees, guns of vooroordeel verrig,” het Ramaphosa volgehou.

Hy het wel ook daarop gewys dat daar ingevolge die Grondwet gereelde konsultasie tussen die Reserwebank en die kabinetsminister verantwoordelik vir nasionale finansiële sake sal wees.

Ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet die bank ʼn maandelikse staat van sy bates en laste en ʼn jaarverslag aan die parlement voorlê.

Ramaphosa het voorts gesê die Reserwebank is dus verantwoordbaar aan die parlement. “Die president van die bank voer gereelde samesprekings met die minister van finansies en verskyn van tyd tot tyd voor die parlementêre portefeuljekomitee en gekose komitees oor finansies.”

Lesse geleer uit sensus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: StatsSA/Facebook)

Ramaphosa het tydens die sessie ook gesê die uitslae van verlede jaar se sensus gaan ingespan word om verbeterings vorentoe te maak.

Die president het verduidelik dat die uitslae aansienlike verskuiwings in belangrike aanwysers toon soos toegang tot onderwys, behuising, elektrisiteit, water en sanitasiegeriewe. “Die resultate het beduidende implikasies vir beleid en beplanning in Suid-Afrika.”

Die sensus het byvoorbeeld betreklik hoë vlakke van bevolkingsgroei en verstedeliking in Suid-Afrika getoon – die bevolking het van 2011 tot 2022 met 20% toegeneem, ʼn toename van 10,3 miljoen mense.

Gauteng, Suid-Afrika se provinsie met die grootste bevolking en verstedeliking, het ʼn groei van 15,1 miljoen gehad. Dit is meer as dubbel dié van die Wes-Kaap (+7,4 miljoen).

Ramaphosa sê die syfers sal ingespan word in die departement van beplanning, monitering en evaluering se mediumtermyn nasionale ontwikkelingsplan vir 2024 tot 2029.

“Vanuit ʼn beleid- en beplanningsperspektief dui dit op die behoefte om meer doelbewus en konsekwent vir verstedeliking te beplan, om voldoende infrastruktuur, dienslewering en ekonomiese geleenthede te verseker.”

Ramaphosa sê die regering gaan ook meer fokus op die benutting van die rol van stede as aandrywers van groei en gedeelde welvaart.

Die sensus het verder getoon dat Suid-Afrika se bevolking jonk bly, met ʼn mediaanouderdom van 28 jaar. Net meer as 61% van die bevolking is tans onder die ouderdom van 35.

“Suid-Afrika moet dus voortgaan met pogings om vroeë kinderontwikkeling, onderwysuitkomste en naskoolse onderwys en opleiding te verbeter,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa reageer op MTBR

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

Ramaphosa het in reaksie op ʼn vraag omtrent minister Enoch Godongwana se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) van vandeesweek gesê die gesprekke wat hy en adj.pres. Paul Mashatile op ʼn deurlopende basis met ministers voer, is gefokus om hul onderskeie departemente se programme oor ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling en dienslewering te bevorder.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die staat se begrotingstekort het met R54,7 miljard toegeneem.

Dit is weens laer inkomsteprestasie, hoër loonrekeningkoste en hoër geprojekteerde skulddienskoste.

Ramaphosa het Donderdag gesê die land se ministers en hul departemente is deurgaans in gesprek met die nasionale tesourie oor hoe om enige begrotingsherstrukturering ten beste in werking te stel en projekte uit te stel waar nodig sonder om die behoeftes van gemeenskappe in die gedrang te bring.

“Soos in die MTBR aangedui is ons op koers om staatsuitgawes versigtig te bestuur terwyl ons die fokus op infrastruktuur, gesondheid, onderwys en polisiëring as kritieke areas van groei en ontwikkeling behou.”

Ramaphosa het weer daarop gewys dat die toename in fiskale beperkings hoofsaaklik te wyte is aan verminderde inkomste. Die president sê kostebeperkingsriglyne teiken nie-kritieke bestedingsitems soos reis, spyseniering, verblyf en kapitaalitems wat nog nie ʼn aanvang geneem het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

As alles hierbo deur Cyril gebesig die waarheid is…. Inteendeel min daarvan is.

Marous ·

Gaan kyk maar krieket op die belasting betaler se koste . Nikswerd leuenaar !

Mieke ·

Wanneer daar so plegtig belowe word, dan gaan die Reserwebank se mandaat inderdaad gewysig word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.