Geen verfballe meer vir Kaapse kese

(Foto: Baboon Matters/Facebook)

Die Stad Kaapstad het vandeesweek teen sy sin aangekondig dat sy Urban Baboon-program voortaan nie meer verfbalgewere as ʼn afskrikmiddel gaan insluit om bobbejane uit die Moederstad te verjaag nie.

Die metro het sy misnoeë te kenne gegee nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) aangedui het dat hy nie meer die gebruik van verfbalgewere as ʼn wetenskaplike en menslike afskrikmiddel vir bobbejane beskou nie.

Die Stad Kaapstad glo dié gebruik is nodig om mens én dier te beskerm.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid van ruimtelike beplanning en omgewing, wys in ’n verklaring daarop dat verfbalgewere sedert 2012 suksesvol in die Stad se Urban Baboon-program as ʼn menslike afskrikmiddel gebruik word om bobbejane uit stedelike gebiede te hou.

Volgens Nieuwoudt het dié gebruik die afgelope nege jaar bygedra tot die herstel van die bobbejaanbevolking aangesien minder bobbejane in dié tydperk onwettig doodgemaak is.

Die NDBV sê egter hoewel verfbalgewere al vir jare as afskrikmiddel gebruik word, “tye verander en tegnologie ontwikkel het”.

“Net omdat ʼn praktyk jare lank al volgehou word, beteken nie dat daar vandag daarmee voortgegaan moet word nie. Veral as daar alternatiewe metodes is wat gebruik kan word om dieselfde uitkomste te bereik.”

Die Stad Kaapstad hou vol dit is vir bobbejane se beswil om sover moontlik in hul natuurlike habitat te bly. Bobbejane loop volgens die metro ’n groot risiko om in stedelike gebiede doodgemaak te word of beserings op te doen aangesien hulle in dié gebiede deur ’n motor getref, deur ’n hond aangeval of vergiftig kan word.

“Aangesien die NDBV nie alternatiewe afskrikmiddels aanbeveel nie, is dit onduidelik hoe bobbejane aangemoedig kan word om in die toekoms stedelike gebiede te vermy. Ek wil inwoners dus aanraai om sover moontlik die nodige voorsorg te tref,” sê Nieuwoudt.

“Ek wil herhaal dat die onttrekking van verfbalgewere as ʼn afskrikmiddel ʼn impak sal hê op die eiendom en lewenstyl van inwoners wat in gebiede naby bobbejane se natuurlike habitat woon.

“Ons sal dit ook moet oorweeg om die bobbejaanwagters uit hierdie gebiede te onttrek, aangesien daar geen alternatiewe maniere beskikbaar is om bobbejane uit die stedelike omgewing te hou nie,” sê Nieuwoudt.

Die NDBV sê hy is bewus van Nieuwoudt se “teleurstelling” omdat die metro nie in die organisasie se besluit geken is nie.

“Die mandaat van die DBV-beweging is duidelik. Ons voorkom en beëindig wreedheid teenoor en die lyding van diere in ons land. Ons is van mening dat die praktyk om bobbejane met ʼn verfbalgeweer te skiet nie net ʼn verouderde gebruik is nie, maar ook onnodige lyding inhou vir die slagoffers waarop die gewere gerig word.”

Nieuwoudt raai inwoners intussen aan om hul groentetuine en komposareas toe te span en geen kos vir troeteldiere buite te hou nie. Inwoners word ook versoek om hul vullisdromme te stoor waar bobbejane nie toegang tot só ’n drom sal kry nie.

“Inwoners moet ook hul deure en vensters gesluit hou as daar bobbejane in die omgewing is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaada

Nou sal ketties weer ingespan word!

Sambok

Ga-vang een en verf hom wit,sal sien hoe vinnig hulle dan verdwyn,dit was in die bosveld toegepas en werk goed

Stof

Doen dit demokraties. Laat die bobbejane toe om in plaaslike verkiesings te staan, en maak net seker hulle word uitgestem.
Vra vir Sonja Herrold hoe. Sy het mos al in die vroeë sewentigs, reeds gesing oor hierdie metode, in haar lied, Blouwaterberge.

Aikie

Aangesien die DBV dan “alternatiewe metodes” voorstaan, moet hulle dan nou uitkom met dit. Ek glo aan die gesegde wat sê: “If it ain’t broken, don’t fix it.” Die verfballe het gewerk, wat is die DBV se alternatief? Terselfdertyd kan die DBV ook maar pa staan vir hulle uitsprake en verantwoordelikheid daarvoor vat. Laat hulle kom wys wat hulle in gedagte het. Intussen kan daar maar ‘n waarborg uitgevat word dat indien die mense nie die Bojane suksesvol kan weghou nie, gaan die vergiftigings en ander wreder metodes blom. Jy kan net soveel keer vat dat hulle jou huis stroop,… Lees meer »

Oompievis

Geen verfballe meer nie, ruil dit om met 7.62 skerppunt ammunisie