Geen verpligte gesigmaskers meer vir Namibiërs

Ekonomiese data wys dat die aantal buitelandse toeriste wat in die land aankom steeds slegs ʼn derde is van die syfer waarop dit in 2019 – voor die uitbreking van die pandemie – gestaan het. (Foto: Esté Meyer Jansen)

Die president van Namibië, Hage Geingob, het aangekondig dat Namibiërs van Woensdag af nie meer verplig sal word om maskers in die openbaar te dra nie.

Oor die afgelope 30 dae het die Covid-19-positiwiteitskoers in die land gedaal van 7% tot 2% van nuwe infeksies en die herstelkoers in die land staan nou op 97%. Daar was in dieselfde tydperk altesame 19 sterftes weens Covid-19. Aktiewe gevalle staan tans op 222.

Geingob waarsku egter dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se herklassifisering van Covid-19 as ʼn endemiese siekte – eerder as ʼn pandemie – nie ʼn vals gevoel van sekuriteit moet skep nie. “Die omvang van die uitdaging wat ons in die gesig staar, is steeds groot en ons moet doeltreffend daarop reageer.”

Ekonomiese data wys dat die aantal buitelandse toeriste wat in die land aankom steeds slegs ʼn derde is van die syfer waarop dit in 2019 – voor die uitbreking van die pandemie – gestaan het. “Dit beteken dat die indiensnemingsintensiewe toerismebedryf, wat regstreeks en onregstreeks werk aan sowat 150 000 Namibiërs bied, steeds in ʼn resessie is.”

Geingob sê inenting bly steeds een van die doeltreffendste maniere om Covid-19 te beveg, maar slegs 21,4% van die land se bevolking wat daarvoor in aanmerking kom, is tot dusver ingeënt. Dit is maar ʼn derde van die WGO se aanbevole bevolkingsdekking van 60% om kudde-immuniteit te bereik.

Namibië se regering het genoeg entstofvoorraad en verskeie lande het ook entstowwe aan die land geskenk.

“Daar mag nie toegelaat word dat sulke kosbare en skaars hulpbronne op ʼn rak vergaan nie,” sê Geingob wat ʼn hernieude beroep op Namibiërs gedoen het om hulle teen Covid-19 te laat inent, of versterkingsdosisse te kry terwyl die wintermaande nader kom.

Hoewel die dra van maskers in die openbaar nie meer verpligtend sal wees nie, word mense steeds aangemoedig om maskers te dra wanneer hulle byvoorbeeld van openbare vervoer gebruik maak, of binnenshuis vergader. ʼn Sosiale afstand van minstens een meter moet ook steeds gehandhaaf word.

“Die opskorting van die gesigmaskermandaat beteken nie gesonde verstand moet ook opgeskort word nie,” sê die Namibiese president. “Inteendeel, gesonde verstand moet seëvier.”

Die grootte van openbare byeenkomste word voortaan verhoog van 500 tot 1 000 mense. Dit geld vir alle byeenkomste, ook troues, begrafnisse, kerkdienste en sportbyeenkomste.

Reisigers wat ten volle ingeënt is, sal boonop nie meer ʼn negatiewe PCR-toets met hul aankoms in Namibië hoef te toon nie, maar moet ʼn egte inentingskaart by die grenspos kan wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Emile ·

Uitstekend Namibie ! Bly om te sien logika word in hierdie land gehandhaaf

Yolandie ·

Iemand met verstand….hoe lank gaan ons nagmerrie nog voortgaan wil ek weet??? Hoe is dit dat ons nog gehoor gee aan die regulasies. Sedert die oorlog in Ukraine hoor mens niks van Covid in die nuus nie. Hoe vreemd dat daar nog ‘n Ramptoestand is. Maak nie sin nie.

Vlooitjie ·

SA is besig om met ‘n spoed weer die inenting dryf aan die gang te kry…nog te min van ons is gevaxx so die tante gaan gin niks nog by ons stop sit nie.. en alhoewel groot getalle mense graag masker vry wil loop skop ons nog nie hard genoeg daarteen nie. Almal piekel maar die maskertjie nog saam ooral.

Pietertjie ·

Ek hoop hulle idees waai oor na Suid Afrika se kant toe.

Harley Davidson ·

Namibia het duidelik ‘n meer bevoegde regering as die piesang Republiek van Suid-Afrika.

Mallie ·

Dis fantasties. Iemand wat breins het. Ek dink ons moet almal net begin en die maskers weggooi. Die hele land kan nie tronk toe gaan nie.

Waarnemer ·

Bied hierdie ou n job as minister van gesondhrid aan hier in SA asb

AH ·

Sommer President…….Dit sal ‘n groot verbetering wees teenoor die huidige een…

Jasper ·

Ongelukkig sit ons nog met die Covid19 maatreëls wat politieke agendas moet bevorder en die WEF luciferions se sakke te vul. So hier loop gehoorsame skapies nog met maskers om almal bang te maak en die “mind control” te bevorder.
Mêêê…

Swerwer ·

Wonderlik, kan hierdie ANC Kader maar liewer nie by die Namibiese Regering gaan leer ipv die Russe nie.

Ontnugterde senior ·

ek het in Namibie grootgeword en skoolgegaan. Wens so ek kon teruggaan na soontoe. Ongelukkig nie daar gebore nie. Hulle het ook maar probleme maar dit gaan 100 keer beter daar as hier. Namibiers geniet julle wonderlike land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.