Geld druk, maar SA-ners spandeer steeds

Suid-Afrikaners bestee al hoe meer geld aan kos, maar hul kooplus is nog lank nie geblus nie. (Foto:
Thomas Le/Unsplash)

Ondanks die talle ekonomiese faktore wat tans druk op die deursnee Suid-Afrikaanse verbruiker plaas, is hul kooplus steeds nie gedemp nie, wys inligting wat bekendgemaak is deur Nielsen, ʼn internasionale data-analiseerder.

Die jongste indeks vir verbruikersvertroue in die derde kwartaal van 2019 het met vyf punte afgeneem na 88. Dit beteken dat verbruikersentiment in dié kwartaal minder positief was.

Kerith Botha, die besturende direkteur van Nielsen South Africa Connect, sê verbruikersvertroue het teruggesak tot dieselfde vlak as ʼn jaar gelede. Dit is omdat Suid-Afrikaners steeds geweldige finansiële druk ervaar weens die gedempte ekonomiese groei, die stygende koste van water en ligte en verhoogde werkverliese.

“Nietemin onthul ons opname dat Suid-Afrikaners steeds geneig is om te spandeer,” sê hy.

Volgens Nielsen se data gaan sowat 19% van Suid-Afrikaners se maandelikse begrotingstoewysing tans vir voedsel en drank tuis, 18% aan huisvesting en 10% aan onderwys. Te midde van toenemende verkeersopeenhopings ken Suid-Afrikaners 9% van hul maandelikse begroting toe aan roetinevervoer en 8% aan kommunikasiedienste soos selfone, internet en betaal-TV.

So pas Suid-Afrikaners aan

Volgens die verslag het 84% van Suid-Afrikaners hul bestedingsgewoontes in die derde kwartaal reeds begin aanpas om minder geld op huishoudelike uitgawes te bestee.

Om geld te bespaar het sowat 66% hul besteding op wegneemetes gesny, gevolg deur ʼn 65% afname in die aankoop van nuwe klere. Sowat 52% van verbruikers het na goedkoper kruidenierswarehandelsmerke oorgeskakel. Dieselfde aantal sê dat hulle minder gas en elektrisiteit gebruik het om koste te sny.

Sowat 78% van Suid-Afrikaners wat aan die opname deelgeneem het, dink die land is tans in ʼn resessie, vier persentasiepunte meer is as in die vorige kwartaal. As dit kom by hul grootste bekommernisse, sê 33% van Suid-Afrikaners dat die ekonomie hulle snags wakker hou. 28% bekommer hulle oor werksekuriteit en meer as ʼn kwart (26%) sê misdaad is een van hul grootste bekommernisse.

Interessant genoeg is net 16% van Suid-Afrikaners bekommerd oor stygende brandstofpryse en 15% noem dat stygende voedselpryse en skuld ook bydra tot geweldige finansiële druk.

ʼn Blinker toekoms?

Die groter meerderheid van Suid-Afrikaners (82%) sê egter dat hulle ekstra kontant het nadat hulle hul finansiële verpligtinge nagekom het. Dit is twee persentasiepunte hoër as die vorige kwartaal.

Kredietkaart

(Foto: Clickx.be)

Die grootste aantal verbruikers (48%) het hul besteebare inkomste gespaar, gevolg deur 32% wat skuld, kredietkaarte en lenings afbetaal het.

Meer as ʼn kwart (28%) van die respondente sê dat hulle spaargeld op nuwe klere bestee, terwyl 19% dit vir huisverbeterings gebruik. Sowat 18% het gesê hulle bestee hul spaargeld op tuisvermaak, wat moontlik te wyte is aan die behoefte aan ʼn wegkomkans van die daaglikse druk wat hulle ervaar.

Aan die negatiewe kant was daar ʼn beduidende afname van ses persentasiepunte (van 33% na 27%) in Suid-Afrikaners wat hul werksvooruitsigte as uitstekend of goed beskou. Diegene wat sê dat die stand van hul persoonlike finansies oor die volgende 12 maande uitstekend of goed sal wees, het ook met vier persentasiepunte afgeneem na 62%.

“Desondanks was daar ʼn klein verbetering in onmiddellike besteding, met ʼn styging van een persentasiepunt tot 32%. Dit dui aan dat Suid-Afrikaners voel dit is nou ʼn goeie tyd om te koop wat hulle nodig het of wil hê, wat kan dui op verbeterde optimisme onder plaaslike verbruikers. Dit sal interessant wees om te sien of dit lei tot groter besteding tydens die feestyd,” sê Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mamma

Ons familie is 100% akoholvry bloot net omdat mens dit nie meer kan bekostig nie. Weet nie hoe ander dit kan bekostig nie.

Die Spaar Familie

Ons familie spandeer op die volgende. Huis,kar,kos, medies, water en elektriese tyd. Ons het groot besparing ingebring deur ons akohol te limit met slegs wyn, DSTV afgesit, slegs streaming, medies afgebring na laer versekering. Koop baie min woolies – Spaar Nou R8 000 n maand. Ook besluit die desember is ons in Jan tuis bly se kar.

Hendrik ferreira

Suid afrikaanse mense is uniek, die regering mishandel hulle maar hulle bly vir die regering stem,hulle kry so swaar dat hulle dink dit is die norm en dit aanvaar so hoekom sal hulle geld spandeer wat hulle nie het in swaar ekonomiese tye nie?

Dink weer

Ek weet van ‘n Kersmark waar die omset ongeveer R7miljoen onlangs was vir ‘n tydperk van ‘n week. Die klante was meestal almal blank, en niks by die mark is nodig nie, dis als luukshede. Nee wat, gaan glad nie so sleg met ons mense nie.

AfrikaanseKnaap

Ons spandeer wan’t ‘n brood met smeer kos 30% van ons salaris.