Gemeenskap spring in by Brandfort-konsentrasiekamp

Die Vrouemonument op Brandfort. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap in Brandfort het besluit om self in te klim en die unieke erfenisbakens in hul gemeenskap in beskerming te neem.

Dit sluit in die eerste vrouemonument wat in 1906 voor die NG Kerk Brandfort onthul is. Dié standbeeld van ʼn engel is opgerig ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en lede van die gemeenskap het nou saamgespan om die FAK-Brandfort-kultuurnetwerk tot stand te bring. Dié organisasie wil nie net die erfenis in hul omgewing bevorder nie, maar wil seker maak dié kosbare skatte bly vir hul nageslagte bewaar.

“Dit is veral by die konsentrasiekamp waar die kultuurnetwerk wil inklim en ’n daadwerklike verskil maak. Ons weet dat ons met die krag van die gemeenskap enige iets kan vermag en die ryk geskiedenis weer in ere kan herstel,” sê Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK in die sentrale streek van die land.

Die bewaringswerk sal insluit dat onkruid verwyder en bome behoorlik gesnoei word.

‘n Monument van die Eeufeestrek van 1938 op die dorp. (Foto: Verskaf)

Die konsentrasiekamp in Brandfort is die laaste konsentrasiekamp wat gesluit is na afloop van die Anglo-Boereoorlog. Teen Maart 1903 was daar steeds 343 mense in die kamp, want hulle het nie ’n ander heenkome gehad nie.

Daar word beweer dat 1 021 kinders onder die ouderdom van 15 in hierdie kamp gesterf het, met die totale sterftesyfer tussen 1 263 en 1 550.

“Soos die engel oor die stad waak, waak die kultuurnetwerk nou ook oor die gemeenskap. Saam bou ons aan ’n beter toekoms, deur saam te span en die werk te doen wat so dikwels deur die plaaslike regerings agtergelaat word,” sê Malan.

Die FAK is reeds betrokke by nagenoeg 40 gemeenskappe reg oor die land en help bou, beskerm, bewaar en bevorder die kultuurerfenis en geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Ek sê steeds net soos die nuwe regering van Namibië miljoene van die Duitse regering gekry het, net so moet ons ook van die Britte verhaal vir hierdie sterftes van ons vroue en kinders in die konsentrasie kampe tydens die Anglo Boereoorlog. Dit was niks anders as volksmoord nie.

Bolandse Nooi ·

@Christine, moet daardie nie dan ook geld vir die 1000’e swart mense wat OOK deur die ABO en Britte (wat tegnies-gesproke “a war between Boer and Brit” was, maar waarby die kleurling en swart mense, willens of wetens, betrek is omdat hulle óók op plase gebly het of werkers en agterryers was) nie? Die blanke plaasbewoners is wel sleg behandel, het slegte kos en swak behuising gekry, maar die swart mense en kleurlinge het dikwels NIKS gekry nie en moes maar sien en kom klaar. Daar is nie eens werklik opgeteken hoeveel van húlle a.g.v. dieselfde omstandighede in die kampe omgekom het nie.

minnie muis ·

daar was ongeveer 30 duisend swart dood in ABW , en ongeveer 27 duisend blank, ek dink daar was eenmlige bedrag betaal aan suid afrika se regering, my ouma het vertel haar ma was 17 jaar toe sy terug kon gaan plaas toe , daar was niks oor nie , en baie van boere was vermoor , so ja uk skuld ons baie geld , want niemand weet regtig hoeveel geld betaal is nie , maar ook niemand weet hoe dir verdeel is nie. feit soos n koei … die boere van tvl en vrystaat was eerste vryheidsoldate in afrika

Ronél ·

Hande uit die moue………….dan sal dinge gebeur EN verander!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.