Gemoedere loop hoog oor pitbulls in Bloem

Pitbull-aktiviste het Saterdag voor die DBV in Bloemfontein byeengekom. (Foto: Verskaf)

Gemoedere het hoog geloop toe ʼn groot groep pitbull-aktiviste Saterdag voor die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein byeengekom het – onder meer om antwoorde te eis oor waarom die organisasie glo verskeie pitbulls van kant gemaak het nadat die honde se eienaars die diere vir beskerming daar afgegee het.

Een van die betogers het glo ineengestort nadat sy meegedeel is dat haar terapiehond, Chloe, een van die honde is wat van kant gemaak is. Na verneem word, is die vrou tans in die hospitaal.

Die aktiviste voer aan talle eienaars het hul honde slegs by die DBV afgegee uit vrees dat hul troeteldiere vergiftig of doodgemaak sou word ná twee noodlottige aanvalle op kinders in Bloemfontein en op Hennenman.

Die diere is glo afgegee in reaksie op ʼn kennisgewing deur die burgerlike organisasie Sanco in Welkom, wat gedreig het om honde met geweld te verwyder indien Vrystaters nie binne sewe dae vrywillig van hul pitbulls afstand doen nie.

Die doel van die betoging was ook om bewusmaking oor pitbulls te skep en ʼn stem vir dié honderas te gee wat oor die afgelope paar maande kwaai onder skoot gekom het. Ná verskeie aanvalle in verskillende provinsies is daar talle oproepe dat eienaarskap van dié honde summier verban moet word. In sommige gevalle het gemeenskappe ook reg in eie hande geneem deur pitbulls ná voorvalle dood te maak.

Pitbull-aktiviste het Saterdag die strate van Bloemfontein ingevaar. (Foto: Verskaf)

Die groep van sowat 150 mense het die strate Saterdag met plakkate en baniere ingevaar wat onder meer gelui het “Wanneer gaan hulle die mense blameer?”.

ʼn Bron wat vertroulik met Maroela Media gepraat het, sê Chloe se eienaar het die DBV glo herhaaldelik gevra om haar hond terug te kry en dat sy selfs bereid was om na ʼn plek te verhuis na waar sy haar hond sou kon saamneem.

In ʼn boodskap – wat na bewering aan die DBV gestuur is – verduidelik die eienaar dat Chloe nog nooit aggressief was nie en dat sy haar net vir veiligheid afgegee het ná Sanco se kennisgewing.

Luidens dié boodskap, wat Maroela Media onder oë gehad het, verduidelik die vrou dat Chloe nog nooit ʼn mens of ander hond gebyt het nie, dat die troeteldier soos haar “laatlammetjie” is en nie eens “besef sy is ʼn pitbull nie”.

Die vrou sê haar geliefde hond het haar ook in haar stryd teen depressie gehelp.

Die eienaar het verder aangebied om die hond terug te koop. Sy is Saterdag egter ingelig dat Chloe van kant gemaak is, glo op dieselfde dag as wat sy by die DBV afgegee is.

Pitbull-aktiviste het Saterdag voor die DBV in Bloemfontein byeengekom. (Foto: Verskaf)

Reinet Meyer, woordvoerder van die DBV in Bloemfontein, het bevestig dat Chloe wel deur haar eienaar by die DBV afgegee is.

Meyer sê egter dat Chloe nie vir “losies of veilige bewaring” afgegee is soos beweer word nie.

Die vorm wat die vrou onderteken het om die hond aan die DBV oor te gee, is Saterdag glo aan die aktiviste oorhandig.

“Ons sal nie langer onwettige byeenkomste voor ons instansie, asook geen blatante beledigings en treitering duld nie,” het Meyer by navraag aan Maroela Media gesê.

Sy het nie gesê hoeveel honde, benewens Chloe, deur die DBV van kant gemaak is, hoe die afgeeproses werk, of hoe sulke besluite geneem word nie.

“Ons het in ʼn onstabiele tyd ingetree en ons deure oopgemaak vir honde wat andersins deur ʼn woedende gemeenskap gemartel en vrekgemaak sou word.

“Die DBV het gedoen wat ander wetstoepassingsowerhede lankal reeds moes doen. Ons het proaktief opgetree om wreedheid teenoor pitbulls te voorkom. Ons weier om verskoning te vra omdat ons ons mandaat uitvoer.”

Meyer sê die DBV praat namens, sorg vir en beskerm alle diere.

Die diereregtegroep het Maandag aan Maroela Media gesê dat hy wel toestemming vir die betoging gehad het en dat die polisie hulle vergesel het.

Maroela Media het vroeër berig dat Olebogeng Mosime van Vistapark in Bloemfontein deur hul bure se pitbull doodgebyt is nadat die hond glo uit die erf ontsnap en oor hul heining gespring het. Polisiebeamptes het die hond op die toneel doodgeskiet.

Kort daarna het twee pitbulls ʼn driejarige seuntjie op Hennenman verskeur.

Die DBV het vroeër bevestig dat tientalle honde sedert dié aanvalle by die DBV afgegee is, wat pitbulls én ander honderasse insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.