Georganiseerde landbou skepties, hoopvol oor staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa het baie om verslag oor te doen tydens vanjaar se staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Daar heers gemengde gevoelens onder boere oor wat vanjaar se staatsrede, wat op 9 Februarie plaasvind, vir die toekoms gaan inhou.

In ʼn sterk bewoorde verklaring het TLU SA prontuit gesê dat “dieselfde beloftes [as voorheen] en onpraktiese drome ʼn staatsrede waardeloos maak; ʼn tipiese Ramafantasie”.

“TLU SA verwag dat die president weer sy ondersteuners met mooi beloftetjies sal probeer oortuig dat die ANC vir ʼn beter lewe sorg,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Hierdie beloftes word gelukkig al hoe moeiliker vir soetkoek opgeëet, veral as die markte daagliks swart op wit wys hoe ANC-beleid alle Suid-Afrikaners verraai.

“Die Poskantoor, Denel, SAL en Eskom was in 1994 nog funksioneel. Dit is juis die ANC se beleid en ‘rigtinggewende’ staatsredes wat hierdie instellings oor byna 30 jaar vernietig het.”

Van Zyl het ook gesê dat maatskaplike toelae geen volhoubare oplossing bied nie. “Diegene wat daarvoor moet opdok, raak vuisvoos en vat die pad omdat hulle belastinggeld basies regstreeks aan misdaadsindikate oorhandig word.”

Hy is ook van mening dat slegs die private sektor die kommerwekkende hoë werkloosheidsyfer kan verlaag deur die omstandighede van winsgewende ondernemings te verbeter. Hy verwag dat onteiening sonder vergoeding weer ʼn punt op die agenda sal wees omdat dit vir nog ANC-kruisies sal sorg. “Dit plaas sogenaamde ‘ekonomiese stimulasie’ net onder die verkeerde soort druk en beïnvloed die vertroue van beleggers baie negatief.”

TLU SA het in ʼn brief aan Ramaphosa gevra dat hy op die volgende kwessies moet fokus:

  • Bewerkstellig vertroue in die ekonomiese omgewing.
  • Skep ʼn beleidsomgewing en infrastruktuur waarbinne entrepreneurs graag sake wil doen.
  • Dereguleer energievoorsiening sodat die private sektor die situasie met kundigheid kan beredder.
  • Staak swart ekonomiese bemagtiging en fokus op ekonomiese bemagtiging, wat alle Suid-Afrikaners insluit. Skep geleenthede vir almal wat bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar wat met hierdie geleenthede gepaard gaan. Dit is wat bemagtiging beteken; ʼn wen‑wen‑situasie vir verantwoordelike benutters van geleenthede asook vir die ekonomie van Suid-Afrika.
  • Die permanente staking van kaderontplooiing (wat sinoniem met korrupsie is), en nie net tydens die jaarlikse staatsrede waarna dit steeds lustig voortstu nie.
  • Los misdaad op deur eerstens misdaad-elemente uit die SAPD te verwyder sodat vertroue in hulle kan herstel en ons ʼn veilige land kan hê.
  • Stel bevoegde ministers aan.
  • Leer wat “aanspreeklikheid” beteken en pas dit toe. Ministers moet verantwoordelikheid vir hul onderskeie departemente neem sodat hulle koppe ook kan rol wanneer korrupsie voortgaan.

Agri SA en Agri Wes-Kaap (AWK) doen weer ʼn dringende beroep op president Ramaphosa om die uitwerking wat die beurtkragkrisis op boere het, te verlig.

“Sonder dringende optrede kan Suid-Afrikaners in die nabye toekoms mislukte oeste, hoër voedselpryse en tekorte van sekere produkte verwag. ’n Ramptoestand alleen sal nie hierdie bedreiging afweer nie – wat nodig is, is geteikende verligting,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA.

Hy sê beurtkrag het tussen Januarie en September 2022 meer as verdubbel in vergelyking met dieselfde tydperk in 2021. As gevolg van hierdie katastrofe het die landbousektor gedurende die nege maande onder oorsig meer as R23 miljard verloor. Hierdie verlies kan in 2023 oorskry word, wat die volhoubaarheid van die sektor en die 800 000 werkgeleenthede wat dit bied, bedreig.

Agri SA het ’n skrywe aan die nasionale rampbestuursentrum gerig waarin die verreikende implikasies van beurtkrag vir graan, vee, pluimvee, vrugte, groente, suiker, eetbare olies en so meer uiteengesit word. “Hierdie bedrywe staan sentraal in die vermoë van Suid-Afrika om sy mense te voed,” sê Van der Rheede.

Agri SA vra dat die volgende maatreëls onmiddellik ingestel word:

  • Verklaar die landbousektor en gepaardgaande waardeketting tot noodsaaklike dienste.
  • Stel die landbousektor gedeeltelik vry van beurtkrag hoër as fase 4.
  • Maak voorsiening vir hoër kortings op diesel en petrol wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word.
  • Wysig die huidige tariefstruktuur om die koste van elektrisiteit tydens spitstye te verminder.
  • Bestuur beurtkragskedules in die bedryf met behulp van ’n plaaslike uitvoerbaarheidstudie (’n vlakbenadering kan gevolg word deur rooi, oranje en groen te gebruik om kritieke gebiede te identifiseer).
  • Brei vragbeperking (in ruil vir laer kraggebruik op sekere tye word die boere in die Bergrivier van beurtkrag vrygestel) vinnig uit na alle landbougebiede wat daarvoor kwalifiseer.

Van der Rheede sê verder dat tensy hierdie maatreëls geïmplementeer word, dreig ’n katastrofe vir die land weens beurtkrag.

“Boerderybedrywighede sal ontwrig word, aangesien toerusting beskadig word weens kragonderbrekings; die koste van voedselproduksie sal toeneem namate boere gedwing word om teen spitstydpryse te besproei; en arbeidskoste sal styg weens onreëlmatige werksure gebaseer op beurtkragskedules.

“Terselfdertyd sal vleisprodusente nie water vir hul vee kan pomp of hul vee en pluimvee kan slag en verwerk nie. Landbouverwerking en kleinhandel sal ook daaronder ly namate verpakking- en verkoelingsbedrywighede misluk.”

Van der Rheede sê verder dat die regering sy rol moet speel en die omvang van die bedreiging vir die land erken as voedselsekerheid misluk. “President Ramaphosa het die geleentheid om die poging te lei om oplossings te vind; hy moet dit die oë kyk.”

AWK sê hy sien uit om te hoor watter steun die regering aan die landbousektor gaan gee en het ook na die misdaadkrisis en Transnet verwys wat dringend aandag moet kry

 

“Gegewe die reusagtige negatiewe impak van beurtkrag op alle sektore, verwag ons dat dié kwessie indringend aandag sal kry. Alhoewel die landbousektor nie ʼn werkbare korttermynoplossing verwag nie, sal ons graag wil sien dat die sektor as essensiële sektor verklaar word,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

 

“AWK hoop daar is uitvoerbare oplossings om veiligheid in Suid-Afrika aansienlik te verbeter. Die jongste misdaadsyfers skets ʼn afgryslike prentjie van die huidige stand van sake in ons land. Die veiligheid van produsente, hul werkers en families sal altyd ʼn prioriteit vir die landbousektor wees, aangesien misdaad ʼn aansienlike impak op landbouproduksie het.”

 

Hoewel daar reeds vordering gemaak is, moet president Ramaphosa ook terugvoer oor Transnet gee. Die dienste wat deur Transnet gelewer word, by die hawens sowel as die spoorvervoer van landbouprodukte, is van kritieke belang vir die landbousektor. Met 2022 se staatsrede het AWK die aankondiging van die infrastruktuurfonds verwelkom. “Ons hoop vir verdere terugvoer oor dié fonds, wat ook padinfrastruktuur vir die volgende 10 jaar insluit.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eugene ·

Stel glad nie belang in die staatsrede nie. Kyk liewers Pinocchio.

annie ·

Die kans is 100% dat Ramaphosa die staatsrede vanjaar soos Zuma, sy destydse baas (moontlik steeds) sal inlui met ‘n skaterlag, hopende dat ten minste al sy nuut-ingehuldigde kaders uit respek sal meedoen; dat kekkellaggies mettertyd towerkrag ontwikkel wat alle opstandigheid by burgers in die niet laat verdwyn. Met beide De Ruyter en Oberholzer gelyktydig aan’t vertrek gaan daar pêre wees so voor ons winter. Proviant-vergaar is ons voorland sou ons wens bewaar word en dr Who weer volle beheer oor die nasie kry.

Mieke ·

Natuurlik gaan daar niks van kom nie. Hoe lank is die ANC al in bewind? Teen hierdie tyd weet ons lankal! Net jammer dat “our people” steeds alles glo!!

Eugene ·

Die opskrif moet wees:. Georganiseerde misdaad, skepties of hoopvol.

Plotman ·

Die spul lewe lekker uit die pappot uit , hulle sal nie die kole deurmekaar krap nie

Danie ·

Ek se altyd kyk net om jou en wees eerlik wat word beter?Binne 10 jaar het ons dorp leeggeloop en is daar geen winkels of kafee nou net spaza winkels.Die naaste apteek en goeie besighede 70 km verder.Totale agteruitgang.

Schalk ·

Elke verantwoordelike Suid Afrikaner se wenslys sluit in dat realistiese en volhoubare planne geneem en uitgevoer word. Elke ekonoom sien dit en die verval van onverantwoordelike en roekelose afkondigings. Hoe kan die ANC nie die verval en misdrywe uitwys en aanspreeklikheid aanvaar nie? Miskien omdat daar baantjies vir boeties gebaan word? Nee, nie miskien nie verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.