Gerugte oor polisie wat kospakkies vat, is vals

Een van die plasings op Facebook (Foto: Verskaf)

Gerugte wat op sosiale media versprei is oor 200 kospakkies wat deur polisielede gekonfiskeer is toe ’n kerk in Pretoria-Noord dit by ’n blanke plakkerskamp wou uitdeel, is onwaar. Só het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, dit bevestig.

Luidens talle plasings en boodskappe op Facebook en WhatsApp is beweer dat lidmate van die “Lewende Lig”-kerk 200 kospakkies by die Bonaccord-plakkerskamp digby Pretoria wou aflewer toe die polisie klaarblyklik die kospakkies by die ingang van die park gekonfiskeer het. Die kerk is glo daarna weggewys.

In dié plasings is te kwader trou beweer dat die betrokke polisielede glo gesê het dat “geen kos by die wit mense afgelaai sal word nie”.

“Kan ons asb bid dat God sal ingryp, sodat arm blankes ook gehelp kan word,” lui die plasing verder.

Dié plasings het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. By sommige van die boodskappe is foto’s van brandmaer kinders saam versprei. Dié foto’s is voorgehou as honger kinders wat in dié spesifieke plakkerskamp woon.

Maroela Media het die Lewende Lig-gemeente in Wonderboom-Suid asook die Ewige Lig-gemeente in Montana gekontak en nie een van die kerke dra kennis van die beweerde voorval nie.

Die plasing met die foto’s van brandmaer kinders (Foto: Verskaf)

Leon Cronje van die niewinsgewende organisasie Boere Gemeenskap Transvaal besoek die Bonaccord-plakkerskamp gereeld en het Maandag 80 kospakkies by die kamp gaan aflaai. Die Boere Gemeenskap Transvaal-organisasie help verskeie plakkerskampe reg oor Gauteng.

Volgens Cronje het die persoon in beheer van die kamp gesê hulle dra glad nie kennis van die voorval met die 200 kospakkies en polisie soos op sosiale media beweer word nie.

“Ons het ook van die voorval op sosiale media te hore gekom. Toe ons Maandag kos daar gaan afgee het, was daar geen polisie, soos beweer, eers in sig nie. Niemand by die kamp weet eers van hierdie voorval nie,” vertel Cronje.

Cronje het beaam dat die foto’s van die honger kinders wat saam met die boodskap oor die kospakkies versprei is, van die internet afgetrek is.

Naidoo sê ’n saak is by die Pretoria-Noord-polisiestasie oopgemaak na aanleiding van die voorgeskrewe afsonderingsregulasies wat die verspreiding van vals nuus oor Covid-19 verbied. Verspreiding van vals nuus kan tot ses maande tronkstraf of ’n swaar boete lei.

Naidoo sê die polisie is tans op die spoor van die persoon wat verantwoordelik is vir die verspreiding van dié vals nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Lizanda ·

Hmmmm al hoe meer rooi ligte flikker …… sou ons dan kon aanvaar dat al hoe meer mense sit rond en dink storietjie uit oor polisie wangedrag en selfs diefstal soos op kringtelevisie vasgevang en gebeeldsend op TV, vra net?

Cherokee ·

‘….vra net’ Wat beteken die ‘vra nettery’ wat soos ‘n veldbrand versprei? En ja Lizanda, daar ìs mense wat verveeld is en sulke snert versprei. Die boo(s)skap het my mobiele foon ook bereik, maar nie verder gegaan nie. Mense wat deelneem in sosiale forums moet leer om tussen die lyne te lees.

Marieta ·

As dit n vals berig is, moet die skuldige party behoorlik aan die pen ry! Nie net is sulke onsin uiters ontstellend en kwaadstokend nie, maar dit stel alle ware nuusgewing oor vergrype en diskriminasie, bloot om as spekulasie of fopnuus afgemaak te word. Dit benadeel die geloofwaardigheid van ernstige oortredings en plaas net nog n stok in die hand van diegene wat alreeds magsdronk is.

Termiet ·

Stem saam met jou, maar dit het die klem geplaas op sukkelende blankes wat dood eenvoudig geignoreer word deur die regering en die feit dat hulle mag wil he oor alle skenkings. Ek sal hulle nie eers met ‘n dooie kakkerlak vertroue nie.

Kerneels ·

Sulke vals gerugte is uiters onstellend.

Dit maak my woedend as mense emosioneel daarop reageer en wild en wakker versprei sonder om na te gaan of dit die waarheid is of nie. STOP!!! DINK!!! Maak seker dis waar voor jy die share knoppie druk!!! Wil jy regtig die satan help om leuens te versprei?

Hierdie tipe boodskappe lyk vir my na psychological warfare wat gemik is op sekere groepe. En ons val daarvoor. Hard. Mission accomplished.

Michael 1 ·

Ek kan nie glo dat daar mense in hierdie tye is wat so onsensitief is om vals nuus van die aard te versprei nie ,julle sal gestraf word.

Fedup ·

Thank you for clearing this up for us mm. Now, as for that sick phsyco spreading this kind of stories. Please come and visit me. We have a lot to discuss. We have enough problems in this country as it is. No need to suck things out of your thumb to what end it is you are having.

Sobymykoolkop ·

Hoe verskriklik siek moet jy in jou kop wees om sulke snert te versprei. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Hoop regtig hulle snuffel jou uit.

Sarel ·

Besef die mense wat die boodskappe plaas watter skade hulle doen vetal.in die Buiteland of … is dit hulle doel

Sandra ·

Asof hier nie genoeg probleme in ons liewe SA is nie. Die verspreider van die fopnuus moet vasgevat en ‘n voorbeeld van gemaak word. Moedig eerder versoening as verdere haat aan.

Cherokee ·

Versoening Sandra? Versoening sê jy? As jy bereid is om met hulle te versoen, ek is in ‘n ander veld.

david ·

Hierdie berig is beslis afkeurenswaardig. Mens wonder wat probeer die persoon daarmee bereik ?
Daar is egter ook ‘n ander hoek om vanaf te kyk—
Dit is welbekend dat die regering alle voedselhulp wil sentraliseer en dit dus beheer.
Maar gedagtig aan met wie ons te doen het, net die volgende:
Is hierdie berig nie doelbewus gefabriseer nie.? Dit is ‘n ou politieke truuk om vooraf ‘n” insident”
te skep wat mense die herrie in gaan maak en dit dan as vals te bewys.
Moontlik gebeur so-iets werklik,. Iemand rapporteer dit maar dadelik is daar twyfel oor die egtheid
daarvan in sekere kringe en ander maak dit sommer af as net nog ‘n vals berig.
En so word inligting oor ‘n moontlike ware gebeurtenis, by voorbaat geneutraliseer

Kul jou hier, en kul jou daar, en siedaar…!

Kabous ·

Wel, ten minste het een persoon wat hier kommentaar lewer dit raak gesien. Ou truuk daai van Marxisme. Smoke and mirrors – so reg in die ANC se kraal. Dis die tipe van ding wat ʼn pseudo regering doen wat ʼn versteekte agenda het…

Agge nee ·

Nou waatom doen mens so-iets. Asof hier nie al genoeg rasse-spanning in ons land is nie. Los sulke vals berigte liewer dit is moreel verkeerd asook onwettig.

Oom Hennie Pennie ·

Sulke berigte is onstellend en die skuldiges MOET aan die pen ry en gestraf word asook hulle wat vrees en paniek saai in hierdie tyd!!

DEON ·

Die foto van die seuntjie op die strand is n 2016 foto wat n ma self geplaas het in n artikel oor maer kinder. het niks te doen met uithonger nie sien https://showandtellonline.com.au/whats-on-our-mind-today/skinny-kid
Die kind met die beertjie is n kind uit Tammam Jaramani in Syria
Die kind op die hospital bed is n 2014 foto van n kind in gepupubliseer in die Houston Cronicle Chron.com Nadat sy moeder gearresteer was.
Kom ons maak soos Maroela Medie voorstel, seker van ons feite

Ben ·

Deon. Goed gedoen. Goeie werk. Moes jou seker ñ tydjie geneem het om die inligting te bekom.

piket ·

Lizanda.
Nee, nie almal nie, maar die rooi ligte flikker inderdaad.
Hierdie soort van vals nuus is uiters gevaarlik.
Daarom moet ons ons daarvan weerhou om openbare polisieman
te speel want ons het nie die feite nie. Ondersteun eerder Afriforum en Solidariteit
en lewer selfs insette aan hulle, want hulle is gerat om aan hierdie soort
misdaad aandag te gee. Hulle doen uiters goeie werk en het elke opregdenkende
mens se ondersteuning broodnodig want hulle is die enigste wettige instellings
wat namens hulle lede en somaar ook alle Suid-afrikaners optree. Hulle is immers
die enigste spreekbuis wat enigsins vir ons optree, die ander “keybord warriors”
maak hoegenaamd GEEN verskil nie, hoe klein ookal ……………….

Estelle ·

Ek stem saam Frikkie, al gee ons net R10 vir Afriforum. Onthou dat die regering deur hul Solidarity Fund slegs vir hul mense en BEE mpy sorg. Maak seker ons gee vir Afriforum se Sokidariteitsfonds. Die regering se naam mislei mense nou en hul dink hul gee vir Afriforum.

pamela ·

Dit maak my baie hartseer dat mense valse gerugte versprei. Dis nie nodig nie.

katerinadiekat ·

Ek het nie hierdie berig gedeel nie. Toe ek dit die eerste keer sien, daardie foto van die maer seuntjie in die jeans – toe het ek die indruk in my kop gekry: “Dit is n Amerikaanse seuntjie”. Die indruk wat ek gekry het, is dat iets nie reg was met hierdie berig nie. Later is dit toe bevestig.

Cherokee ·

Jy’s in die kol, Katerina. Heeltemal reg. Ek meen, enigeen kon dit aan sy aksent hoor!

Cherokee ·

In die kol Katerina. Jy kon dit duidelik aan sy aksent hoor dat hy Amerikaans is.

Scalla ·

Paniek en vrees word onnodig gesaai, vernaam in omstandighede waarin die hele gemeenskap tans verkeer, kry asb eers feite reg alvorens so iets gestuur word, dit kan groot verleentheid vir baie veroorsaak.

Linda ·

Mernse het kort geheue. Net so paar weke terug was dit vals nuus dat GEEN blanke besigheid wat nie BBEE status en 51% swart eienaarskap het gehelp sou word deur die noodhulp fonds nie. En op die uiteinde was dit die godlike waarheid. Waar ‘n rokie trek, brand gewoonlik ‘n vuurtjie…

Gemaskerde Sopbeen ·

Die maklikste manier om so iets te hanteer is om ‘n paar oomblikke te DINK of dit waar kan wees of dalk nie. Dis baie makliker om so iets net aan te stuur, anders as om eers te wag en te oorweeg. Ek het al opgelet hoe geloofwaardig so iets kan lyk en het begrip dat mense mislei kan word.

As ek aanvaar dis ‘n blanke of blankes is wat dit geskep is, dan is die antwoord dat sulke optrede by verre meer skade as goed aanrig.

As ek aanvaar dat dit van oorsprong is vanuit ‘n ander politieke en/of kulturele groepering as die van Maroela lesers, dan is bereik wat hulle wou bereik, juis net omdat dit verder versprei is.

Stephne ·

Hoekom hoekom hoekom doen mense dit??? Daar is heeltemal genoeg probleme soos dit is, hoekom nog stir?

Anoniem ·

Elna, ek is geneig om met jou saam te stem. Hoekom moet al die skenkings nou skielik na ‘n sentrale punt vir verspreiding geneem word?. Hoe het die Polisie opgetree teenoor Afriforum wat mediese personeel georganiseer het om die mense by daardie kamp te laat toets.? Hulle is weggejaag by daardie kamp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.