Gestrande paartjie met heli by landgoed gehaal

Die brug in Parys wat na die Vaal de Grace-landgoed lei. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

ʼn Paartjie van Middelburg in Mpumalanga moes Sondag met ʼn helikopter van die Vaal de Grace-landgoed in Parys vervoer word, nadat oorstromings hulle by die landgoed vasgekeer het.

Susca en Frik le Roux het Saterdagaand by die landgoed oorgeslaap.

Susca het Maandag aan Maroela Media vertel dat sy en haar man op die ingewing van die oomblik besluit het om vir die naweek weg te gaan en eers in Clarens en toe in Parys gaan slaap het.

Susca en Frik Le Roux op pad na die helikopter. (Foto: Verskaf)

“Ons het nie juis die nuus dopgehou nie en besluit om Parys toe te gaan en daar te slaap. Toe my man Sondagoggend vroeg gaan stap, was die brug – en enigste ingang na en van die landgoed – heeltemal oorspoel.

“Inwoners het gesê dit gaan omtrent ʼn weeklange storie wees, maar ons kon nie ʼn week daar bly nie omdat ons ondernemings het om te bestuur. Die landgoedeienaars het ons toe gehelp om ʼn helikopter te reël wat ons daar opgelaai het.”

Hul voertuig staan nog steeds by die landgoed en die egpaar se dogter moes hulle by die lughawe op Parys gaan haal.

“Kom ons slaap in Parys langs die rivier vanaand…. “ was toe nie so wyse voorstel gister nie ????. Hoe moes Ek weet “VAAL DE GRACE GOLF ESTATE le in ń eiland omring met die Vaal rivier ????????Toe ons wakker word wakker vanoggend…

Posted by Susca Le Roux on Saturday, February 18, 2023

Vloede weens aanhoudende reën en die oopmaak van 12 sluise van die Vaaldam het reeds baie skade in Parys en die omgewing van Vanderbijlpark in Gauteng aangerig.

“Daar is baie skade. Baie mense se huise op die oewer, en selfs huise wat nog nie eens klaar gebou is nie, het baie skade opgedoen,” het Susca gesê.

Teen Maandag was 12 sluise van die Vaaldam steeds oop om die stygende watervlakke in dié oorvol dam te beheer.

Verskeie sosialemediagebruikers en ondernemings in die Vaal-omgewing het Maandag foto’s van die oorstromings op Facebook gedeel. Grootskaalse skade is reeds aan verskeie huise, ondernemings en infrastruktuur aangerig.

Die Rocky Ridge-lodge in Parys het foto’s van geriewe op hul perseel gedeel wat halfpad onder water staan.

Die lodge sê meer water word verwag.

“Ons het besluit om die oord tot verdere kennisgewing te sluit vir veiligheidsdoeleindes.”

In Lochvaal in Vanderbijlpark staan sommige huise en geboue naby die Vaalrivier tans byna heeltemal onder water. Voertuie is ook afgeneem waar dit in die water dryf.

Marlene Jansen van Lochvaal se huis is erg deur die vloede beskadig. (Shiraaz Mohamed / AFP)

’n Motor onder die vloedwater in Lochvaal in Vanderbijlpark. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

Vloede in Parys. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

’n Beskadigde pad in Lochvaal. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

Maroela Media het vroeër berig dat sommige inwoners en vakansiegangers in die omgewing van die Vaaldam en Vaalrivier reeds oor die naweek verwyder is. Baie ander ondernemings moes noodgedwonge hul deure sluit.

Oorstromings het ook oor die naweek in verskeie ander provinsies, waaronder Noordwes, voorgekom.

Die Wawielpark-vakansieoord in Stilfontein naby Klerksdorp het foto’s van hul oorstroomde perseel op Facebook gedeel met die byskrif “ons is tans in ʼn vloedsituasie”.

In Standerton in Mpumalanga was verskeie paaie asook die Meyerville-brug weens oorstromings gesluit. Maroela Media het van ʼn leser verneem dat die paaie en brug egter Maandag weer vir verkeer oopgestel is en dat die water “teruggetrek het”.

Die Wawielpark-vakansieoord in Stilfontein, Noordwes. (Foto: Facebook / Wawielpark)

Vloedskade in Lochvaal. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

’n Beskadigde pad in Lochvaal. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

En dit gaan vererger en meer grusaam word todat die media die feite gee soos dit is en die politieke korrektheid met die badwater by die agterdeur uitgooi.

Vonny ·

Ons moet asb bid.
My vriendin wat n gasteplaas langs die Vaalrivier het oppad na Parys…
Het ALLES verloor.
Slegs hul selfone en klere.

Ons sal dit as n ramp verklaar.

Mnr Cyril of hoe dink u?

gpsa ·

Ek lees elders dat daar nie meer sluise oopgemaak kan word nie omdat hulle nie onderhou was nie en gebreek is. Ook dat die damwal moontlik nie die water kan hou nie??

Truth2bfree ·

Nie korrek nie, dit kan nog veel erger vloede veroorsaak by die onderste dorpe sodra jy sluise oopmaak.
Ons moet net bid dat die damwal nie meegee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.