Gevaarlike stormweer vir Kaap voorspel

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Inwoners van die Kaapprovinsies sal vandeesweek hul sambrele en reënjasse moet uithaal want wydverspreide reën- en donderbuie word oor dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap verwag.

Waarskuwings vir uitermatige storms wat tot oorstromings kan lei, is reeds vir dié gebiede uitgereik.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê ʼn laedrukstelsel het Woensdag oor dele van die land begin inbeweeg. Teen Donderdag het dit oor die westelike dele van die land en langs die kus van die Oos-Kaap beweeg.

Dié stelsel sal na alle verwagtinge erge reën- en donderbuie oor die hoogliggende gebiede in die suide van die Noord-Kaap veroorsaak. Die westelike dele van die Wes-Kaap en die Oos-Kaap sal na verwagting vanaf Donderdagmiddag soortgelyke weerstoestande hê.

Dit is ongewoon dat hierdie gebiede dié tyd van die jaar so baie reën kry, maar die buitengewone verskynsel word grotendeels aan die laedrukstelsel toegeskryf.

‘n Skermskoot van hoe die laedrukstelsel Donderdag lyk. (Foto: South African Weather Service/Facebook)

Die weerdiens het ʼn oranje vlak 5-waarskuwing vir donderstorms, hael en verwoestende winde oor die westelike dele van die Wes-Kaap uitgereik. Gebiede soos Langebaan, Ceres en Vredendal gaan veral erg hierdeur geraak word.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing is ook vir die Paarl, Kaap Agulhas en Worcester uitgereik. Dieselfde waarskuwing geld vir dele van die Noord-Kaap soos Calvinia en Sutherland.

Ontwrigtende reën en verwoestende winde word oor gebiede soos Port St. Johns en Koffiebaai in die Oos-Kaap voorspel.

Volgens die weerdiens is daar Donderdag ʼn 80%-kans op reën vir die betrokke gebiede in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap.

“Die swaar reënbuie kan veroorsaak dat gebiede tussen 50 mm en 80 mm reën kry, met sterk rukwinde van 50 km/h tot 80 km/h,” lui die weerdiens se waarskuwing.

“Oormatige weerlig en groot hoeveelhede klein en groot hael kan veral oor die westelike dele van die land verwag word.”

Die weerdiens waarsku die komende weerstoestande kan kitsvloede veroorsaak, skade aan infrastruktuur aanrig en selfs menselewens eis indien oorstroomde gebiede oorgesteek word.

Die weerstoestande sal na verwagting tot die naweek voortduur.

Ander dele van die land sal na verwagting nie so erg deurloop nie. Die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo het Donderdag ʼn 30%-kans op reën. Min tot geen reën word in Noordwes en Gauteng verwag nie.

Die kans op reën Donderdag. (Foto: South African Weather Service/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.