Gevangenes geskuif ná oproer by Limpopo-tronk

Dele van die Kutama Sinthumule-tronk is beskadig tydens ʼn brand (Foto verskaf aan GroundUp)

Deur Bernard Chiguvare, GroundUp

Meer as 3 000 gevangenes by die Kutama Sinthumule- korrektiese sentrum buite Louis Trichardt (Makhado) in Limpopo word na ander tronke oorgeplaas ná ʼn groot brand die gebou vandeesweek beskadig het.

Een gevangene het in die brand omgekom. Twee gevangenes is beseer en ontvang behandeling in die hospitaal.

Die brand is Maandag gestig, na bewering deur gevangenes wat opgeruk het ná hul klagtes, dat hul griewe oor die toestande en mishandeling by die fasiliteit op dowe ore geval het. Die tronk word bestuur deur South African Custodial Management deur ʼn staat-privaat vennootskap.

Volgens Exclusive Mediators, ʼn organisasie wat hom vir die regte van gevangenes beywer, poog gevangenes om kwessies aan te roer oor beweerde onwettige behandeling en swak toestande by die fasiliteit. Ander klagtes sluit onder andere in dat hulle deur personeel aangerand en gemartel word, onvoldoende kos, dat hulle moet pleit vir toegang tot gesondheidsorg en dat hulle aansoeke om oorplasing van die hand gewys word.

GroundUp het vyf saaknommers ontvang wat by die Makhado-polisiestasie deur en namens gevangenes aangemeld is. Lt.kol. Mamphaswa Seabi het bevestig die sake is teen tronkbewaarders aanhangig gemaak. “Sommige sake is nog in die hof en ander sake is teruggetrek of gesluit,” het hy gesê.

Seabi het gesê in een van die sake het ʼn dossier uit die polisiestasie verdwyn. “Die polisie in Makhado het ʼn saak van aanranding oopgemaak ná ʼn gevangene deur ʼn tronkbewaarder aangerand is.” Hy het gesê die gevangene het op 9 Desember 2021 om 18:25 met ander gevangenes baklei toe die tronkbewaarder ingekom en hom na ʼn ander sel geneem het. Hy is geslaan en is daarvan beskuldig dat hy die bakleiery begin het. Seabi het gesê die tronkbewaarder is van aanranding aangekla, maar die saak is teruggetrek.

Exclusive Mediators sê hy het tevergeefs die gevangenes se klagtes na die departement van korrektiewe dienste verwys.

Adjunkminister van justisie Phathekile Holomisa, minister van justisie Ronald Lamola en nasionale kommissaris Makgothi Thobakgale by Kutama-tronk (8 Augustus 2023) (Foto: Bernard Chiguvare/GroundUp)

Die gevangenes het op 27 Julie ʼn memorandum ingedien met hul klagtes. Die departement het bevestig dat hulle die memorandum ontvang het, en sal na verwagting teen 14 Augustus reageer. Die departement het op 4 Augustus ʼn span uitgestuur om die bewerings te ondersoek. Die oproer het ʼn paar dae later begin, glo ná ʼn vergadering met bestuur en die gevangenes wat hul klagtes na die departement gestuur het.

“Hierdie is ʼn privaat tronk en mens sou dink dat hulle behoorlik gerehabiliteer word, kragtens Wet 111 van 1998, wat uitdruklik bepaal dat die gevangenes in ʼn veilige omgewing gehou moet word. Dit is sodat wanneer hulle skuldig bevind en gevonnis word, hulle weer by die samelewing kan integreer ná hulle hul tronkstraf uitgedien het,” het Glynnis Marriday, bestuurder by Exclusive Mediators, gesê.

“Gevangenes moet nie in ʼn ‘Droë Kamer’ gemartel word of deur bestuurders van die sentrum aangerand word nie. Gevangenes het sake by die polisie aanhangig gemaak, maar dit word nie deur die ondersoekbeampte opgevolg nie. Dit is asof die polisiestasie hul blind hou vir hierdie tipe sake,” voeg Marriday by.

Sy het gesê gevangenes loop rond met krukke en uriensakkies ná hulle aangerand is, en tog word daar niks oor die aanrandings gedoen nie. “Die gevangenes pleit dat die departement by die privaat maatskappy sal oorneem en sal voldoen aan sy mandaat in Wet 111 van 1998.”

Ná die brand en afsterwe van ʼn gevangene, wat ʼn vonnis van 33 jaar uitgedien het, het ʼn afvaardiging van die departement van korrektiewe dienste, insluitend minister van justisie Ronald Lamola, die sentrum besoek.

Lamola het die gevangenes se gedrag veroordeel. “Ons het begrip dat oortreders hul besware wil opper, maar hierdie tipe gedrag kan nie binne korrektiewe dienste geduld word nie.” Lamola het gesê die gevangenes is Dinsdag getel om seker te maak dat niemand ontsnap het nie.

Hy het gesê ʼn saak is ook teen die vermeende aanhitsers van die oproer aanhangig gemaak.

Die Geregtelike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste (JICS) het aan GroundUp gesê alhoewel hulle nie direk enige klagtes van gevangenes ontvang het nie, is hulle besorg oor die bewerings. “Ons beskou alle bewerings in ʼn baie ernstige lig en sal die situasie bly monitor om die regte en welstand van gevangenes te verseker,” het JICS-woordvoerder Emerantia Cupido gesê.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Net lee woorde, hulle griewe val werklik op dooie ore asof hulle nie mag praat nie, ja hulle dien hulle straf uit maar het n reg om gehoor te word, die tronk is definitief nie n lekker plek soos baie beweer nie.

Johann ·

Siestog shame. Die arme goed. Seker ‘n voorbeeld gewees van wat gaan gebeur as hulle pel Zumpi langer as ‘n uur in die tronk was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.