Gewilde Boksburg-nagklub in vlamme gehul

[Foto: Shaun Els, Facebook]

Presleys, een van die gewildste nagklubs in Boksburg aan die Oos-rand, was Saterdagaand in vlamme gehul.

Volgens Eric Maloka, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, is brandbestryders ná 19:00 na die toneel ontbied om die vlamme te blus.

“Boksburg se brandweer het op pad na die nagklub die vlamme gewaar en nog hulp van vyf ander brandweerstasies ontbied, waaronder die Primrose-, Farramere-, Albertina-, Rynfield- en Wadeville-brandweer,” bevestig Maloka.

“By die brandweer se aankoms op die toneel is ’n soek-en-reddingsoperasie uitgevoer en drie pasiënte is met rookinaseming uit die gebou gered. Hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

[Foto: Greenstone Hill Community, Facebook]

Shaun Els van Declaration Medic Services het gehelp met die reddingsoperasie van die vyf pasiënte.

Die brand is binne tien minute in bedwang gebring sodat dit nie verder versprei nie. Die brand is teen Sondag vroegoggend heeltemal geblus.”

Volgens Maloka is mense in die omgewing veilig verwyder en verkeer herlei.

“Die oorsaak van die brand word deur Ekurhuleni se brandveiligheidsbeamptes ondersoek.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.