‘Giftige gas’ oorval gesin, sesjarige sterf

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Sesjarige seun is Woensdag in ’n huis in Rustenburg, Noordwes, dood nadat ’n giftige stof of gas vermoedelik die gesin oorval het. Die res van die gesin is tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Die polisie krap kop oor watter stof of gas die gesin moontlik kon inasem. Die omstandighede rakende die voorval is in hierdie stadium nog nie duidelik nie en word ondersoek.

Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 02:00 na die huis in ’n veiligheidsoord in die Cashan-woonbuurt in Rustenburg ontbied. Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle reeds die nooddienste daar aangetref.

Paramedici was besig om die ma, pa, hul 15-jarige seun en dogter, vermoedelik sewe of agt jaar oud, te behandel. Hulle is daarna per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Myburgh sê van wat sy verneem het, is die ma in ’n kritieke toestand in die hospitaal se hoësorgeenheid.

Die vyfde lid van die gesin, ’n sesjarige seun, is op die toneel dood verklaar.

Myburgh sê volgens inligting wat sy ontvang het, was die krag Dinsdagaand in die betrokke woonbuurt af. Inwoners van Rustenburg sê kragonderbrekings kom gedurig hier voor.

“Die gesin het omstreeks 20:00 hul kragopwekker aangeskakel. Hulle het dit tussen 22:00 en 23:00 weer afgeskakel toe hulle gaan slaap.

“Die ouers het glo omstreeks 01:00 wakker geskrik toe hulle ’n harde slaggeluid hoor. Ons kan nog nie bevestig wat die harde geluid veroorsaak het nie. Hulle het daarna glo ’n skerp reuk geruik en onmiddellik sleg gevoel. Hulle was gedisoriënteerd en het asemhalingsprobleme ondervind.”

Volgens Myburgh het die ouers in hul swak toestand na hul seuns en dogter se kamers gegaan. Hulle het gesukkel om hul tienerseun wakker te maak omdat hy moontlik reeds byna bewusteloos was. Hulle kon nie hul sesjarige seun wakker kry nie, maar hul dogter was reeds wakker.

Die ouers het in die proses ook die nooddienste na die huis ontbied.

Volgens nooddienste en polisielede wat op die toneel was, het hulle ’n skerp brandreuk geruik.

“Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal wat die oorsaak van die sesjarige se dood is.”

Gert du Plessis, ’n DA-raadslid van die Rustenburg- plaaslike munisipaliteit, sê die dorp ondervind gereelde kragonderbrekings. Inwoners sit daagliks soms ure lank sonder krag.

“Die munisipaliteit versuim die afgelope 27 jaar al om die infrastruktuur in stand te hou en daarom sit ons vandag met kragonderbrekings,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis het die dorp die afgelope naweek 36 uur lank sonder krag gesit nadat transformators in ’n mini-substasie se olie gesteel is. Hy sê die krag was Dinsdagaand ook twee keer af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hardekwas ·

Lê n klag teen die stadsraad vir moord en poging tot moord.

Vlam ·

My meegevoel met die gesin. Ongelukkig is die krag al vir jare ‘n probleem in en om Rustenburg, veral buitekant die dorp. Ons spot gereeld dat as daarso onweer in Pretoria is sit ons buitekant op die plotte sonder krag. Hoop die gesin kry antwoorde en die nodige vertroosting in hierdie moeilike tyd

Grens ·

Rustenburg se krag en water dienste bestaan basies nie. Totale gemors op hierdie staduim.

Elinette ·

Alles in die land is ‘n totale gemors op dié stadium ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.