Gilde vir regslui bied beurs vir Akademia se nuwe LLB-graad

Werner Human van Solidariteit maak die beroepsgilde vir regslui se beurs vir Akademia se nuwe LLB-graad bekend. Foto: Verskaf.

Akademia se nuwe LLB-graad het ʼn week ná sy bekendstelling reeds 60 aansoeke ontvang. Solidariteit se beroepsgilde vir regslui het boonop Dinsdagoggend aangekondig hy sal ʼn volledige beurs vir ʼn suksesvolle kandidaat van die eerste tot finale jaar vir dié graad beskikbaar stel.

“Die regslui sal verder ook ʼn volle internskap by die beste firmas in Pretoria en Johannesburg vir die student reël. Verder sal die student ook toegang kry tot enige gratis opleiding en klerkskapkursusse wat die gilde en Akademia aanbied,” het Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit, gesê.

Human was een van die sprekers Dinsdagoggend tydens die amptelike bekendstellingsgeleentheid vir Akademia se LLB-graad by die InnJoy-boetiekhotel in Eldoraigne, Centurion. Hy meen die graad is ʼn reusesprong vorentoe vir dié Afrikaanse private hoëronderwysinstelling.

Hy het bygevoeg dat elke graad wat geakkrediteer word ʼn oorwinning is vir Akademia. “Dít is ʼn geskiedkundige dag waarin ons sekerheid skep vir studente. Akademia skep ʼn antwoord op die noodkreet na gehalte-onderrig in studente se moedertaal. Verder bied dit ook studente ʼn keuse, iets wat studente dikwels nie meer het nie as hulle steeds graag in Afrikaans wil studeer.”

Hy meen die akkreditasie van hierdie nuwe graad kom ook in ʼn tyd waar die regslui as beroep onder druk is om te verengels.

Human het verder gesê elke professionele beroep behoort ʼn gemeenskap in die taal van hul keuse te bedien en dit geld nie net vir onderwysers nie, maar ook vir die regslui.

Volgens prof. Koos Malan, kenner in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, gaan regte oor die strewe van geregtigheid en daarom kan ʼn universiteit se Regsdepartement nie alles net goedsmoeds beaam nie.

“ʼn Studie in regte behels regskennis, maar dit gaan ook oor tegniek om ʼn goeie betoog voor te berei en getuienis te lei. In die regte gaan dit ook daaroor om verantwoordelike besluite te neem en hierdie kennis en wysheid gaan dan ook dikwels gepaard met insig en diskresie.”

Malan meen dat talle universiteite deesdae omskep is in nog staatsdepartemente. “In ʼn poging om wat ek noem ʼn transformatiewe ideologie tot elke prys na te streef, is daar ʼn weersin of totale renons in die Westerse tradisie van die regte, maar  ook ʼn argeloosheid oor wat Afrika se inheemse regte bied.

“Ek dink Akademia staan tans in ʼn bevoorregte posisie om terug te keer na die fontein van die Romeinse en Westerse, asook Nederlandse en selfs Engelse regstradisies, terwyl dit ook die regsdenke van Afrika kan ontgin.”

Hy het bygevoeg dat dit ʼn opwindende tyd vir Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap is. “Terwyl ons eintlik oor geen politieke mag beskik nie, is daar nou weer opnuut ʼn nuwe energie in die gemeenskap om sy eie reg op te neem om ons kultuurbates te beskerm. ʼn Mens sien dit veral by Akademia waar dit gebeur met die ondersteuning van Solidariteit.”

Dít maak Akademia se LLB-graad uniek

Felicia Snyman, ʼn dosent by Akademia, het gesê daar is talle aspekte wat dié instelling se LLB-graad besonders maak.

“Studente wat aan Akademia studeer, sal met gemak tussen die grade BCom Regte en LLB kan oorskakel. Dit was vir ons verder ook belangrik met die ontwikkeling van die graad dat die kwalifikasie van ʼn hoë gehalte is en terselfdertyd waardes oordra.”

Snyman het verder gesê die graad het ʼn samestelling van vakke uit verskillende regsdissiplines. Studente sal ook taalvaardigheid in Afrikaans en Engels aanleer.

“Ons sal van die beste tegnologie insluit om skynhof in te oefen en beoog ʼn regskliniek waar studente reeds vroeg dit wat hulle geleer het in hulle gemeenskappe kan terugploeg.”

  • Aansoeke om Solidariteit se beroepsgilde vir die regslui se volle studiebeurs vir Akademia se LLB-graad kan van 28 November tot 15 Januarie by Gildes.co.za ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

potlood ·

Dit is werklik n geskiedkundige dag net jammer dit kon nie in n onafhanklike staat gebeur waar wet en orde heers,geen diskriminerende wette teen wit minderhede is nie en almal ongeag ras of geslag gelyke kanse het.

Johan ·

Baie geluk Akademia, dis hopelik die begin van die terugkeer na behoorlike standaarde in die regsberoep.

jaco ·

waar gaan die wit gegradueerdes almal werk kry? wat van regstellende aksie? ALMAL kan nie in die buiteland gaan werk nie. werk is nie so erg vollop daar nie en dis regtig duur om te verhuis.
wat ek ook wil weet is hoe kom Akademia self by regstellende aksie en BEE verby? Wanneer n besigheid se inkomste n sekere bedrag oorskry en/of wanneer die personeel n sekere getal oorskry, MOET regstellende aksie en BEE toegepas word. doen jy dit nie, volg boetes en die besigheid kan selfs gedwing word om te sluit.
Ek vra dié goed nie omdat ek negatief is nie. ek wil net graag ‘n antwoord hê. Ek het dit al hier gevra. my kommentaar en vrae is of nie geplaas nie, of ek het kommentare gekry wat my van negatiwiteit beskuldig,

Leon ·

Baie goie nuus.
Ek neem aan die gegradueerdes sal in die buiteland gaan praktiseer. Die afgestudeerdes sal moet deur die rassitiese bewind goedgekeur moet word on in die RSA te praktiseer. Ek dink nie hulle sal hoogs gekwalifiseerde regslui wil hê wat hulle op hulle neuse laat kyk nie. So, die ouens sal seker maar moet emigreer waneer hulle gradueer. Jammer.

Gert ·

Jaco, daardie is vrae wat my ook pla. Die feit is egter dat daar nou weer die opsie is om in ons eie taal ‘n goeie kwalifikasie te kry, iets wat tans net op Potch moontlik is, maar met ‘n vyandige vise-rektor wat hard werk om daardie opsie ook weg te vat. Die eerste stap is tog om ‘n behoorlike kwalifikasie te kry, dan kyk jy na die volgende stap, nl. werk.
Die SEB swaard hang egter steeds oor alles, so hierdie beteken definitief nie dat daar nou ‘n rooskleurige toekoms in hierdie land is nie.

Henru ·

Welgedaan. Plasing in die werkplek na afstudering is juis die rede waarom Solidariteit die Gilde vir Regspraktisyns gevestig het. Ons is hier om te bly en te bou. Vir meer besonderhede besoek gerus Solidariteit se webblad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.