G’n handboeke, g’n bib; g’n wonder kinders kan nie lees

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Met dié dat die departement van onderwys nie eens voldoende handboeke of biblioteke aan skole kan voorsien nie is dit nouliks verbasend dat agt uit tien van die land se gr. 4-leerders nie behoorlik kan lees nie.

Tans het 775 openbare skole biblioteke, maar nog 3 375 moet daarsonder klaarkom.

Die DA sê die departement van onderwys het ook liederlik daarin gefaal om ʼn hofuitspraak na te kom om gehalte leerinhoud aan leerders in die Oos-Kaap te verskaf.

Die departement is verlede jaar deur die Makhanda-hooggeregshof opdrag gegee om te verseker dat elke leerder by elke openbare skool in die Oos-Kaap van ʼn volledige reeks skryfbehoeftes en handboeke voorsien word.

Die handboeke is veronderstel om elke vyf jaar vervang te word omdat dit daagliks gebruik word en om te verseker dat die inhoud relevant en op datum is.

Die huidige handboekvoorraad is in 2016 uitgerol en het in 2021 verval. Kosteberamings vir ʼn volledige vervanging van al hierdie boeke is sowat R2,5 miljard.

Volgens Yusuf Cassim, ʼn woordvoerder van die DA se onderwysportefeuljekomitee in die Oos-Kaap, maak die huidige 2023-’24-begroting, wat tans hersien word, slegs voorsiening vir aanvullingsbestellings van handboeke en nie vir ʼn volledige vervangingsbestelling nie.

Die begroting oor die volgende drie jaar maak ook nie voorsiening vir die handboekbestelling wat sedert 2021 uitstaande is nie.

“In plaas daarvan om regstellende maatreëls te tref om te verseker dat leerders ten volle toegerus is met die gereedskap wat hulle nodig het, het die departement telkens gewys dat hy nie in staat is om sy begroting te prioritiseer nie,” sê hy.

“In vergelyking hiermee gaan die Wes-Kaap voort om te belê in die verbetering van sy leerders se leesvermoë en hy het onlangs R1,2 miljard opsy gesit om enige tekorte in hierdie vermoëns aan te vul.”

Die DA het onderneem om tydens die onderwysportefeuljekomitee se vergadering te versoek dat die begroting aan die departement terugbesorg word om hierdie befondsingstoekennings te hersien.

“Sou die departement versuim om dit te doen of die begroting aan te pas sal ons [die DA] die begroting verwerp wanneer dit volgende maand na die wetgewer gebring word vir bekragtiging.”

Cassim sê die tekort aan handboeke en biblioteke is veral kommerwekkend in die lig van die jongste verslag van die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), ʼn internasionale opname oor geletterdheid, wat bevind het dat 81% van gr. 4-leerders in die land nie met begrip kan lees nie.

Die gr. 6-leerders van die Oos-Kaap het uit al die provinsies ook die swakste presteer.

“Hierdie kommerwekkende statistieke beklemtoon ʼn ernstige geletterdheidskrisis wat onmiddellike aandag verg” sê hy.

“Die geletterdheidskrisis is ʼn duidelike aanduiding van ʼn gebroke stelsel wat ernstige ingryping benodig. Ons nasie se toekoms hang af van ʼn opgevoede en geletterde nasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Diepoppie ·

Net so ja!!! My kind se juffrou wil hê hy moet meer lees maar die skool het nie eers n biblioteek nie!! Dis waar die probleme begin!

George ·

Hoeveel boeke het jy gekry vir jou kind? Het jy hom gevat na die publieke bib toe? Of is dit op die skool?

Johann ·

Dis presies waar die ANC die bevolking in wil hê en hou. Ongeskoolde massas word maklik in toom as stemvee gehou met ‘n grant of drie, kospakkies en Tshirts. O ja, en herhaalde onvervulde beloftes.

annie ·

Sedert 1994 is miljarde die wagwoord. Miskien is triljoene ook te lig in die broek vir Afrika. Dit aan iets tipies Afrika om bygevoeg te word in die nuwe woordeboeke waarvan daar ook ‘n groot tekort is.

Cherokee ·

Ek hoor wat jy sê annie, en ek duim nie op of af nie, maar herrinner jou aan inflasie.

Wonder ·

Wat??? Kom hull dit nou eers agter my kinders is al matriek en hull sukkel al met handboeke ens van Gr1 af.

Cherokee ·

Jou kinders in matriek sou ‘hulle’ geskryf het en ‘n punt agter die ens bygevoeg het.

Zoey ·

Wel, die skole moet hulle werk doen, maar ouers is net so skuldig. My kind is van kleins af geleer hoe belangrik lees is. Sy koop met haar baie klein sakgeld toelae dus eerder ‘n nuwe, interessante boek. En as dit ‘n “versamel” stuk is, dan spaar sy tot sy die geld het daarvoor. Kinders lê voor die TV, is heeldag met die selfoon in die hand en speel speletjies. So hou op om net die skole te blameer. Wanneer laas het jy as ouer vir jou kind ‘n bed tyd storie gelees? En die biblioteke wat nog bestaan, is in ‘n haglike toestand. Ek onthou toe ek nog baie jare gelede ‘n laerskool kind was, het die skool ‘n massiewe biblioteek aangebou. En daar was periodes wat ‘n klas in die biblioteek spandeer het. Daar kon ons dan vir daai periode sit en lees. Die liefde vir lees moet van al drie kante af kom: die ouers, die kind en die skool.

George ·

Die bibs waar ek die afgelope tyd was, was in goeie toestand, ek voel jy se dit net omdat dit SA is.

Zoey ·

Nee glad nie George. SA is my land, dis my wortels. Ek moes onlangs ‘n ouer dames vriendin na die biblioteek toe vat waar sy gewoonlik boeke uitneem, en ek was geskok. Die plekkie is so klein en donker, so weggesteekte plekkie en die boeke lyk meestal na skenkings. Dis verniel. As jy vir my kan sê of die bibs wat jy besoek het in Pretoria is en waar, kan ek haar soontoe neem. En die biblioteke in ons woonbuurt het heeltemal toegemaak.

Zoey ·

LOL, ek het altyd plek vir nog kinders. Ek het nou al baie wat eintlik nie myne is nie.

Lillian ·

Hoekom is daar nie meer biblioteke by skole nie? Want die kinders verstaan nie dat jy net die boek leen nie, moet mos altyd als aas.

George ·

Die kinders wat die boeke vat of verniel is n direkte beeld op wat hul by die huis en ouers sien.

George ·

Menige skole het dit steeds, elke Laerskool en Hoërskool wat ek ken, het dit steeds.

George ·

Die ouers kan ook gerus hul deel doen. Alles kan nie op die skool geplaas word nie.

Wonder ·

Dit gaan nie oor die skool noe dit gaan oor die skool Departement wat nie sorg vir dit nie en dis hull plig om dit te kan doen skoolfonds is nie meer kleingeld nie, en dis oor daar nie meer mag dissipline in die skool mag wees nie ons dae se dissipline het ons geleer om die boeke op te pas en as jy dit verniel het het jy op gedok by die skool en sommer by die huis ook… Punt is regering worry niks oor hoe verder SA val nie, so lank hulle beheer kan uit oefen en geld sluk hoe beter.

Amelia ·

Is ouers nie veronderstel om self skryfbehoeftes te koop nie of is dit net sekere skole wat ouers self skryfbehoeftes moet koop

Gaitsigubib ·

Wanneer die publiek versaak word deur hul regering is dit tot almal se nadeel. Die groot probleem kom egter wanneer hulle die media inspan vir die toesmeer werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.