‘Goue handdruk’ vir Transnet-hoës

(Foto: Transnet)

Ondanks ʼn belofte van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, dat korrupte werkers van staatsbeheerde ondernemings binnekort in die beskuldigdebank sal wees – en indien hulle skuldig bevind word, in “oranje oorpakke” gaan rondloop – is nog peperduur skikkingsooreenkomste glo met senior beamptes aangegaan.

Die vervoervakbond Untu sê pleks daarvan om na die minister se belofte te luister, het die uitvoerende hoof van Transnet, Portia Derby, eerder ʼn goue handdruk gegee aan amptenare teen wie ernstige bewerings van staatskaping geld.

Derby is in Februarie as hoof van die sukkelende staatsinstelling aangestel.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê luidens berigte in Business Maverick het Transnet Nonkululeko Sishi, die menslikehulpbronbeampte, Lenny Moodley, die uitvoerende hoof van Transnet se pypleidings, en Shulami Qalinge, uitvoerende hoof van Transnet se nasionale haweowerheid, in die pad gesteek.

Die drie sou dissiplinêr verhoor word nadat hulle beskuldig is van wangedrag wat verband hou met die verbreking van Transnet-prosesse en die etiese standaarde wat van ʼn senior bestuurder verwag word.

Luidens die berig het Transnet se waarnemende hoof van menslike hulpbronne, Khaya Ngema, gesê Sishi se tugverhoor is afgehandel “nadat ʼn skikking met haar aangegaan is om die organisasie te verlaat”. Ngema wou nie besonderhede oor die skikking bekend maak nie en het aangevoer dit is teen Transnet se beleid om arbeidsake in die openbare domein te bespreek.

Harris sê net ʼn jaar gelede het dr. Popo Molefe, voorsitter van Transnet se raad, beloof dat geen goue handdrukke meer uitgedeel gaan word aan senior beamptes wat van wangedrag beskuldig word nie – of hulle nou skuldig bevind word of nie.

Untu het vantevore kapsie gemaak nadat skeidingspakkette ook aan Ravi Nair, voormalige hoof van spoorvrag by Transnet, en Tumelo Mokwena, bestuurder van menslike kapitaal wat bedank het, betaal is.

“Transnet het erken dat Mokwena ʼn goue handdruk van R9,7 miljoen ontvang het. Skeidingspakkette van nagenoeg R28 miljoen is al aan voormalige hoofde betaal,” het Harris gesê.

Die vakbond sê dit is uiters kommerwekkend dat Transnet miljoene rande aan bestuurders betaal wat glo korrup is, terwyl werkers net afgedank word.

“Untu het rede om te glo dat Transnet bloot betaal om ʼn maklike uitweg te vind, eerder as om gehoor te gee aan die minister se belofte dat strafregtelike klagte ingedien gaan word en tronkstraf op skuldigbevinding moet volg. Untu is nie bewus van enige strafregtelike vervolgings wat met staatskaping by Transnet verband hou nie.”

Gordhan het in Januarie verlede jaar gesê die staatskaping van Transnet is “meesterlik” gedoen. Die organisasie was volgens die minister die eerste staatsbeheerde onderneming wat gebruik is as ʼn sogenaamde toetslopie vir staatskaping om te agter te kom hoeveel kapitaal moontlik in die sakke van individue kan beland.

Harris het gesê die kwessie sal met die minister en die Transnet-raad bespreek word wanneer hulle vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Pravin is deel van die klomp komuniste. Hulle het die land op sy knie hulle en so hou hulle aan om ons belasting geld te plunder

Nie Verbaas ·

Gordhan is duidelik kleurblind. Hy ken duidelik nie die verskil tussen oranje en goud nie. Ook nie die verskil tussen oorpak en handdruk nie. Die ANC sirkus duur voort.

marius ·

Hulle is almal uit dieselfde hout gesny ….papaja boom . Punt

Onnie ·

Dit maak my so naar, ek wil aanmekaar kots! Hoe kan jy vir iemand wat reeds geld gesteel get, nog geld gee?? Mag elkeen wat die staatskoffers so plunder hulle dag kry.

Jacobus ·

Die is verregaande. Wanneer gaan daai sg prof wat so kla oor hardverdiende erfgeld hom liewer uitspreek oor dié. Goeie genugtig, ons tel elke sent na 30jaar onbesproke diens in van die hardste moontlikke industrië. Hier kry kwalik bevoegdes gatsakke vol geld. (Belasting- ek wonder!) Die prof, die ander huursoldaat joernaliste en HSM “praise singers” moet hul jag op hardwerkende suksesvolle burgers staak en begin dink om die kriminele (almal) agter slot en grendel te kry. Georganiseerde misdaad begin lyk na ‘n lonende beroep.

Mrs H ·

So sal dit aangaan terwyl ‘Black Empowerment’ aan die orde van die dag is – wat by the way volgens my n rakleeftyd moes gehad het, wat lankal moes verval het.

Magda ·

IF YOU CAN’T BEAT THEM JOIN THEM!!!!! IT IS AFTER ALL OUR MONEY!!!!!!

JohanR ·

Dankie baas! Soe lekker om ‘n ANC kader te wees. As die geld in die jare voorentoe nou bietjie min raak kan julle my weer iewers aanstel?

Sarel ·

So word die mense vergoed en due gewone werkers moet die prys betaal. Wanneer gaan die skuldiges vervolg word.

4ntj13 ·

Wel, wel! Die minister se woord is sy woord. Waar is die strafregtelike klagte teen die afbetaaldes én diegene wat die besluite TEEN OPENBARE BELANG geneem het? Moet die minister nou poliesman ook speel? Wat het van ons NPA geword?–Ook nog steeds gekaap? Of lê die probleem elders?

Adri ·

‘n Mens het nou al die punt bereik dat jy ‘n berig soos hierdie een net so entjie lees en dan vir jouself sê: “Aggenee, nog een”, en dan nie verder lees nie, want jy weet wat volg. Ons is suksesvol gekondisioneer.

Jacobus ·

Ou intervarsity liedjie lui so:
Dis lekker om ‘n kader te is, te is…………..

'n Simpelman ·

Die ANC sirkus duur voor Goeie woorde “nie verbaas”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.