Goue handdruk vir UK-visekanselier

Prof. Mamokgethi Phakeng. (Foto: Universiteit van Kaapstad.)

Die Universiteit van Kaapstad se visekanselier, Mamokgethi Phakeng, sal op 3 Maart amptelik uit haar rol tree en stap met ʼn yslike pakket van R12,5 miljoen weg.

Dít nog voor die afhandeling van ʼn ondersoek na bewerings dat Phakeng en haar raadsvoorsitter, Babalwa Nhonyama, direkteure van die universiteit en die senaat mislei het oor die werklike rede waarom prof. Lis Lange, viserektor van onderrig en leer, in Mei verlede jaar met onmiddellike inwerkingtreding bedank het.

Oudregter Lex Mpati is in November verlede jaar aangestel om die ondersoek te lei.

Benewens dít hang daar al jare lank ʼn wolk van onstabiele en onstuimige bestuur oor die universiteit en Phakeng.

In 2019 is daar ʼn verslag deur die UK se voormalige ombudsman, Zetu Makamandela-Mguqulwa, by die universiteitsraad ingedien waarin aangevoer word dat verskeie mense beweer dat hulle deur Phakeng geboelie, ondermyn, berispe, stilgemaak en onbillik behandel is.

Daily Maverick berig dat Phakeng op die goue handdruk met die universiteitsraad ooreengekom het om skorsing vry te spring. Haar professorskap by die onderwysdepartement sal op 28 Februarie beëindig word.

Ingevolge die vrygewige pakket sal Phakeng ʼn 12-maande-uitbetaling van haar jaarlikse salaris van R4 184 616 ontvang, bykomend tot ʼn uitbetaling van R8 369 232.

Haar afhanklikes sal ook lewenslange afslag op hul studiekursusse by die universiteit geniet, asook lewenslange mediesefondsdekking.

Volgens Daily Maverick sal Phakeng met die ondertekening van die ooreenkoms haar reg verbeur om regstappe van enige aard teen die universiteit in te stel.

Dit is nog nie duidelik wie Phakeng se plaasvervanger gaan wees nie.

Die DA het Donderdag gesê hy hoop Phakeng se uittrede lei tot stabiliteit by die universiteit, maar dat dit kommerwekkend is dat die universiteitsraad die ooreenkoms met haar aangegaan het voor Mpati se ondersoek afgehandel is.

Dit blyk wel dat die ondersoek steeds sal voortgaan, net met ʼn aangepaste omvang.

“Ons hoop die ondersoek sal lig werp op waarom die verslag deur die voormalige ombudsman rakende aantygings van ʼn geboeliery oënskynlik nie in aanmerking geneem is nie,” het Chantel King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, gesê.

“Onstabiele bestuur, soos nou al jare lank die geval by die UK is, skep nie ruimtes wat bevorderlik is vir uitnemendheid nie. Die ontwrigtings is nadelig vir studente, personeel en die universiteit se aansien.

“Suid-Afrika se instellings vir hoër onderwys is ongelukkig dikwels die enigste hoop wat jongmense op ekonomiese vryheid het. Stabiliteit by een van die land se voorste universiteite is van sleutelbelang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Helgard ·

Hoe in die lewe kry jy sulke bedrae vir oneerlikheid? Iewers verstaan ek nie iets nie!!

Sandra ·

ek wil ook daai job hê, sit en lyk mooi, doen niks en skep emmers vol goud. wat het sy gedoen om dit te verdien?

Diets ·

Hoekom word daar altyd so goedgunstig met korruptes omgegaan? Is hulle bang daar word weer ‘n raskaart gespeel?

Vrystaat2109 ·

In die werklike lewe word jy “gefire” vir swak diens, in die anc wereld word jy beloon.
Kyk maar hoeveel geskorste kaders loop vir jare rond met volle betaling. Wat is die leuse “saam vat ons die land vorentoe” afgrond toe na bankrotskap. Viva ANC!!!

annie ·

Die antie wat by John wil oorvat en Phakeng, is hul familie? Net gewonder.

pieter ·

as ek by my werk iets soortgelyks verkeerd doen – dan word ek sumier afgedank, sonder enige voordele

TO ·

Jinne dis wonderlik, hoe minder effektief jy is hoe groter die beloning, en dis die norm in sa, van die president tot die straatveer

Hennie ·

Swak bestuur word beloon met R12 000 000.00? Absurde land waarin ons bly. Skop haar uit!

Republikein in die Wes Kaap ·

NWU gaan haar seker nou aanstel om transformasie te dryf.

Magda ·

So hoe meer KORRUPTE en ONBEVOEGDE jy is, hoe meer geld ,goue handdruk, kry jy, skaam Jo kaapstad. Wat n teleurstelling is Julle NI nou NI, gedink kaapstad is Di stad wat korrupsie tot op Di been oopvleg. BITTER TELEURGESTELD IN JULLE. SHAME ON YOU. KRY SOVEEL GELD OM SKORSING TE VOORKOM, WAT IS FOUT MET VANDAG SE MENSE. IS DAAR NI MEER EEN PLEK WAAR DAAR NI KORRUPTE GEMORS WERK NI.

Nico ·

Is sy werklik geregtig op hierdie bedrag geld, hoelank was sy rektor gewees wat aan gestel is deur die reg stellende aksies.

JohanR ·

Hoe word iemand R12.5 betaal. Ek het 40 jaar gewerk, en het nou genoeg geld in my pensione om my tot by 83 te hou. Soe as iemand asseblief agter my kan kyk na 83 sal ek dit waardeer. Miskien kan ek ‘n miljoen by die wonderlike rektor kry? Nou sal die volgendde rektor aankom, ‘n jaar hou, opmors en R15 miljoen betaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.