GPF (letterlik) op ontsnapte tier se spoor

Sheba die tier. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Walkerville is letterlik op die spoor van ʼn tierwyfie wat die afgelope naweek van ʼn kleinhoewe in die Midvaal- plaaslike munisipaliteit aan die suide van Johannesburg ontsnap het.

Nadat vars spore Maandagmiddag op ʼn koppie in die omgewing aangetref is, hoop die GPF om die tier, genaamd Sheba, binnekort lewend aan te keer.

“Dit is goeie nuus dat ons haar spore gekry het, want dit wys dat sy steeds in die omgewing is,” het Gresham Mandy, ʼn lid van die GPF, aan Maroela Media gesê.

“Die spore help ons ook om ons pogings op ʼn sekere soekradius te fokus.”

Terwyl die GPF spook om Sheba met behulp van hommeltuie en voete op die grond op te spoor, is lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ook intussen ontbied om bystand te lewer.

“Die SAPD bring saam met hulle kundige spoorsnyers om die tier op ʼn veilige manier te vang. Ons hoop om haar te verdoof en dan veilig te hervestig.”

Volgens Mandy het Sheba Vrydagaand daarin geslaag om te ontsnap nadat die heining om haar aanhoudingsgebied geknip is. Sedertdien het sy sowel mens as dier aangeval en soms vir dood agtergelaat.

Spanne spook om die tier op te spoor. (Foto: Verskaf)

“Nadat sy ontsnap het, is sy eers na ʼn naburige eiendom, waar sy ʼn damhert doodgemaak het. Toe het sy ʼn hond verskeur voordat sy ʼn man aangeval het,” sê hy.

“Die man het gelukkig nie noodlottige beserings opgedoen nie omdat die gemeenskap vinnig tot sy redding gekom het. Hy is na ʼn hospitaal geneem en behandel.”

Sheba is Sondag om 04:00 weer na die gebied waar sy die man aangeval het en het nog ʼn hond hier aangeval. Die hond het erge beserings opgedoen en die Dierebeskermingvereniging (DBV) was genoop om die dier van kant te maak.

“Sy het ook ʼn vark in die gebied doodgemaak, maar dit nie geëet nie. Dit wys vir ons dat sy gewillig is om enigiets dood te maak wat haar bedreig en dat sy nie net doodmaak om haarself te voed nie,” sê Mandy.

Die GPF het inwoners in en om die munisipaliteit gemaan om liefs nie die tier te nader nie, sou sy opgemerk word.

“Sy is gevaarlik en sal enigiemand sonder huiwering aanval. Bly net weg en los dit vir die kenners om haar na veiligheid te bring.”

Indien Sheba wel gewaar word, kan lede van die GPF by 082 559 4158 en 073 170 4402 gekontak word.

Die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws sê tiere, wat nie eie aan Suid-Afrika is nie, word op grootskaal mee geteel in die land. Dit is grotendeels vir die wettige en onwettige kommersiële handel in die diere.

Dit is nog onbekend waar Sheba hervestig sal word indien sy gevang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ansie ·

Waarom word mense toegelaat om sulke wilde diere privaat te besit en waarom dink hulle dis ‘n goeie idee? Dis gek!

Nettie ·

Sjoe, maar sy is pragtig. Ek hoop hulle kry haar gou, voor nog iemand of ‘n dier onnodig seer of doodgemaak word. En ek hoop die man herstel vinnig en goed van sy trauma en beserings! Dis wonderlik dat die gemeenskap hom so vinnig kon help, dankie Vader daarvoor.

Henri ·

Wie se tier was, of is, Sheba en hoekom is die heining geknip?

ronel ·

Dit is algemeen dat drade tydens krag onderbrekings geknip word vir die doel van vee diefstal en inbrake,.. duidelik het die persoon nie besef daar is meer as beeste en bokke op die plaas nie

Marcello ·

Ek verstaan nie hoekom jy vra : Hoekom is die heining geknip nie,, natuurlik is dit deur kwaaddoeners wat moontlik wou inbreek waar die Tier naby is.

Lurock ·

Ek wonder hoe ons as mens sal voel om opgesluit te wees. Miskien is ons, mat al die sekuriteit by ons huise. Laat my dink aan “Planet of the apes”.

Gerra ·

Mag hulle Sheba tog net nie van kant maak, wanneer hulle haar opspoor.
Sy volg net haar natuurlike aard.
Simpatie aan die wat beseer is of troeteldiere verloor het.

Ann ·

Sjoe, sy is regtig baie mooi. Ek hoop sy word hervestig in ‘n gebied wat vir haar is!

Hasie ·

Wat het die ” eienaar ” van die tier gedink ? Natuurlik sal die tier van kant gemaak moet word. Sy sal net weer ontsnap of weer dood maak want dit is haar natuur .Wat eet tiere ? Die mense voer hul dooie verotte vleis. Dit is nie hul dieet nie Nee wat daardie tier is beter af dood as weer in swak omstandighede in klein spasie aangehou te word.

Sharmane ·

Weereens n bewys dat sulke diere in die wild hoor nie by mense op plase of plotte nie. Mense leer net nooit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.