Graskop onder beleg; ingryping nóú nodig

Inwoners het verlede Dinsdag die polisiestasie se hek met ‘n ketting en slot gesluit (Foto: Graskop Socialmedia/Facebook)

“Misdadigers is op die oog af besig om beheer oor plattelandse dorpe te neem omdat hulle nie meer respek of vrees vir die polisie het nie. Hulle is ook bewus van die feit dat die hulpbronne in kleiner dorpe ontoereikend is.”

Só sê dr. Johan Burger, ʼn onafhanklike misdaadkenner en navorser, ná ’n waaghalsige aanval deur ’n groep rowers verlede Sondag op Graskop in die Laeveld. Die dorp word glo al die afgelope twee jaar deur misdadigers geteister.

Die dorp was die Sondag (30 April) onder beleg van ’n bende van minstens 13 swaar gewapende aanvallers wat in die vroeë oggendure alle toegangsroetes na die dorp versper en skote in die strate afgevuur het. Dít terwyl plaaslike polisiebeamptes luidens berigte in die plaaslike polisiestasie geskuil het en eers heelwat later hul verskyning op die toneel gemaak het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die rowers op verskeie winkels op die dorp toegeslaan en onder meer kluise met plofstof oopgeskiet.

Sommige keelvol inwoners het twee dae later self die plaaslike polisiestasie se hek met ’n ketting en slot gesluit en die stasiebevelvoerder se kop geëis. Die polisie ondersoek tans dié voorval en volgens Mohlala kan inwoners aangekeer en vervolg word omdat hul optrede “onwettig” was.

Linda Grimbeek, hoof van die Kruger-Laeveld‑sakekamer, sê die stap is gedoen uit suiwer desperaatheid en frustrasie omdat die polisie tot dusver nog niks kon doen om die bendes wat inwoners se lewens en sakeondernemings bedreig, vas te vat nie.

“Inwoners is raadop oor die polisie se onvermoë om hierdie bendes te stuit wat die dorp al vir twee jaar in ’n wurggreep het,” sê Grimbeek.

Burger sê dit is onbegryplik en onaanvaarbaar dat daar vir só lank nie aandag aan die bedreiging gegee is nie.

Hy sê die blaam kan moontlik voor die bevelvoerder of die provinsiale kommissaris se deur gelê word.

“Óf die provinsiale kommissaris is nooit van die situasie ingelig nie, óf sy is ingelig maar het niks aan die saak gedoen nie. Die provinsiale kommissaris het meer toegang tot spesialiseenhede en kon ingegryp het.”

Grimbeek sê die rooftogte in Laeveldse dorpe is weens onwettige mynbou- en stropingbedrywighede in die gebied.

Tekort aan hulpbronne

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Die polisie op die platteland het eenvoudig nie genoeg hulpbronne nie omdat daar oor die jare op plattelandse dorpe nie so ʼn groot behoefte vir dieselfde hoëdigtheidspolisiëring as in stedelike gebiede was nie, sê Burger.

“Wat misdaad betref, was plattelandse gebiede in die verlede stiller en rustiger as stede. Dit is egter nie meer die geval nie. Die afgelope ruk is al hoe meer plattelandse polisiestasies deur rowers vir vuurwapens geteiken – wat duidelik is, is dat die rowers nie vrees of respek vir die polisie het nie.”

Burger meen die situasie in die platteland moet gefokusde aandag van die topbestuur van die polisie kry.

Buiten die tekort aan hulpbronne, is daar ook ’n tekort aan vuurwapens onder beamptes op die platteland en daar is kommer oor die gehalte van die beamptes, veral bevelvoerders en senior beamptes. Boonop dra te min polisiebeamptes by tot die geweldig onrusbarende gebrek aan polisiëring in gemeenskappe, sê Burger.

“Polisiebeamptes op die platteland en stede kry almal dieselfde opleiding. Die probleem kom daarby dat die plattelandse polisie nie geredelik toegang tot bykomende hulpbronne en mannekrag het nie – soos die ontplooiing van spesialiseenhede.”

Oor die kwessie van private misdaadbekamping en of gemeenskapslede die polisie se funksie kan oorneem, sê Raymond Hohls, operasionele bestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, dat die gemeenskap die polisie se hulp tog nodig het omdat gewone inwoners en selfs buurtwagte nie die magte of regte van polisiebeamptes het nie.

“Gemeenskapslede en buurtwagte kan wel help om die gemeenskap te beveilig en op taktiese vlak die polisie by te staan,” sê Hohls.

Inwoners gefrustreerd

Burger sê die polisie kan in wetgewing redes vind om teen die inwoners op te tree, maar volgens hom gaan dit nie die groter probleem in die gemeenskap oplos nie.

“Die inwoners het alle reg om gefrustreerd te voel, want hulle is aan misdaadsindikate uitgelewer, met die polisie wat die eerste linie van verdediging is, maar nie eers in die hitte van die stryd uit die blokke gekom het nie,” sê hy.

“Die polisie moet eerder dieper kyk en bepaal waarom die inwoners só opgetree het en dié frustrasies pak. Hulle moet gesprekke met die gemeenskap voer oor wat nodig is om weer wet en orde te herstel.”

Hy waarsku dat mense nie onwettig moet optree in pogings om die polisie tot optrede te dwing nie.

“Dit gaan ook nie die probleem oplos nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit gaan konflik veroorsaak die sa polisie is useless en die mense gaan hulle dorpe terugvat ongeag die nagevolge of dreigemente van die useless polisie bestuur.

DJ ·

Die polisie gaan eerder agter die sagte teikens (die hek toesluiters) as om die bendes te trotseer waar hulle dalk kan seerkry.

Frikkels ·

Hulle moet tog pasop dat hulle nie maar seerkry deur jag te maak op onskuldige mense nie. Mens kan ook net soveel verdra!

Schalk ·

Net nog ń vlak van verval. Die maalgat van verwoesting suig alle infrastrukture in wat eens die pilare van ń werkende en gesonde been van veiligheid en bestendigheid was.

Elmarie ·

Nou wil hul inwoners aankeer en vervolg omdat hul onwettig opgetree het! Hoe ironies? Die wat roof en onwettig optree kan maar aangaan en dis REG?

Henker ·

Ja wat n klug ne!
Grootbek om die onskuldiges en ongewapende aan te keer maar te piepi bang om die regte kriminele tot boek te bring. Polisie kruip eerder onder hulle tafels weg as om die weerlose te help. Sit n groter slot aan daai ketting. Gooi weg die sleutel – Graskop is beter af sonder hulle elkgeval

agnes ·

Nou wat en hoe wil en kan Hulle die probleme oplos? Ons is dankbaar dat die inwoners Hulle kant bring en optree teen die skermutselings. Word hoog tyd dat die skelms vas gevat word

Saartjievandiebosveld ·

Dis Baie moeilik om die wat roof aan te keer…dis Baie makliker om die gefrustreerde burger aan te keer.
Ek dink ek sou ook nie Soos ‘n Superman teen 13 AKA 47 gewapende rowers wou optree nie….wat kan ‘n polisieman nou teen hulle doen…sê maar net.

ES ·

Ja Cherokee… daai sê maar net frustreer my ook – ek is iemand wat glo dat as jy jou opinie gee, en jy “sê maar net” aan die einde, dan is jy te bang om by jou mening te staan.

John ·

Dit gaan alles oor die opleiding wat jy gehad het en kennis van jou werk. Ek het die voorreg gehad om vanaf 1995 by JHB se Highway Patrol te werk waar ons opleiding ontvang het van van die beste reaksie lede in die polisie. Dit was ons werk om met sulke misdadigers slaags te taak. In die 10 jaar wat ek daar gewerk het, het ons ,met genade van bo, nie een lid in ñ geveg met misdadigers verloor nie. Ons kan ongelukkig nie dieselfde van die bendes sê nie. Dit gaan alles oor die wil om die werk te d

piket ·

Jy’s reg. Dis vir sommiges onmoontlik om skuldiges aan te keer.
AGV Hierdie onmoontlik heid is dit vandag 13, volgende week 43,
en die week Daarop 93 rowers almal tot die tande toe bewapen, en voila!

Henker ·

Rowers gaan weer toeslaan. Hulle het nou gesien van watse plastiek is Graskop SAPS gemaak, so dit gaan hulle geensins ontmoedig om kwaad aan te vang nie.. inteendeel gaan hulle net aanhits en n “kick” gee.
RIP Suid Afrika

John ·

Nou het ek alles gehoor. Die rowers blok die hele dorp af, maak vir ure net wat hulle wil in die dorp en daar word niks gesê dat die polisie nie eers ñ poging aanwend om hulle te gaan arresteer of te verjaag nie. Dit is veel makliker om ongewapende gemeenskaps lede, wat moeg is vir die misdaad, te gaan arresteer. Kom ek waarborg jou, hulle gaan nog versterkings soos spesialis eenhede, ook stuur on die gemeenskaps lede te arresteer.

Johann ·

Maak net seker MADHATTER kry genoeg TV lugtyd, dan is hy en sy konfooi daar.

Frikkels ·

Ja né! Nou moet die wetsgehoorsames wat moeg is vir die lamsakkige polisie ondersoek word,m maar die misdadigers wat die dorp onder beleg hou loop vry rond. Hoe siek kan ñ bedeling nou eintlik wees en tot op watter vlak gaan ons korrupte regering nog daal. Jammerlike sotte!

Johan ·

Nou waar is die wapenwet om ons te beskerm…o ja, dit is net daar om ons te ontwapen. Raak ontslae van die wapenwet, sodat ons onself kan beakerm!

Charmain ·

Daardie argief foto spreek boekdele: n toonbeeld van fiks & paraat (NOT)

Rose ·

Gee ons die reg om onself te beskerm, dan sal misdadigers nie so astrant wees nie.

Koen ·

En as jy een van hulle gedood? Almal vra vir die doodstraf. Wat dink jy dan gaan gebeur?

ES ·

Tipies… hulle sal nie die bendes aanvat nie maar hulle is vinnig om gewone landsburgers te vervolg. Bring die kommando’s terug – maar nee die ANC wil ons landsburgers uitlewer aan misdaad sodat hulle in bewind kan bly.

Hulle moet net onthou – as al die belastingbetalers deur misdaad uitgewis word of vlug na ander lande, dan gaan hul beursie opdroog. Die weduwee se kruik is amper droog…

Eugene ·

Stuur die 3000 lede wat loop en chips vreet in Gauteng Graskop toe met hul nuwe karre!!! Hulle is mos die eenheid wat sulke gebeure kan stop?????????? OF NIE ha ha ha.

De Villiers ·

Ek dink dit is hoogtyd vir vigilante groepe om op die been gebring te word.

Iets soos straf kommandos wat hierdie misdadigers aanvat en tot orde bring.

So kan ons nie aangaan nie!

Nico ·

Nou word van die militere magte na die DRK gestuur om te help, die president stel nie belang wat in sy eie land aangaan nie so ook die polisie, ek vra bring terug die kommando”s wat weg gevat is deur huidige regering.

Faraway ·

Sou die antwoord nie wees . . . . om n taakmag te stig van MANNE wat soos in flieks spesifiek uitgesoek word om met vol toegeruste toerusting en voertuie na gebiede gestuur word TOT hulle die boewe gevang of gedood het. Ons almal het die skop skiet en dinges flieks gekyk (soos die A TEAM) en daars vele ander en stel n gespesialiseerde groep saam wat vrees inboesem en nie gaan stop tot laaste een van n bende gevang is nie, daarna beweeg hulle aan na volgende geval

Wondermaarnet ·

By ons gaan dit net so en Malmbesbury se polisie het elke verskoning denkbaar hoekom hulle nie kan uitkom na ons dorpie toe nie. Hulle weet van die ongerymdhede en waar als plaasvind en doen NIKS.

Wonder ·

Kyk om Polisie te wees moet mens ook MURG in jou bene he en ook nie n bang haar op jou kol nie dit vat n yster om n polisieman/vrou te wees,vandag het ons chinchillas…

My siening ·

Sit sommer ‘n wheel lock vir Cele se voertuig ook aan! As die land wetteloos is hoe kan jul die wat die polisie se hek gesluit het aankla, want daar is geen wette oor behalwe in ‘n boek wat die Cele verloor het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.