Gratis naskoolse onderwys is nie oordeelkundig nie

Argieffoto (Foto; Free-Photos/Pixabay)

Al spog die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, daarmee dat gratis naskoolse onderwys reeds ‘n werklikheid is in Suid-Afrika, beskou die VF Plus dit nie as oordeelkundig nie.

Die minister het by ‘n bekendstelling in Pretoria van die departement se gereedheid vir die 2020 akademiese jaar, bekend gemaak dat alle studente uit arm- en werkersklashuishoudings wat vir hul studierigtings kwalifiseer, se koste deur die staat gedra word. Dit geld nie alleen klasgelde nie, maar ook losies, vervoer en algemene uitgawes, soos toepaslik.

“Terwyl die VF Plus die waarde van naskoolse onderwys besef, glo die party nie dat gratis naskoolse onderwys oordeelkundig is nie,” het dr. Wynand Boshoff, woordvoerder van hoër onderwys van die VF Plus, gesê. “Die VF Plus besef dit sal moeilik wees om die terugbetaling van studielenings van hierdie omvang af te dwing, maar glo nogtans nie dat iets wat gratis aangebied word, deur die ontvanger na waarde geskat word nie.”

Die party beskou verpligte internskappe as ‘n gepaste manier om ‘n teenprestasie van studente te verlang, maar ook as ‘n geleentheid vir afgestudeerdes om ervaring op te bou en ‘n loopbaan te begin.

Blade Nzimande (Foto: ANA/Jacques Naude)

“Die VF Plus is ook bekommerd oor die omvang van finansiële hulp wat die staat op homself neem. Dit is tekenend van die land se ekonomiese verval dat die privaat sektor nie meer genoeg vertroue het om beurse en lenings vir verdienstelike studente beskikbaar te stel nie,” het Boshoff bygevoeg. “Dit is boonop ‘n vraag of die staat die vermoë het om vraag en aanbod in die arbeidsmark so goed te bestuur as werkgewers en banke wat onderskeidelik beurse en lenings beskikbaar stel.

“Ironies genoeg is dit reeds die staat se inmenging in die ekonomie deur die afdwing van transformasie wat sakevertroue verswak. Dit noodsaak die staat om skoolverlaters se studies te finansier, maar die middelklas word, tipies sosialisties, verswak. Hierdie groep verdien te veel om vir gratis onderwys te kwalifiseer, vind dit moeilik om studielenings van banke te verkry en verdien te min om dit uit hul eie sakke te betaal. Dit beteken dat kinders van studente wat nou met staatshulp studeer, waarskynlik in die onbenydenswaardige posisie van die sogenaamde verlore middel sal wees.”

Boshoff het bygevoeg sy party beskou die toewyding en harde werk van duisende amptenare in die departement van hoër onderwys en opleiding as lofwaardig, maar vrees dat die goeie gevolge daarvan op die lange duur deur die sosialistiese grondslag waarop gebou word, ongedaan gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Die Vryheidsfront se opsomming is in die kol. Die universiteite en die arbeidswêreld sal hierdie toestroming nie kan hanteer nie… Dit sal lei tot werklike en gewaande griewe met gepaardgaande wanordelikheid. Die meeste studente is bly oor die ruim beurse, maar nie dankbaar nie.

Martin ·

Volgens wet moet almal skool gaan tot ouderdom 16 ( dit is gr 10 of voorheen St 8) Sal eerder se dit moet gratis wees want jy MOET. Enige verdere studies is jou eie keuse en daarvoor moet jy betaal voor. Wat jy op Varsity leer gebruik jy om later vir jou n inkomste te gennireer. Alles wat jy leer om geld mee te maak moet jy betaal voor.

Pierre ·

Ek sal dink maak eerder skool verniet. Hoeveel begaafde kinders los skool omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Die huidige lot wat nou verniet naskoolse onderwys kry hoort nie eers daar nie. Is net daar vir verniet verblyf, tydverdryf en geldjie wat hy huistoe stuur. Lekker S.A.

Feite ·

Dit gaan nie vir sosialiste oor bekostigbaarheid of kwaliteit nie, dit gaan oor populisme en verswelging deur getalle vir gelykheid en ondersteuning wat daaruit voortspruit by die stembus. Soos wat die ANC meer en meer nasionaliseer, so brei die ANC sy magsbasis wyer en wyer uit. Nie ANC beleid nie, maar die grondwet en wetgewing moet die vryemark kan beskerm. Soos wat opposisiepartye die ANC toelaat om te nasionaliseer, so sal die vryemark geredelik begin taan!

Gemaskerde Sopbeen ·

R160 000,00 vir ‘n Gr12 sertifikaat wat NIKS werd is nie………en dan betaal NSFAS vir jou graad studies, wat jy nie kan voltooi nie, want die skoolopvoeding wat jy gekry het het NIKS gedoen om jou voor te berei vir Universiteit nie. By die skool was jy in klein getalle klaskamer opset, waar die juffrou jou met ‘n lepel gevoer en op die kop gekap het dat jy moet sluk……….want al wat die skool wil sien is 100% slaagsyfer. By die universiteit stap jy in ‘n lokaal in met 300 studente, en jy is ‘n nommer want die dosent ken nie jou naam nie, en gee ook nie eintlik om nie………en daar val jy uit die bus uit. Skole moet nie net spog met 100% slaagsyfer nie…….hulle moet begin spog met hoeveel van hulle matrikulante hulle graad kususse slaag……….want ek wil my kind in so ‘n skool sien!!

Enna Redelinghuys ·

NSFAS betaal vir daardie einste skoliere wat reeds gratis skoolonderrig gekry het, om weer, die akademiese ekwivalente van Gr 12, by TVET kolleges (ou tegniese kolleges) te behaal, maar hierdie keer met ‘n kwalifikasie wat hulle ‘n vaardigheid ook leer. Vlak 2 tot 4 is soos Gr10 tot 12, maar ‘n baie beter opleiding, met tyd in werkwinkels. Ek is verbonde aan so ‘n kollege en die meeste aansoeke by ons is van matrieks wat óf gedruip het óf irrelevante skoolvakke gehad het. My punt, ons die belastingbetalers betaal dubbel sodat geweldig baie skoliere hulle senior sekondêre fase twee keer voltooi. Al verskil, die kolleges word deur dept hoër onderwys bestuur.

John ·

… onthou ons beweeg na Utopia. Hou net moed… en bek. In Utopia gaan elke goeie kommunis-sosialis-kader-ANC-er, Sassa-ser en NSFAS-ser die vrugte van sy/haar ideologie se woke-toi-toi-ery pluk: Maak ogies toe en wens en dit is… is… Ag nee, kom nou!

@John ·

Soos jy sê, dis wensdekery. Dit is tragies as jy nie weet dat jy nie weet nie. Soos die muis nie begryp waarom die kaas verniet is voor dit te laat is nie, so begryp die sosialiste ook nie….

Freddie ·

Jy is in die kol Martin. Die ANC/SAKP sê dit self in hul Nasionaal Demokratiese Rewolusie dokument, net soos die NVG daarin genoem word. Vreemd genoeg wyk hulle daarvan af en stel gratis tersiêre onderwys is vir sekere groepe. Daarby word die studierigtings wat gevolg word ook bevraagteken indien die kool die sous werd is.

Ceci ·

Na die Unisa debakel het statistiek vetoon dat slegs ongeveer 30% NSFAS studente uiteindelik n graad verwerf. Die res het net die geld gemors en niks bereik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.