Groblersdal-moord: Weduwee bly eers in aanhouding

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou Simone. (Foto: Facebook)

Die vermoorde Raymond Papapavlou se weduwee sal nog minstens twee aande in aanhouding moet bly.

Simone Papapavlou (26) se borgtogaansoek is Maandag in die landdroshof op Groblersdal, Limpopo, tot Woensdag uitgestel. Die landdros was weens persoonlike redes uitstedig.

Simone het vanoggend vlugtig saam met haar medebeskuldigde, Patricia Ray‑Lee Smith, in die hof verskyn voordat sy na die aanhoudingselle begelei is. Smith (23) is tans uit op borgtog en moet weer Woensdag saam met Simone in die beskuldigdebank inskuif.

Die vroue word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Maroela Media het vroeër berig die ondersoekbeampte in die saak, AO Debbie van Zyl, het verlede week tydens Simone se borgtogaansoek getuig die twee vriendinne wou Papapavlou “uithaal” omdat hy na bewering in die pad van hul liefdesverhouding was.

Papapavlou is op 4 Oktober in die egpaar se plaashuis geskiet. Hy het op ʼn bed in die egpaar se slaapkamer gelê en slaap terwyl Simone glo in die sitkamer televisie gekyk het.

Smith en Papapavlou in die beskuldigdebank van die Groblersdal-landdroshof in Limpopo. (Foto: Tania Heyns)

Sonja Weideman, die vroue se regsverteenwoordiger, het egter tydens kruisondervraging gesê die motief dat die twee vriendinne “vryelik in ʼn romantiese verhouding” wou wees, dra nie gewig nie aangesien die vroue en Papapavlou al drie kwansuis saam in ʼn seksuele verhouding betrokke was.

Daar word beweer dat Smith en Simone glo al in 2019 aan Papapavlou se moord begin beplan het, sowat ʼn jaar ná Simone en Papapavlou getrou het. Daar was ook sowat vyf maande voor sy moord ’n aanslag op Papapavlou lewe toe gif na bewering op sy braaibroodjie gegooi is.

Volgens Van Zyl kan geld ook nie as motief vir die moord uitgeskakel word nie. Papapavlou het voor sy dood twee lewensversekeringspolisse uitgeneem en dit aan Simone as begunstigde uitgemaak.

Sy ontken egter haar betrokkenheid by die moord.

Simone staan voorlopig tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling.

Smith staan op haar beurt nog tereg op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Misky ·

Hou haar sommer daar. Laat sy solank aan die roetine en kos gewoond raak, want sy gaan lank daar wees

Jolandé ·

Genade toggie, hoekom nie net die man skei nie? Of was daar by die lus nog gierigheid na geld?!

SjN ·

Hul albei se lewens weggegooi, so jonk, hoop hul boet vir hul dade.

melaney ·

Poplap sal later besef dit was nie die moeite werd gewees nie. Sy het haar vingers gebrand.

Ilze ·

Geen borg. Hulle het iemand se seun, broer koelbloedig vermoor..

Niklaas ·

Om jou jong dame lewe so op te mors , met moord weens verskeie motiewe soos ‘n ander vrou en ook twee polis uitbetalings , is beslis nie baie slim nie.

Keith ·

” … al drie kwansuis in ‘n seksuele verhouding betrokke was” . Seker onder die invloed van seks, booze en ruk ‘n rol .

Kathleen ·

Die Bybel sê vir jou : jy mag nie begeer nie , jy mag nie moord pleeg nie , jy mag nie valse getuienis gee nie , jy mag ook nie egbreuk pleeg nie . Mev Papapavlou is reeds skuldig daaraan dat sy al 4 daardie gebooies verontagsaam het . Sit Sussies , skaam julle .

Charl ·

Sit julle koelbloedige goed ! As jou hormone jou vir die verkeerde redes pla moet jy maar die slae vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.