Groen lig! Tshwane kan twee kragstasies uitverhuur

Die Rooiwal-kragstasie soos gesien van die R101 (Foto: By JMK, eie werk via Wikimedia Commons)

Die Tshwane-metroraad het vandeesweek die tweede sogenaamde Rooiwal-verslag goedgekeur. Die metro kan dus nou daarmee voortgaan om die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasie uit te verhuur ingevolge regulasie 35 van die Munisipale Bateoordrag-regulasies.

Cilliers Brink, Tshwane-burgemeester, sê die goedkeuring van die tweede verslag is een van ses stappe om dié twee kragstasies weer aan die gang te kry.

“Dit is ʼn groot mylpaal om Tshwane nader aan energie-onafhanklikheid te kry en die stabilisering van elektrisiteitsvoorsiening aan gemeenskappe te bestendig,” sê die burgemeester in reaksie op die goedkeuring van die tweede verslag.

Volgens Brink het die metro gedurende die proses van openbare deelname ʼn oorweldigende positiewe reaksie ontvang “wat daarop dui dat ons inwoners verstaan dat ons drastiese stappe moet doen om beurtkrag te beëindig vir ʼn energieveilige toekoms.

“Tshwane-inwoners moet trots wees op hierdie progressiewe stap, want elke keer dat hoër stadiums van beurtkrag ons tref, vernietig dit ons infrastruktuur, lei dit tot langdurige onderbrekings en frustrasie, en skep dit geleenthede vir kabeldiefstal.

“Dit is hoekom die projek om in ʼn ander rigting te beweeg so belangrik vir ons toekoms is,” verduidelik die burgemeester.

Die Stad Tshwane werk as deel van sy meesterenergieplan daaraan om oor die volgende drie jaar minstens 1 000 MW alternatiewe energie te bekom. Die metro beoog ook om die kwessie met onafhanklike kragprodusente te bespreek en geleenthede vir alternatiewe energieproduksie te ondersoek.

Brink sê die metroraad is tot dusver tevrede met die deursigtige wyse waarop die verhuringsproses van die kragstasies ontvou het.

Hy het egter inwoners die versekering gegee dat geen energieverskaffer as deel van die uitverhuring van die kragstasies bevoordeel sal word nie en dat die verhuringsproses op “ʼn deursigtige, mededingende en regverdige wyse” bestuur word.

ʼn Professionele transaksionele adviesspan sal egter “gegewe die omvang van die transaksie” aangestel word “om maksimum doeltreffendheid te verseker”, verduidelik Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cassie Carstens ·

Gelukwense aan Mnr Brink en sy raad wat nou werklik leiding neem. Alles kan nie in een dag herstel word wat die ANC afgebreek het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.