
Die departement van gesondheid beskryf die goedkeuring van die CoronaVac-entstof as ’n “keerpunt” te midde van toenemende infeksiegetalle. (Foto: Joel Saget/AFP)
Die departement van gesondheid en die Chinese ambassade in Suid-Afrika het die goedkeuring van die dubbeldosis-CoronaVac-entstof deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) verwelkom.
Dié entstof word deur die Chinese maatskappy Sinovac Life Sciences Co vervaardig en is vir die immunisering van mense tussen 18 en 59 jaar bestem. Sahpra het die toediening daarvan in Suid-Afrika met sekere vereistes goedgekeur.
Sahpra sê die goedkeuring van die entstof is gegrond op die veiligheids-, gehalte- en doeltreffendheidsdata wat tussen 22 Maart en 22 Junie 2021 deur Curanto Pharma aan Sahpra verskaf is.
Hoewel Sahpra dié data as aanvaarbaar beskou, word daar van die aansoeker vereis om die finale uitslae van deurlopende kliniese studie by Sahpra in te dien. Ingevolge die voorwaardes vereis Sahpra ook dat gereelde veiligheidsbywerkings in ooreenstemming met Sahpra se riglyne ingedien word.
Luidens Sahpra se verklaring is die mees algemene newe-effekte van dié entstof pyn waar die inenting toegedien is, hoofpyn, moegheid, spierpyn, diarree en naarheid.
Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het dié aankondiging as ’n “keerpunt” vir broodnodige verligting in die deurlopende inwerkingstelling van Suid-Afrika se inentingsprogram beskryf.
“Dit sal die regering in staat stel om meer entstowwe te midde van toenemende infeksiegetalle te bekom.”
Die departement sê meer inligting oor dié entstof sal later bekendgemaak word sodra ’n formele verslag van Sahpra ontvang is.
Die Chinese ambassade het in ’n verklaring gesê dat die goedkeuring van die entstof ’n belangrike stap in China en Suid-Afrika se samewerking met betrekking tot Covid-19-entstowwe is.
“Ons sal voortdurend bystand aan Suid-Afrika bied in ’n poging om te verseker dat dié entstowwe vanuit China so gou moontlik aan die land gelewer word sodat hulle dié dodelike virus kan beveg en uiteindelik oorkom.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
26 Kommentare
Made in China….!!!
Die eff jubel
Ja koop van die kommunis meester
Waat die virus vanaf kom, wie se daai entstof is betroubaar
Volgens inligting op die web is diè entstof sowat 50% effektief. Is dit waar? Kry ons dit verniet, diè dat ons maar gryp wat verbykom? Hoe werk dit teen die jongste virus-variant? Malema is bly, asof na hom geluister is, maar word hy siek nà die ent sal die rooipet die piep kry.