Grondrestitusie verbreek armoedesiklus

(Foto: Maroela Media)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê die gevolgtrekkings wat gemaak is in ʼn studie oor die grondrestitusieprogram dui op die doeltreffendheid van die program om armoede te verlig en om swart Suid-Afrikaners – veral vroue en jongmense – te help om bates te versamel.

Min. Thoko Didiza het die navorsingsbevindings vandeesweek bekend gemaak. Die studie het die evaluasie van die sosio-ekonomiese impak van die restitusieprogram ontleed en is in samewerking met die Suid-Afrikaanse arbeid-en-ontwikkelingsnavorsingseenheid by die Universiteit van Kaapstad en die International Initiative for Impact Evaluation onderneem. Dit is in 2018 al van stapel gestuur.

In die geheel is onderhoude in 2 664 huishoudings en 3 378 individue as deel van die studie gedoen.

Dit het aangedui dat grondonteiening nie net die ekonomiese welvaart van die vervreemdes raak nie, maar ook families wat geraak word, laat versplinter. “Dit lei tot die fragmentasie van families en die wegkalwing van hul identiteit en gevolglik ʼn aftakeling in maatskaplike samehorigheid,” sê Didiza.

“Dit verstrengel families en individue in armoedelokvalle.”

Die studie het ook bevind onteiening stel die “sielkundige welstand en hoop” van mense en hul nageslagte in die gedrang.

“Grondvervreemding verminder indirek die kognitiewe en besluitnemingsvermoë van die vervreemdes op lang termyn.”

Begrip van die restitusieprogram moet lei tot “grondgeregtigheid en om die siklus van armoede” te verbreek.

Bevindings

Die kwessies wat in die studie oorweeg is, sluit in ekonomiese toevoeging, sielkundige uitwerking, kognitiewe ontwikkeling en maatskaplike opheffing. Die studie het die verskil tussen diegene wat by restitusie gebaat het, en diegene wat nie daarby gebaat het nie, ontleed.

Wat betref ekonomiese welstand het begunstigdes van die restitusieprogram se ekonomiese mag met 16% (per persoon per maand) toegeneem. In die geval van groot eise was die syfer so hoog soos 36%.

Die skikking van restitusie-eise het die risiko van depressie ook aansienlik verminder, het die navorsers bevind en die vlak van trauma het met 15% verminder wanneer ʼn eis afgehandel is.

Wanneer na die kognitiewe aspek gekyk word, het restitusie tot verbeterde geheue gelei. “Die uitslae wys dat grondrestitusie die geestelike skade wat die apartheidsregering aan mense en families berokken het, kan omkeer,” sê Didiza.

“Rakende maatskaplike welstand wys die uitslae van die studie dat die vermoë om kulturele praktyke te beoefen en geestelik met voorvaders ʼn band te vorm, een van die sleutelvoordele van die restitusieprogram is.”

Didiza sê grondonteiening het nie net swart mense se ekonomiese welvaart beperk nie, maar ook families opgebreek, gemeenskappe vervreem en diepgewortelde trauma en verarming geslagte lank tot gevolg gehad.

“Dit is geen verrassing dat die grondkwessie, veral restitusie, ʼn sleutelkwessie vir Suid-Afrika met die aanvang van demokrasie was nie.”

Wetgewing oor grondregte en restitusie was gevolglik van die eerste wat die demokraties verkose regering deurgevoer het. “Dit is gedoen met die bewustelike erkenning dat grondgeregtigheid deurslaggewend is en die herstel van swart mense se waardigheid en vryheid sentraal is vir ʼn demokratiese opbrengs.”

In sommige gevalle is grondeise deur geldelike vergoeding geskik, en in ander gevalle deur die oordrag van grond.

Só lyk syfers

Sedert die aanvang van die grondrestitusieprogram (tussen 1995 en 2023) is 83 067 grondeise geskik. Dit is sowat 94% van sogenaamde ou-orde-eise.

Nagenoeg 2,3 miljoen mense het by restitusie gebaat, terwyl R25 miljard bestee is aan die aankoop en oordrag van 3,9 miljoen ha grond.

“ʼn Bykomende R22,5 miljard is bestee aan finansiële vergoeding aan dié begunstigdes wat dit so verkies het. Tussen 2019 en 2023 is altesame 1 494 eise geskik, hoofsaaklik gedryf deur die departement se ingryping om die skikking van eise te versnel,” sê Didiza.

Die minister sê die studie gaan help om grondrestitusie te verskerp.

“Die bevindings is ook belangrik deurdat dit kwantitatiewe bewyse oor die doeltreffendheid van die grondrestitusieprogram om armoedeverligting onder swart mense in die land, veral vroue en jongmense, te doen en hulle te help om bates bymekaar te maak.”

Die studie het ook gehelp om die onderliggende faktore van restitusieprogramme en die uitwerking daarvan op begunstigdes te begryp.

Gee rigting aan beleid

“Die studiebevindings help ons om te verstaan dat grondrestitusie nie net oor finansiële en ekonomiese geregtigheid gaan nie, maar ook oor sielkundige en maatskaplike herstel; dit is ʼn les wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die sukses of mislukkings van grondrestitusieprogramme evalueer,” sê Didiza.

Benewens ondersteuning nadat ʼn eis geskik is, asook vaardigheidsopleiding wat aan begunstigdes gegee word, is daar ook ʼn bykomende behoefte aan gemeenskapsintegrasieprogramme, sê die minister.

“Ons moet die bevinding van die studie vier en verwelkom as ʼn belangrike mylpaal in die wêreldwye uitdaging om herstel vir ontheemdes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Glo nie ‘n word wat enige ANC te se het, en nog minder Thoko Dodiza!

Anel ·

Nou vir hoeveel eeue wil hulle nog aangaan daarmee? Wat se rykdom het die wat grond gekry het om te wys? Net om by hul voorvadergeeste te wees! Behoede ons! O, laat ek eerder stil bly.

Gaitsigubib ·

Jy sien Anel as jy mooi lees, dit werk want dit laat hulle beter voel. Hulle onteien jou mos (sonder vergoeding), so daar is n gevoel wat hulle daaruit put, dan hoef dit nie andersins n sukses te wees nie. Maak ek sin?

Daisy ·

Ons plaas is in 2007 uitgekoop deur die Staat. Die eerste ding wat die siel wat daar gesit is om kastig die plek op te pas, was daar is nie water in die kraan nie.
Met totale genot het ek hom verwys na die Eskom boks – “jy sien daardie boks – jy bel die nommer daarop, hulle se vir jou hoeveel jy moet betaal, dan het jy water”.
Ons was ‘n ondersteunende gemeenskap – ons het met hoenders en groete geboer, ander met varke, ander het melkbeeste gehad. ‘n Klomp van ons plase – in totaal 20 – is uitgekoop. Onnodig om te se – vandag is daar niks oor nie. Omtrent tien van die huise het al afgebrand want die boere het nie hulle vuur-veg toerusting gelos nie en daar is nie water nie, want Eskom word nie betaal nie. Kry vir julle!!!
Hulle wil he, hulle kry en hulle doen niks daarmee nie.

Bennie ·

Die ANC se hele ekonomiese beleid is gebou op leuens en bedrog. Hulle sal engiets doen sodat hulle by die trog kan bly vreet. En Thoko Didisa is die laaste een wat weet van plase en boerdery en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan. Alles word nou gedoen om die stemme te verkry wat hulle nie verdien nie. Die ANC se rakleeftyd is verby. Tyd om van hulle ontslae te raak.

Daisy ·

Verdere kommentaar na my kommentaar bo – ek het na ‘n lugfoto van ons plaas gaan kyk.
Hartseer verby; die huis is gedeeltelik afgebrand, die store en hoenderhokke is grootliks verwoes, die swembad is ‘n vrot gat, Eskom pale is weg, daar is omtrent nie meer bome oor nie. Daar is dus geen water en krag nie.
Dis werklik hartseer – ons het dit van ‘n kaal stuk grond opgebou.
Maar volgens die artikel verbeter dit sekeres se lewens om grond op ‘n skinkbord te kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.