Groot inentingsveldtog teen masels

Die departement van gesondheid het ‘n groot veldtog van stapel gestuur om kinders teen masels te laat inent. (Foto: Maroela Media)

Die departement van gesondheid het ʼn beroep op ouers en versorgers gedoen om hul kinders teen veral masels en die menslike papillomavirus (HPV) in te ent.

Die HPV-entstof kan meisies later in hul lewens teen servikskanker help beskerm.

Die departement, in samewerking met sy eweknieë by basiese onderwys en maatskaplike ontwikkeling, het ʼn landwye kinderinentingsveldtog van stapel gestuur sodat kinders by skole, kleuterskole en openbare gesondheidsinstellings ingeënt kan word.

Skole het die afgelope ruk toestemmingsbriewe uitgestuur sodat ouers toestemming kan gee dat gesondheidsorgwerkers hul kinders mag inent.

“Geen leerder sal ingeënt word tot sy of haar ouers ʼn toestemmingsbrief onderteken het nie en ons doen ʼn ernstige beroep op ouers om toestemming te gee,” lui ʼn verklaring van die departement.

Sedert Oktober verlede jaar is 506 laboratoriumbevestigde maselgevalle opgeteken. Masels is ʼn hoogs aansteeklike, maar voorkombare siekte wat deur ʼn virus versprei.

Die meeste slagoffers is jong kinders, tussen een jaar en 15 jaar oud, en die veldtog is spesifiek gemik op die inenting van kinders tussen ses maande en 15 jaar oud.

“Kinders wat nie ingeënt is nie, loop die grootste gevaar om masels op te doen en klasmaats of ander lede van die huishouding aan te steek.”

Uitbreking

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se jongste syfers, is altesame 3 694 laboratoriumtoetse gedoen sedert die aanvanklike maselgevalle aangemeld is. Hiervan was 15% positief.

In Gauteng is 12 nuwe gevalle bevestig, die grootste getal van al die provinsies waar die uitbreking voortduur. In provinsies waar ʼn uitbreking verklaar is, is die meeste pasiënte tussen vyf en nege jaar oud (41%), gevolg deur kinders tussen een en vier jaar oud (26%) en diegene tussen 10 en 14 jaar oud (18%).

Die meeste gevalle (72%) word by primêre klinieke aangemeld en die grootste getal pasiënte by hospitale was kinders jonger as een (53%).

“Ons doen ʼn beroep op mense om te verseker dat hul kinders teen masels ingeënt is,” het Nios ook benadruk.

Uitbrekings is tot dusver in Limpopo (190 gevalle), Mpumalanga (94 gevalle), Noordwes (169 gevalle), Gauteng (61 gevalle) en die Vrystaat (190 gevalle) verklaar.

Die getal maselgevalle neem boonop voortdurend toe in bloedmonsters en keeldeppers wat vir toetse na Nios gestuur word en al hoe meer monsters word getoets.

Die instituut het ook sy hernieude steun aan die departement van gesondheid se inentingsveldtog toegesê. “Die voorkoming en beheer van maseluitbrekings kan net deur inenting gedoen word. Versorgers en ouers word gevra om hul kinders se inentingskaarte te hersien en te verseker dat hulle die maselentstof ontvang het.”

Nios het gesondheidswerkers landwyd ook gevra om ekstra waaksaam vir maselgevalle te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Erik ·

Dis vir my hartseer dat mense nie hul kinders inent nie. Het al te veel gesien hoeveel skade dit doen. Hoekom iemand nie hul kind wil beskerm teen ernstige siektes en selfs die dood nie gaan my verstand te bowe. Die newe effekte weeg nie op teenoor die voordele nie. Vra enige dokter in Suid-Afrika.

Nie Verbaas ·

Wel ek het as kind masels gehad en hier is ek nog steeds.

Erik ·

Nie Verbaas, jy mis die punt. As jy dit kan voorkom, spaar jy mos jou kind die siekwees? Of dink jy dis goed vir ‘n kind om siek te wees?

Nie Verbaas ·

Glad nie, stem 100% saam. Die probleem is net dat mens nie meer weet wat in jou ingespuit word nie. Betroubare produkte, geen probleem.

VaalDonkie ·

As jy masels as kind gehad het, is jy minder geneig om later in jou lewe sommige kankers op te doen.

As jou kind nie aan wanvoeding ly nie, is daar geen rede om oor masel bekommerd te wees nie.

Casper ·

Ek glo nie ouers laat hulle babas die nodige inentings kry nie.My kinders het al hulle spuite gehad. Ek glo verantwoordelike ouers laat dit nog doen.

Miskruier ·

Ek was n verantwoordelike ouer. Het die MMR uit my eie sak aangekoop, het wakker geword die laaste drie jaar, sal nooit weer iemand aanmoedig om vaksiene te vat nie.

Miskruier ·

Die entstof ” kan” meisies later in hul lewe beskerm. KAN is nie SAL nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.