Groot opknappingswerk in Krugerwildtuin vorder goed

Sonsopkoms in die Krugerwildtuin. (Foto: SANParke)

Groot opknappingswerk wat in Mei verlede jaar in die Krugerwildtuin onderneem is om verskeie toerismefasiliteite in dié park te verbeter of te herstel, is goed op dreef.

Maroela Media het vroeër berig dat altesame R370 miljoen deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake toegeken is vir die opknapping van die park oor die volgende drie jaar.

SANParke het Donderdag bevestig dat aansienlike vordering reeds met verskeie projekte gemaak is, en dat die park daartoe verbind is om by ooreengekome sperdatums te hou.

Isaac Phaahla, die wildtuin se woordvoerder, sê die herbouing van die afgebrande Letaba-winkel is nou 60% voltooi en sal na verwagting teen Julie vanjaar weer kan begin sake doen.

Herstelwerk aan die Onder-Sabie-vulstasie is 90% afgehandel en die stasie sal na verwagting volgende maand weer open. Die Letaba-winkel en -heining, asook die Onder-Sabie-vulstasie is in 2021 in brande verwoes.

Die winkel in die Letaba-ruskamp is destyds bykans heeltemal verwoes. (Foto: SANParke)

Fase een van die Phalaborwa-wildlewe-aktiwiteitskern is 65% klaar en sal na verwagting teen einde Julie afgehandel wees. Verder is daar reeds met die opknapping van personeelkwartiere by die Skukuza-, Laer Sabie-, Satara-, Phabeni K9- en Olifantsrus-kamp begin.

Phaahla sê die opknapping van 20 personeelhuise by Skukuza is ook amper klaar. Die oprigting van die dak van die Shingwedzi-hoofgebou is, ondanks verskeie uitdagings en vertragings, nou 40% klaar en sal na verwagting ook teen einde Julie voltooi wees. Dié gebou, asook die Skukuza- en Olifantsrus-kamp, is vroeër ernstig deur termiete geraak.

Bouwerk aan die ontwikkeling by die Shangoni-hek, wat ʼn piekniekplek, kampeer- en ontvangsterrein insluit, is sowat 65% klaar. Herstelwerk en opknappings aan die uitkykdek by die Skukuza-kamp, wat ook deur termiete geraak is, is reeds afgehandel en oopgestel.

Phaahla sê verskeie toeriste-eenhede by die Krokodilbrug-ruskamp en die Biyamiti- en Bateleur-boskamp is ook afgehandel. Die herstel van lekkende en beskadigde grasdakke by Shingwedzi en die Mopani-ruskampe is onderweg.

Kitsvloede het vroeër vanjaar groot skade aan paaie en infrastruktuur aangerig. (Foto: Krugerwildtuin)

Verder sal die oprigting en opknapping van luukse tente by Punda Maria en die Sweni-stapkamp in Junie vanjaar afskop. Hierdie projekte is volgens Phaahla vertraag weens ontwerpkwessies en die laat aanstelling van kontrakteurs.

Die bestuur kyk ook tans na die aanstelling van kontrakteurs om grondpaaie op te knap.

“Die parkbestuur beskou die instandhouding van infrastruktuur as ’n belangrike aspek om besoekers te lok en tevrede te stel. Gaste word dus versoek om enige probleme by die kampbestuur aan te meld sodat dit sonder verdere vertragings opgeklaar kan word,” het Phaahla gesê.

Opknapping van luukse tente by Punda Maria en die Sweni-stapkamp sal in Junie vanjaar afskop. (Foto: Wikimedia)

Oscar Mthimkhulu, die park se bestuurshoof, sê die wildtuin is daartoe verbind om by die ooreengekome spertye van die opknappingsprojekte te hou.

“Tot dusver is ons op koers om die datums te haal. Al wat ons bietjie ontwrig het, was die oorstromings in Februarie en vroeg in Maart,” het Mthimkhulu gesê.

“Die meeste grondpaaie wat beskadig en tydelik gesluit is, is nou weer oopgestel. Sommige paaie is egter nog gesluit. Die hoofpad tussen Skukuza en Laer-Sabie gaan ’n langtermynprojek wees weens die groot skade wat aangerig is. Ons is ook verheug dat die opknappingsprojek altesame 300 nuwe werksgeleenthede in hierdie moeilike tye geskep het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Byna ongeloofwaardig. Dit kom voor asof die Kruger Widtuin gelee is in n hoogs ontwikkelde land. Baie ver van SA.

Kuver ·

En intussen verval die akkomodasie in meeste kampe steeds en is dit n absuliete ramp, maar hulle bou nuwe kampe en verblyf op plekke wat natuurlik moet bly soos die rivier beddings in die Sabie rivier!! Uiters pateties van die klomp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.