Groot planne om meesterskantoor te red

(Foto: GroundUP)

Deur Ella Morisson, GroundUp

Die minister van justisie, Ronald Lamola, het ʼn reddingsplan vir die meesterskantoor goedgekeur.

Groot chaos heers al geruime tyd by dié kantoor en het volgens regsgeleerdes nou ʼn krisispunt bereik.

Die meesterskantoor is onder meer verantwoordelik vir die administrasie van boedels, die stig en likwidasie van trusts, en die bestuur van die voogdyfonds om die belange van minderjariges te beskerm, asook dié van mense wat wetlik onbevoeg geag word om hul eie sake te administreer.

Die goedgekeurde reddingsplan het ten doel om agterstande in te haal, digitalisering te verbeter, kapasiteit te verhoog, standaardisering en deursigtigheid te verseker en om korrupsie in kantore landwyd stop te sit.

Die plan beloof ook om die “betrokkenheid van die openbare gemeenskap en regsgemeenskap te bevorder”.

John Jeffrey, adjunkminister van justisie, het reeds op 16 November met verskeie belanghebbendes vergader, waaronder die Prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA), wat baie krities oor die meesterskantoor is, om die plan deur te voer.

Volgens Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement, sal die plan egter nie algemeen bekend gemaak word nie.

Die reddingsplan moet voorts die aantal sake wat in vier maande afgehandel moet word van 65% (die huidige jaarlikse teiken) tot 80% verhoog.

Die plan behels glo ook dat die departement inligtingskiosks op die been bring sodat almal toegang tot die aanlyn boedelsregistrasiestelsel kan hê.

Gevaarligte flikker

Die LSSA maak al sedert Maart 2020 alarm oor toestande in die meesterskantoor en het al verskeie vergaderings met die minister versoek.

Phiri sê die Covid-19-pandemie het bygedra tot die langdurige gebrek aan kommunikasie, maar die adjunkminister is egter onlangs aangewys om ʼn oorsigrol by die meesterskantoor te vervul.

Luidens die departement se jaarverslae is aanstellings- en magtigingsbriewe in 75% van gevalle binne sy 14 dae spertyd uitgereik.

Die LSSA bevraagteken egter die departement se vermoë om akkuraat verslag te doen oor sy eie omkeertye. Die organisasie meen dié syfers is in skrille kontras met die ervarings van die 38 000 prokureurs en kandidaatsprokureurs wat hy verteenwoordig. Inteendeel, lang vertragings is tans die norm.

Phiri sê egter die syfers in die jaarverslae word deur die ouditeur-generaal geoudit.

Hussan Goga, verbonde aan die LSSA, het aan GroundUp gesê die LSSA het gevra om die onverwerkte data waarop hierdie 75%-syfer gegrond is, te ontleed. Die versoek is van die hand gewys en die LSSA is aangesê om ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) in te dien.

Phiri voer aan dit is “ongelukkig hoe die regering werk” en dat enige versoek vir interne dokumente deur die Paia-proses moet gaan.

Die LSSA het ook ʼn probleem met die omkeertye vir die uitreiking van onder meer eksekuteursbriewe, wat van 15 tot 21 dae verleng is. Goga glo dit is bloot ʼn taktiek van die departement om omkeerstatistieke beter te laat lyk.

Statistieke in dié verband laat desondanks steeds wenkbroue lig aangesien dit volgens die LSSA strydig is met lede van die publiek en regslui se ervaring.

Volgens die LSSA neem dit meestal ses maande of langer om ʼn eksekuteursbrief te kry.

“Lede van die publiek, onder wie weeskinders en weduwees, kan gevolglik nie toegang tot geld kry waarop hulle geregtig is wanneer hulle dit die nodigste het nie. Dit is ʼn duidelike skending van hul menseregte,” het die LSSA gesê.

Goga het tydens ʼn parlementêre inligtingsessie gesê dat likwidasie- en distribusierekeninge wat al vyf jaar terug ingedien is, nog steeds nie ondersoek is nie.

Hy meen die meesterskantoor se selfvermelde omkeertye is onakkuraat omdat baie hofrolle oorlaai is met mandamus-aansoeke teen dié kantoor. (ʼn Hof reik ʼn mandamus uit om ʼn openbare instelling te dwing om sy werk te doen in die lig van onredelike vertragings.)

Francois Bouwer, uitvoerende hoof van die Gautengse Prokureursvereniging wat aan die hoof van die meesterskantoorkomitee staan, sê mandamus-aansoeke het al “amper protokol” geword in sy firma se handelinge met die meesterskantoor.

Goga glo die grootste bydraer tot die mislukkings in dienslewering by die meesterskantoor is die voortgesette gebruik van die poskantoor as die enigste medium van kommunikasie.

Dié dokumente bereik gewoonlik eers ná drie maande hul bestemming, indien dit enigsins daar uitkom. Verder bly telefoonoproepe en e-posse na die meesterskantoor gewoonlik onbeantwoord.

Volgens Phiri sal die aanlyn registrasiestelsel nou ʼn verskil maak en baie hande-arbeid onder personeel verlig.

“Ons kan daardie personeel nou na ander pligte herlei.”

Dié aanlyn registrasiestelsel sal na verwagting in Oktober in vyf provinsies van stapel gestuur word.

Bouwer is egter nie oortuig dat dit ʼn oplossing bied nie.

“Tans is die verstekposisie van handmatige indiening doeltreffender as die nuwe stelsel.”

Goga is eweneens skepties oor die nuwe boedelportaal. Hy sê dié stelsel laat mense slegs toe om ʼn eksekuteurs- of magtigingsbrief te ontvang. Dit is slegs die eerste van ongeveer 10 stappe in die afsluiting van ʼn boedel.

Volgens Goga is hierdie eerste stap boonop ook nie ten volle gedigitaliseer nie.

Verder het ʼn onlangse hofmeestersvoorskrif gelas dat geldige testamente en toepaslike dokumente steeds persoonlik by die meesterskantoor ingedien moet word.

Kwesbares versaak

Eksekuteursbriewe word vir boedels groter as R250 000 uitgereik.

Die meester kan ʼn verteenwoordiger aanstel om te verseker dat begunstigdes betaal word. In meer ingewikkelde boedels sal die meester ʼn eksekuteur (gewoonlik ʼn prokureur) van die boedel aanstel om die proses te administreer.

Magtigingsbriewe word uitgereik wanneer boedels van minder as R250 000 geregistreer word. Goga sê dit is waarskynlik die geval vir 85% van die boedels wat in die land geadministreer word en sluit die “kwesbaarste lede van ons samelewing” in.

Nadat ʼn magtigingsbrief uitgereik is (die eerste stap in die afsluiting van ʼn bestorwe boedel), is daar geen toesig deur die meester nie en “geen verdere opvolging om toe te sien dat begunstigdes wel alles ontvang het waarop hulle wetlik geregtig is nie”.

Die LSSA het aan die parlement voorgelê dat dit ʼn “absolute noodsaaklikheid” is dat ʼn eksekuteur aangestel word om elke boedel te beredder, ongeag die grootte.

Goga het aan GroundUp gesê die huidige proses maak die deur wawyd oop vir bedrog en wanbestuur.

Volgens Phiri is daar ʼn deurlopende ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid om die omvang van die probleem te bepaal. Hierdie ondersoek het in 2020 tot ʼn klopjag en die sluiting van al 15 meesterskantore in die land gelei.

Hy meen die nuwe aanlyn boedelstelsel sal ʼn “ouditspoor” laat vir elke magtigingsbrief wat uitgereik word. Die stelsel is ook aan dié van binnelandse sake gekoppel.

Goga sê egter hy het ernstige bedenkings oor “die integriteit van die data wat by binnelandse sake gestoor word”.

Volgens hom dui doodsertifikate wat deur binnelandse sake uitgereik word dikwels die huwelikstatus van die oorledene verkeerd aan. Dié sertifikate moet dan gewysig word, wat maande neem om af te handel.

Die stelsels by binnelandse sake is ook gedurig van lyn af wat tot verdere vertragings lei.

Onwettige direktiewe

Tydens ʼn vergadering wat in Julie 2021 met die kantoor van die hoofmeester belê is, het die LSSA ʼn konsultasieproses versoek voordat direktiewe uitgereik word.

Volgens Goga het die meesterskantoor daartoe ingestem, maar dit nie gedoen nie.

Goga het aan die parlement gesê dat die hoofmeester se direktiewe in sommige gevalle onwettig is.

Hy meen dit kan maklik voorkom word as die meesterskantoor met regspraktisyns beraadslaag, iets wat die reddingsplan beloof om te verbeter.

As voorbeeld het Goga verwys na ʼn direktief wat in 2017 uitgereik is wat vereis dat ʼn onafhanklike trustee “geen familieverwantskap of verbintenis, bloedverwant of ander, met enige van die bestaande of voorgestelde trustees, begunstigdes of stigter van die trust mag hê nie”.

“Die meester, wat ʼn funksionaris is, is nie by magte om so ʼn besluit te neem nie,” het Goga gesê.

“Dit is ʼn saak vir die wetgewer om oor te besluit en nie die hoofmeester nie. Dit het absolute chaos veroorsaak met die vervanging van trustees en die uitreiking van magtigingsbriewe.”

Goga sê ses jaar het intussen verloop sonder dat daar ooit ʼn hersiene direktief oor die kwessie uitgestuur is.

  • Die berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andries ·

Waarom kan die reddingsplan nie bekendgemaak word nie? Wat word weggesteek?
Voordat die meesterskantore reggemaak kan word ,moet daar deursigtigheid wees oor presies wat fout is. Die meesterskantoor personeel verdien uitstekende salarisse en byyvoordele – so die disfunsionele diens kan nie te wyte wees aan lae vergoeding nie.
Die hele proses moet geprivatiseer en kaders moet uitgeskop word.

Nommer 7 ·

Planne beteken niks as niemand die vermoe het om dit uit te voer nie!

Martie Smartie ·

Dis maar net nog ‘n gemors van die ANC regering. Onbevoegde kader aangestel as minister. Onbevoegde senior en junior amptenare. Viva ANC!

Bekkie ·

Pateties verby. Ek het 3 jaar gewag vir brief, toe ek in November vir 28ste keer weer vra daarna en iemand kry om te help, toe is die brief al in Augustus gedoen maar die vrou se ek moet prokureur kry!!!!!!!!!!! Hulle soek bribes

Ny ·

Of dit gaan realiseer, weet ek nie, maar mens kan wragtig nie so sukkel nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.