Groot planne vir Vrystaat-paaie

ʼn Vragmotor mis net-net ʼn groot slaggat buite Vredefort op die pad na Viljoenskroon. (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Oktober is vervoermaand en is oudergewoonte vandeesweek deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, in Pretoria van stapel gestuur.

William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het in ooreenstemming hiermee bekend gemaak dat dié departement R13 miljoen van sy eie geld en 40% van die staat se beregtigingstoelae sal aanwend om slaggate te vul.

TLU SA sê hy is verheug oor die nuus van die sowat 50 paaie in die Vrystaat wat veiliger gemaak gaan word.

“Dit is verblydend om te verneem dat Bulwane sy verantwoordelikheid teenoor die inwoners van die land as ʼn ernstige situasie aanvaar en positief daarop reageer,” sê Erika Helm, TLU SA: Plaaslike regering.

“Ek sal egter graag wou sien dat ander provinsies hierdie model van die Vrystaat volg en dieselfde onderneem. Tans skitter hulle in hul afwesigheid.

“Duisende menselewens is al op die land se paaie verloor en nie net in die Vrystaat nie.”

Sy het ʼn ernstige versoek aan Sanral gerig dat ander provinsies ook leiding neem met soortgelyke inisiatiewe. “Vir jare gaan die belastingbetalers onder swak onderhoud, afwesigheid van herstelwerk en voortdurende verskonings van tekortkominge en probleme gebuk. Dit terwyl die belastingbetaler deurlopend betaal vir dienste wat geensins gelewer word nie. Dit het tyd geword dat die regering sy mandaat opneem en na die inwoners van die land omsien wat vir die staatskas verantwoordelik is, waaruit die land se finansies gevoed word.”

Helm het ook gesê dit is belangrik dat daar nie net op Sanral-roetes gefokus moet word nie.

“Daar is ook behoeftes op die roetes wat onder die paaie-agentskap en openbare werke val waar die daadwerklike aksies wat langtermyn oplossings is, nog nie werklik geïmplementeer is nie.”

 

Wat van die Sanral-app?

Helm sê die bekendstelling van Sanral se slaggat-app is ook goeie nuus. Die app is ʼn jaar gelede vir Johannesburg bekendgestel en onlangs vir die hele Suid-Afrika beskikbaar gemaak.

“TLU SA is opgewonde oor die inisiatief om ʼn Sanral-slaggat-app beskikbaar te stel vir motoriste sodat die benadeelde padgebruiker sy stem kan laat hoor, maar dit is nodig vir die publiek om te weet wanneer alles in werking sal wees.

Sy het vir Maroela Media gesê dit is ʼn bron van kommer dat die stelsel nog nie ten volle werk nie en almal wat betrokke is nog nie opgelei is nie.

“Die stelsel is nog nie funksioneel nie. Dit wil sê jy kan die slaggate aanmeld, maar die inligting word nie na wense deur opgeleide persone opgevolg nie en dan staan die proses stil. Die agterstand word ook net al hoe groter en met die ongelooflike tempo waarteen die paaie agteruitgaan, gaan die situasie veel erger raak,” sê sy.

“Die vraag bly ook staan, hoeveel van die miljoene wat bewillig word, gaan deur korrupte tenderprosesse opgeslurp word, om net nog ʼn aanslag op die belastingkas te wees?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Koos 100 ·

Ok, hier is my 5 sent.
1. Planne is net planne. Groot verskil tussen sê en doen.
2. Daar lê ‘n verkiesing voor.
3. Hulle eie geld!!! Dis belasting geld!!!
4. Vir hoeveel jaar is niks gedoen aan paaie nie, dis hoekom die paaie so lyk.
5. Hoeveel van hierdie geld gaan verdwyn weens korupsie!

H.A. ·

Hou hulle maar dop met valk oë, hulle is besig met skelm planne om meer geld te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC is wêreldkampioene met planne maak. Maar daar eindig dit.

Marelize ·

Welgedaan !! Net ‘n jammerte ek bly nie in die Vrystaat nie. Hierdie jaar moes ek nou al 2 keer bande en “rims” vervang as gevolg van slaggate. Party van die gate is so groot my karretjie sal verdwyn in hulle.

PieterJ ·

Ai ai ai, altyd die wonderlikste planne, en dan ………… absoluut niks!!!

Di ·

Ja wel, ek glo nie ‘n woord hiervan nie! Enige iets wat uit ‘n ANC Kader se mond uitkom moet jy met ‘n knippie sout vat. Waarom nou skielik die gretigheid om die paaie reg te maak? Vir jare het als ten gronde gegaan NOU skielik DIE nuus. Defnitief iets agter hierdie storie.

SjN ·

Hoekom eers alles ten gronde gaan en uitmekaar val en dan probeer planne maak, dit is hoekom die anc rommelstatus met lof verdien.

Adriana ·

Haal sommer die groot trokke ook af van die pad, die N1 deur die Vrystaat, maak vir hul ñ alternatiewe roete, dan ssl ons ander pad verbuikers veiliger wees.

007 ·

Goed en wel, gebruik Sipho en sy span, wat nog nooit ‘n slaggat reg gemaak het nie. 40 mense op een site maar net 3 werk. Die res kry net geld want dis mos werk skepping . Maw die R20m word so verdeel, Ace kry sy 10%, die konsultant kry 20%, die tender ou kry 15%, die ou wat die tender toeken kry 15%, dan word daar ‘n nuwe bakkie en 3 kruiwans gekoop. Die ou by wie die materiaal gekoop word kry ‘n verdere 15%, dan word die salarisse betaal en daar bly slegs ‘n paar rand oor om die werklike werk te doen.

Pietertjie ·

Wie val nog vir hierdie twak? Hulle kan nie eens net die spoedgrens na ‘n veiliger vlak aanpas, en wat byna geen werk verg nie. Op daai paaie sal ‘n 5km/h beperking in elk geval ook nog nie veilig genoeg wees nie, want hulle sal dit nie kan toepas nie.

Papsak ·

Wel ek sien nog gee paaie wat reg gemaak is of slaggate wat toe gemaak is nie jy ry nog steeds of jy gedrink is so moet jy uit swaai vir gate in pad dit nooit so gelyk in ou SA nie patetiese ANC SLAGGATE

Lood ·

Daar is nie veel oor van die paaie en die Vrystaat nie. Op sommiges kan mens nie meer as so 70 km per uur ry nie want jy moet heeltyd uitswaai vir die gate in die pad. Ek hoop nie hierdie is weer net “verkiesingbeloftes” nie.

annie ·

Boere is opgewonde… Seker maar hoekom Boere nog boer; omdat hulle bly hoop en glo dat dinge beter sal word en aanhou kophou, want van die groot beloftes van die ANCeee kom net eee…e…e…

Hennie ·

Wat ‘n grap! Snaaks hoe hierdie kornuite begin “bou” aan die land so voor ‘n verkiesing… Dink hulle kan die burgers flous…

Boatsie ·

R13 miljoen.
Probeer weer.
Wat se magic trick het jul nou om slaggate reg te maak dat dit nie weer binne ‘n week flenters gery word nie.
Lig jul vet gatte en kom kyk tussen Hoopstad en Bothaville – R13 miljard gaan miskien daar help.
As die skouer vd pad al so is dat jy nie daar kan ry nie dan is die boer se pad op die wenakker seker die volgende opsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.