Groot stofwolk ná Cullinan-myngat beweeg

Die stofwolk ná die wand van die myngat geskuif het. (Foto: Facebook)

Inwoners van Cullinan, sowat 30 km oos van Pretoria, was bekommerd toe ʼn digte stofwolk oor dié myndorp trek, nadat ʼn gedeelte van die Cullinan-myngat oor die naweek geskuif het.

Adrian Roos, die DA se kiesafdelingleier in Cullinan, het aan Maroela Media gesê swaar weerstoestande oor die naweek het daartoe bygedra dat die wand van die myngat, wat in die buitewyke van die dorp geleë is, Saterdag aan die een kant geskuif het. Die wand het Maandag weer geskuif en ’n groot stofwolk veroorsaak.

‘n Voorstelling van waar die wand van die myngat geskuif het. (Foto: Petra Diamands/Facebook)

Maryna du Toit se skoonouers woon in ’n aftree-oord in die dorp en sy was dadelik bekommerd nadat hulle ’n geraas gehoor het, gevolg deur ’n stofwolk, vertel sy.

“Die geraas en stof kon kilometers ver gehoor en gesien word en het vandag eers gestop,” verduidelik Du Toit.

Volgens Roos het die beweging aan die suidwestelike deel van die myn plaasgevind – weg van die dorp se rigting.

“Alles is tans onder beheer,” het Roos verseker.

Die myn het sedertdien ook inwoners op Facebook gerusgestel. “Ons voorsien geen risiko vir die groter gemeenskap nie en al die nodige voorsorgmaatreëls is getref om werknemers te beskerm. Ons vra om verskoning vir enige ongerief rakende geraas en stof as gevolg van hierdie gebeurtenis.”

‘n Stofwolk trek oor huise in Cullinan. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet parys ·

Vat julle emmers en skep die diamante le nou daar rond.

wonder maar net ·

Met skuif… bedoel hulle eintlik die wand het INGEVAL?? Wande skuif mos nie vanself nie?? Ek sal nie daar bly nie… nie as wande so rond skuif nie..!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.