Groot vordering met water vir Hermanus, omstreke

‘n Inwoner van Kleinmond gaan haal drinkwater by ‘n tydelike waterpunt. (Foto: Facebook)

Die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap het reeds groot vordering gemaak om watervoorsiening na talle gebiede te herstel.

ʼn Woeste storm het verlede naweek groot skade aan onder meer die Palmietrivier-waterpompstasie aangerig en duisende inwoners sonder water gelaat. Spanne spook sedertdien om die waterinfrastruktuurnetwerk so gou moontlik te herstel.

Teen die naweek is die hooftoevoerpyp van die De Bos-dam Vrydagaand herstel.

Streng waterbeperkings geld steeds, maar water het Vrydag omstreeks 20:00 reeds na die Preekstoel-waterbehandelingsaanleg begin vloei.

Teen Saterdagoggend het die owerheid bevestig die stelsel werk en dat water gesuiwer word. Daar is reeds begin om die waternetwerk weer op te vul.

Duisende inwoners, onder meer van Hermanus, is na die stormskade sonder water gelaat. (Foto: Facebook)

“Dit kan egter geruime tyd duur omdat daar tans talle kilometer pyp is wat opgevul moet word voordat inwoners water in hul krane sal hê,” sê dr. Annelie Rabie, burgemeester, in ʼn verklaring van die Overstrand-munisipaliteit.

Spanne werk ook om stukkende verskaffingspypleidings in die rivier by Onrus te herstel sodat watertoevoer ook na dorpe wes van Hermanus herstel kan word.

Groot vordering is reeds gemaak om watertoevoer te herstel. (Foto: Facebook)

Plekke soos Onrus, Vermont en Hawston sal eers water hê wanneer hierdie werk afgehandel is.

“Hoewel ons verskaffing kon herstel, is dit net tydelik en groot werk moet nog gedoen word om die voorsieningspypleiding reg te maak,” sê Rabie.

Water kan in hierdie stadium troebel lyk en dit sal ʼn paar dae neem voor die situasie normaliseer.

“Inwoners word opnuut herinner dat waterbeperkings steeds geld en dat hulle water asseblief spaarsaam moet gebruik.”

Rabie het ook die spanne bedank wat die afgelope week onverpoos gewerk het om watertoevoer na inwoners te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.