Gru-ongeluk by Stellenbosch eis vyf mense

Die ongeluk het Vrydagaand (31 Maart 2023) plaasgevind. (Foto: Titanium Securitas/Facebook)

Vyf mense het Vrydagaand hul lewens verloor toe twee motors in ʼn botsing op die R304 by Stellenbosch betrokke was. Van die ses insittendes in die onderskeie motors het slegs een persoon die gru-ongeluk oorleef.

ʼn Saak van strafbare manslag word tans deur die polisie ondersoek.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê beamptes is kort ná 19:00 na die Koelenhofpad by Stellenbosch ontbied ná berigte dat twee motors in ʼn kop-teen-kop‑botsing betrokke was.

Die vier insittendes in die een motor, ʼn wit Volkswagen Polo, is op die toneel dood verklaar.

Die tweede motor, ʼn rooi Nissan Skyline, het twee insittendes gehad, van wie slegs een oorleef het.

“Die bestuurder van die Nissan was nog in die motor vasgekeer toe dit aan die brand geraak het en het in die brand omgekom,” sê hy.

Die enigste oorlewende is op die toneel behandel voordat sy na ʼn hospitaal geneem is.

Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch‑munisipaliteit, sê die munisipaliteit se verkeer- en brandweerdienste “was vinnig op die toneel en het die polisie en nooddienste gehelp om die toneel te beveilig en op te ruim, asook om met die verkeersvloei te help”.

Die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.