Gupta-besluit teken van SA se dalende aansien

(Argieffoto: Mahesh Salunke/Pixabay)

Action SA het die besluit van die regering om te appelleer teen ʼn besluit van ʼn Dubaise hof om nie die Gupta-broers Atul en Rajesh aan Suid-Afrika uit te lewer nie, verwelkom. Die party sê egter die besluit is ʼn aanduiding van die tanende internasionale aansien wat Suid-Afrika geniet.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag aangekondig dat die uitleweringsaansoek aan die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) van die hand gewys is. Die Dubaise hof het al vroeg in Februarie dié beslissing gemaak, maar volgens Lamola is Suid-Afrika eers ʼn dag gelede daaroor ingelig.

“Dit steun ActionSA se siening dat Suid-Afrika die respek van die internasionale gemeenskap verloor het,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA.

“Dit is uiters kommerwekkend dat Suid-Afrikaanse diplomate in die VAE – wat betaal word om die land se belange te bevorder – versuim het om die hofverrigtinge te volg, met hul VAE-eweknieë te praat en die Suid-Afrikaanse regering op hoogte van sake te hou.”

Hy sê Lamola en sy kollega by internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, het moeilike vrae om hieroor te beantwoord.

Volgens Mashaba is Suid-Afrika en die ANC se teenstrydige beleid oor internasionale betrekkinge bydraende faktore tot die VAE se versuim om die kwessie te hanteer met die erns wat dit verdien.

Die party wil ook steeds weet hoe die ANC-geleide regering toegelaat het, en moontlik gehelp het, dat die Gupta-familie Suid-Afrika verlaat toe bewerings oor hul betrokkenheid by staatskaping aanvanklik aan die lig gekom het.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste. (Foto: GCIS)

“Die twee Guptas word betrek by misdade wat die Suid-Afrikaanse regering meer as R250 miljard gekos het en selfs miljarde meer in verlore ekonomiese groei en werksverliese.”

Die DA het die VAE se besluit vroeër as ʼn nasionale verleentheid vir Suid-Afrika bestempel.

Suid-Afrika het in Julie verlede jaar die aansoek om uitlewering ingedien nadat die twee ʼn maand tevore in Dubai aangekeer is. Die inhegtenisneming volg op ʼn uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VAE.

Lamola het Vrydag gesê Denemarke het onlangs suksesvol ʼn soortgelyke aansoek ingedien.

Hy sê Suid-Afrika sal ook gesprekke voortsit om maniere te vind om vlakke van samewerking te verbeter sodat die integriteit van bilaterale verhoudings bewaar kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.