Gupta-redakteur ‘kry werksvisum binne een dag’

Voormalige redakteur van die ANN7-nuuskanaal, Rajesh Sundaram, getuig voor die Zondo-kommissie. (Foto: ANA)

Dit het net een enkele dag geneem vir die voormalige redakteur van die ANN7-nuuskanaal, Rajesh Sundaram, se werksvisum om deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Indië goedgekeur te word, het die kommissie van ondersoek na staatskaping Maandag gehoor.

Sundaram is Maandag na die getuiebank opgeroep om te getuig oor sy ervaring in Suid-Afrika nadat hy uitgesoek is in Indië om na Suid-Afrika te kom en die nou ontbinde nuuskanaal vir die omstrede Gupta-familie op die been te bring. Sundaram het in 2018 ʼn boek met die naam Indentured uitgegee waarin hy in detail uitbrei oor die werksverhouding tussen die voormalige pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie.

Die senior uitsaaijoernalis sê hy is in 2013 in sy tuisland deur die sakeman Laxmi Goel gewerf om ʼn twee jaar lange kontrak met Infinity Media vir die Guptas te teken. Goel se maatskappy, Essel Media, was in ʼn vennootskap met die Guptas se maatskappy.

Sundaram sê hy het ʼn internetsoektog gedoen en besef dit sal ʼn geruime tyd neem vir die Suid-Afrikaanse owerhede om vir hom ʼn werksvisum uit te reik. Daar is egter aan hom gesê hy hoef hom nie te bekommer nie, aangesien daar “’n reëling met die hoogste kantoor” in Suid-Afrika is.

Sy visum is binne ʼn dag deur die departement van binnelandse sake uitgereik, het hy aan die Zondo-kommissie gesê.

“Ek het dokumente aan Goel gegee, wat dit aan mnr. Chawla gegee het. Alles wat ek op die internet gelees het en die tyd wat dit sou neem om die visum te prosesseer, is omseil. Daar is nie ʼn onderhoud met my gevoer nie; ek is nie gevra om ambassade toe te gaan nie. My visum is binne ʼn dag uitgereik.”

Hy sê Goel het aan hom gesê die proses was “heeltemal wettig”.

Op 22 Mei 2013 het hy ʼn brief van Mkhuseleni Apleni, die destydse direkteur-generaal van binnelandse sake, ontvang om te bevestig hy het ʼn werksvisum vir Suid-Afrika.

Sundaram het getuig hy het in Junie in die land aangekom en is in die Guptas se gastehuis in Midrand gehuisves. Hy het die gastehuis beskryf as ʼn “arbeidskamp”. Daar het ses mense gewoon, maar daar was net drie slaapkamers. Een van die mense was ʼn Nepalese man wat aangestel was as skoonmaker en kok, het hy aan die kommissie gesê.

“Dit was ʼn skokkende omgewing. Die Nepalese man het met ʼn toeristevisum daar aangekom. Hy is in Suid-Afrika aangestel, maar sy salaris is nie hier betaal nie, wel in Indië. Hy het R300 per maand verdien en die geld is deur Goel in Indië gehou.”

Die direksie van Infinity Media het bestaan uit Goel, Atul Gupta, Zuma se seun Duduzane, voormalige besturende redakteur van die nou ontbinde Gupta-koerant, The New Age, Garry Naidoo, voormalige redakteur Moegsien Williams, voormalige media-eienaar en nou politikus Mzwanele Manyi, asook Zamaswazi Mandela, die kleindogter van wyle oudpres. Nelson Mandela.

Sundaram het gesê die Guptas wou vinnig wins maak en het hom en sy span onder druk geplaas om die nuuskanaal so gou moontlik op die been te bring sonder om die inhoud daarvan behoorlik te oorweeg. Hy sê hy is ná net vier maande uit Suid-Afrika weg.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

James ·

Wat op deesaarde gaan hier aan… hoeveel mense is hier wat net n dag gewag het. Die hell is los in die land!!!

Manie ·

Ek sal baie graag wil weet waarom nie een van die klomp wat soos kanaries sing by zondo self te voorskyn gekom het voor die kommissie aangestel het. Was daar nie n kommissie sou hulle heelwaarskynlik doodstil gebly het??

Dries du Toit ·

Wat my vreeslik pla is. Zondo word van al hierdie afgryslike misdade ingelig oor maande lank. Daar word geen vervolgings gedoen nie. Wanneer hy klaar is dan is daar derduisende wat vervolg moet word. Tensy hy n uitstekende geheue het gaan daar hordes getuienisse en bewyse net verlore gaan en hordes kriminele gaan nie vervolg word nie. Hierdie lyk vir my soos n enorme geld verkwisting

Arno Scheepers ·

Dries hierdie is net n ander vorm van werkskepping. Almal besig en met groot salarisse vir n tyd en daarna lag hulle lekker saam oor al die stories.

Gert van Wierdapark ·

Lyk my die Rajesh knaap het sommer gou agtergekom hy moet die pad vat terug Indie toe, anders sou hy ook sy naam moes “aanpas” na iets soos “Moeg-gekyk”, maar my geld kom nie. Miskien was Moegsien Williams se bydra iets wat hom van plan laat verander het.

jaco ·

hy doen nog aansoek vir n visum. 5 miljoen ander stap net eenvoudig oor die grense van SA en dan bly en bly en bly hulle maar nuut. en selfs met visum waarvoor lank gewag is, is dinge nie veel anders nie. sodra dit verval bly en bly en bly hulle ook maar.

Arno Scheepers ·

Nr 9, hoe durf jy die man so lank laat wag vir sy vision?
Een volle dag wat die man moes wag…..onaanvaarbaar zumpie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.